deur Francois Koegelenberg
Saterdagoggend.
Ek rol uit op my houtdek in Clifton, overlooking 4th beach. Life is good. My bruingebrande bors lyk soos Johnnie Weissmuller s’n in Tarzan.
’n Verkyker in die een en ’n glas Glenmorangie 21 in die ander loer ek oor die see. En af na die ikoniese strand. Februarie maand is beautiful want dis warm soos ’n alarm en die dônerse Valies en ander is nie hier nie.
Die parmantige bries blaas my kuif terug na die Berg toe en na die sluk Skotse water van die Lewe, kry laasgenoemde weer betekenis.
Dan fokus ek op haar. ’n Newbie. Nog nie gewaar nie. ’n Indringer voël of dalk iets skaars wat hoep-hoep deur jou gedagtes? Godin-like speel sy in die vlak yspiskoue branders. Sy lag. No doubt met ’n hees stem van al die tequilas of dalk die sigaar van een van daai wannabe clubs in Kloof?
Soos Bo of Halle of Urs swankle sy handdoek toe.
Jere.
Sy skud haar haarbos los en agter haar ore in. Dan smeer sy haar soos in die ou dae. Pizbuin.
Sy remind my, lookswise, aan Trish van Virginia in die Vrystaat. Trish het Jokkel geswot afgewissel met CSfookin V.
Trish wat op daai faithful aand gehyg het: “Dis soooooo verkeerd maar die Here weet dis soooooo lekker!”
Soos ’n nat kat draai sy om en trek haar bo-stuk uit. Die lifesavers, wat elke jaar die Bokke beat in touchies, lek hulle wit onderlippe af soos sirkus kamele.
Ek dink daaraan om af na haar te gaan en my voor te stel maar dis te ver. Die whizza te lekker.
My vrinne sou sulke dinge kwytraak in my posisie.
1. Sy sal ’n lang nag kort maak.
2. Sy sal bid vir die môreson.
3. Sy soek hom die dêng wat die kênners brêng en daais nie hom skoolbus nie.
4. As ek eers op daai nes sit, klim ek nie weer af nie.
6. Maak my joune!
Walgworse.
Sy blaai deur Reardon se Collected Ancient Greek Novels en ek reken sy swot by U.C.T. Literature.
Baie tyd dus op haar mooie hande. Sy swaai swetend om en vryf orals lotion in. Diep in. Die lyne van die bikini word gevolg en vir good measure die torings van Babylon.
Sy draai op haar plat magie en skop speels haar voete in die lug.
Hoe open jy die gambit?
Snert sal nie werk nie.
1. Do you come here often?
2. Did it hurt when you fell out of heaven?
3. If I I told you that you have a beautiful body would you hold it against me?
4. Let’s get you out of those wet clothes of yours?
Afgesaag.
Boers.
Nee. As ek haar net kan lok na my bungalow. Well hell, yes. Wine and dine. Burgundies en Dominican Republic cigars. Sade in die agtergrond. Die private chef maak mooi. Nie so mooi as wat ek vir haar gaan …
Iemand vat my stoel vas en sê: “Kom, kom Oom Fransie dis medisyne na middagete en voor jou slapie, jy lyk uitgeput en jy drink skelm. Nee, man wat gaan jou doggie sê? Sy turn 60 môre?
Siep sop braai boud! Jou nurse het gepraat! Kom ons stoot jou in!” Ek verbeel my sy prewel: “Djagse ou wit toppie.”
