deur Elize Ehlers
Oumie en Stella sit onder ‘n lieflike groot wilgerboom en tee drink.
“Kindjie,” vra Oumie, “hoe lyk jy dan vandag so hartseer?”
“Ag, dis sommer niks nie, Oumie.”
Oumie kyk haar skepties aan. “Dit lyk beslis nie vir my na niks nie, Stella,” sê-vra Oumie.
Stella begin oor haar tiende verjaarsdagpartytjie te praat wat oor twee maande plaasvind. Sy hoop dat Oumie haar nie verder sal uitvra nie.
“Ek het nog nie ‘n rokkie vir die partytjie nie, Oumie.”
“My wêreld, Kindjie, dan gaan ek en jy môre-oggend stad toe. Sommer vir die hele week!”
Die week snel vinnig ten einde. Hulle inkopies en tasse is reeds in die motor se kattebak gelaai toe Stella skielik inmekaar sak.
“Stella .. Stellatjie!” roep Oumie benoud. “Wat is fout, Kindjie?” Stella kreun net van pyn.
Die chauffeur jaag met ‘n onbehoorlike spoed na die hospitaal se ongevalle afdeling. Sy word dadelik opgeneem; haar blindederm is op die punt om te bars. Die operasie is ‘n sukses en sy word sommer die volgende dag al ontslaan. Op pad huis toe wens Oumie dat die motor vlerke kon groei.
Oumie en Stella sit weer onder die groot wilgerboom en tee drink.
“Stella, ek wil nóú weet wat jou pla,” vra Oumie.
Sy begin snik. “Oumie, ek mis my mammie ongelóóflik baie! Dit sou só lekker gewees het as sy my partytjie kon bywoon.”
Oumie kyk Stella vreemd aan. “Kindjie, sit jy nou net doodstil hier, ek kom nou weer terug,” sê sy geheimsinnig. Sy glip by haar slaapkamer in en raak doenig met ‘n vreemde apparaat. Dan keer sy weer terug na Stella.
Na ‘n wyle voel Stella hoe sy skielik van die grond af gelig word. Sy kyk met groot oë op om iets, wat soos ‘n ruimteskip lyk, bo haar te sien sweef. Sy is lam van skrik!
“Vaarwel Stellatjie,” prewel Oumie.
Stella is aan boord van die ruimteskip: “Hoe … hoe … hoekom het jy my gevat?” vra Stella bewend van vrees.
“Jou ma was een van ons wat na die aarde gestuur is om menslike gedrag te bestudeer, maar sy het verlief geraak op jou pa en agter gebly. Jou pa is kort na jou geboorte oorlede. Sy het daarna teruggekeer na ons …
“Welkom, Stella,” sê haar ma met ’n glimlag. “Ek is so bly.
Stella is verskeur. Aan die een kant het sy uiteindelik haar ma gevind. Aan die ander kant is sy so lief vir haar Oumie.
Met ‘n swaar hart neem Stella na drie weke afskeid van haar ma en keer terug na haar Oumie toe.
Stella se groot dag breek aan.
“Stella,” sê Oumie. “Jy het so baie geskenke gekry, maar ek dink hierdie een gaan jy die meeste waardeer.”
Tot haar grootste verbasing en vreugde staan haar moeder in die deur. “Mamma!” roep sy uit. Sy spring met ‘n kreet op en hardloop haar tegemoet. “O Mamma, ek het só gewens Mamma kan my partytjie bywoon!”
