´n Goeie boek kan jy duisend maal lees, die buiteblad kan verbleik en die blaaie kan verloor, maar die storie bly dieselfde. Jou liefde vir daardie boek is oneindig en jy wil die storie aanhou vertel. So was Hy. Hy was mý storieboek en ek gaan nou ons storie vertel.

Die somer van 1986 was ek veertien, bang en onseker. Ek het by sy huis aangekom met een tas en rooi verleë wange. Albei my ouers was ´n paar weke vroeër dood in ´n motorongeluk. Ek was na ´n plaas in die Klein Karoo gestuur om by Koos Pinnaar te bly, my oupa.

Ek was so bang, vreemd en verlore. Hy het my klein hand in syne gevat en my gelei tot by my kamer. Hy het duidelik moeite gedoen om my kamer vir my mooi te maak,maar ek was te hartgebroke om beïndruk te wees. Soos die nuwe jaar aangebreek het,het ek en my oupa nog steeds ´n formele verhouding gehad. Ek het baie aande myself aan die slaap gehuil. Ek het altyd nagmerries gehad oor my ouers en in ´n huilende histerie in Koos se arms wakker geskrik – altyd daar om my te troos.

In die volgende drie jaar het ons beste vriende geword. Ons het selfs eenkeer ´n kiekie van ons laat neem by ´n winkeltjie in die dorp. Ons was onafskeidbaar.

In 1989 het my oupa sy eerste beroerte gehad. Ek het die hospitaalsaal binne geloop. Sy hand liggies gevryf. Hy het sag gefluister:
“Ek dink hulle het my onderbroek gesteel,die blêrrie verpleegsters is so orig.”
Ek het gelag, my oupa die bul van ´n man. Ongelukkig was hy nie so gelukkig met sy tweede beroerte nie. Sy linkerkant verlam en die dowwe glans oor sy oë, het my hart laat krimp.

Sy spraak was nie te erg aangetas nie en sy brein was soos ´n masjien wat nooit wou ophou werk nie. Ons het gesels oor sý jong jare, wat een hartseer storie na ´n ander was. Ek het gedink hoe hartseer: ´n man wat geen liefde geken het nie. In 1990, toe ek agtien jaar oud en hy een-en-sewentig was het ek laatmiddag sy kamer binne gegaan. Voor my oë kon regestreer, het my hart reeds die realiteit besef. Ek het, asof in ´n droom langs sy stywe liggaam gaan lê. Sy hand in myne gevat – soos hy jare tevore met my gedoen het.

Daar was iets in sy toegevoude hand. Ek moes die trane uit my oë vee voor ek duidelik kon sien. “Ons kiekie!” het ek verbaas gesnik. Onder die beeld van oupa en kleindogter het hy in sy bewerige handskrif geskryf: “So, dan was dit dan nou die liefde.”

skrywer: Lynne Ruppersburg

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar