Skaduwee jagter

Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za

Leesstoffie van ‘n Londen-toffie Hoofstuk 4

Ek het vandag my skaduwee gesien toe ek lunchtyd – sorry jannes, sorry mamma, sorry wêreld – na ‘n sigaret terug piekel werk toe. En toe stop ek daar in die middel van die ingangsportaal (en klangklang maak die automatiese deur terwyl hy besluit of ek kom of gaan) en swaai my arms rond en lig my voete op en lag vir my skaduwee. In my kop hoor ek hoe sê pappa: het jy dit, kry jy dit, of deel jy dit al uit?

En toe besef ek, soos wat ek Sondag in die half-uur van sonskyn besef het, dat dit die eerste keer in amper drie maande is wat ek die son of my skaduwee sien. Ek het dit nie eens agtergekom nie. Snaaks hoe jy partykeer nie die absense van ‘n ding mis voor jy hom weer het, sien of eet nie.

Julle sal tog nie weet waarvan ek praat nie, want in Suid-Afrika is daar selfs in die winter darem nou en dan ‘n sigbare ou sonnetjie. Maar vandag en Sondag het ek voorwaar besef hoekom ‘n mens so depressed raak hier in Engeland in die winter. Jy sien nooit maar nooit die son nie. Dis nie bewolk sodat jy dit sal agterkom nie en daar is heeldag (al 6 ure daarvan) ‘n tipe daglig, maar dis ‘n gedempte (gedompte verdomde) lig – soos in outydse black-en-white movies.

Lees die en wees jaloers omdat ek in Engeland sit terwyl julle vasgekeer is in die day-to-day slog van surviving (want in Engeland werk ons mos nie. Dis heeljaar Kersfees hier). Maar onthou dat julle almal 12 maande van die miserable jaar kan bank toe gaan om julle laaste sente te trek of terug huis toe moer na nog ‘n lang dag van siel verkoop en die son sal op julle skyn.

As jy in die middel van die winter 12-uur op ‘n Saterdag-oggend met ‘n hengse babbelas wakker raak lê daar ‘n streep sonlig oor jou bed en somehow maak dit dit alles die moeite werd.

skrywer: Dedri Strydom

Lewer kommentaar

Leave a Reply