Van hopeloos tot hoopvol

In ons samelewing sien ons siekes en swakkes, bedelaars en sukkelaars, en sien op hulle neer as Les Miserables, mense wat dag vir dag voortploeter om te oorleef, soos Topol sê in Fiddler on the Roof: “as shaky as a fiddler on the roof trying to scratch out a simple little tune.” Aan die ander kant sien ons rykes en welvarendes wat alles het, en omdat hulle te veel het, word dit wat hulle het juis hul ondergang. Rykdom of armoede het nie die finale seggenskap oor wat met ons lewens gebeur nie – hoe ons dit hanteer wel!

Hoe kan ons suksesvol die aanslag op ons hoop afweer? Deur met die aanslag te worstel! Wat maak van ‘n mens ‘n suksesvolle ‘worstelaar’? Suksesvol, nie in die sin dat jy altyd iets het om oor te worstel nie, maar omdat jou worsteling tot iets kom. Swaarmoedige Sarel is vir ongeluk en teleurstellings soos wat ‘n bekerplant vir brommers is! Die bekerplant skei ‘n aangename stank af wat brommers en vlieë trek en as die valluik toeval, word hy deel van die problem. Die wonder van ‘n Sarel te wees, is dat as hy net genoeg rondkyk sal die troosvolle sekerheid hom oorval – daar is altyd ‘n bekerplant of twee in die omtrek.

Snaaks, as daar met vleis en kool in die kombuis gewerk word, is die brommers ongenooid daar. Hulle is daarop ingestel en vibreer in formasievlug deur die lug op die teiken af. Maar as daar koek gebak word is daar net ‘n oorlamse vlieg of twee. Hoe kan ons die brommer se natuur verander? Niemand kan nie – as iemand hom net kan leer van die nektar van die Koning (Eseg 3:3). Selfs vir Sarel is daar ‘n belofte van soetheid as hy die Woorde van God neem en eet. Waar lê die oplossing dat ons suksesvolle worstelaars kan wees? Slegs as jy met die regte dinge worstel, sal jy by die regte antwoorde op jou worsteling uitkom.

Oom Danie het geworstel met sy waarde en wou sien hoe ‘sterk’ hy was. Hy het selfs so ver gegaan om die bank te versoek om al die geld wat hy besit voor hom uit te pak. (Dit het ‘n vreeslike geskarrel afgegee want note moes ingery word van ander takke want die oom was aansienlik van besit en die bankbestuurder kon nie bekostig om hom as kliënt te verloor nie.) Miskien wou hy net ‘n minuut lank bak in sy son, wat hy bymekaar gemaak het en met ‘n ysterhand kon regeer. Maar met sy groeiende ouderdom en verswakkende gesondheid het die stapels blare, alhoewel dit mooi was, geen rus gebring nie. Die toekoms was eerder soos ‘n veldbrand in die laatsomer wat oor die brandpad gespring het en die blarehopies onder die inheemse bos van die wildenisgebied tot as verskroei het. Oom Danie, kon ek maar vir u geleer het: My waarde lê nie in wat ek het nie, maar in Wie ek is! (Ek sou graag Luk 12:20 wou byvoeg maar wie is ek wat ook ‘n dwaas is om dit vir ander te sê?)

Dan was daar oom Swartjie wat sy arm in ‘n bosbou-ongeluk verloor het. Dit was in die tyd toe daar nog nie beraders was nie. Self moes hy oplossings vind. ‘n Korttermyn- vergeet was vir hom die voordiehandliggende oplossing. Goedkoop wyn was sy poging tot ‘n ‘goedkoop’ en heel oënskynlik werkbare, oplossing. Die ‘oplossing’ het hom ‘sterk’ gemaak as hy onder daardie invloed was, maar die kopseer wou net nie weggaan as die dagbreek die nuwe week met sy uitdagings inlei nie. Vrydagmiddae het hy gestrompel en deur die week gehakkel. In die bed was hy ‘n tiran en met die dominee se huisbesoek het hy gedwee hulp gesoek, maar wou nie worstel met oplossings nie. Hy het verlang na sterk wees, saam met die broederskap van die dorp. Het hy nooit begryp dat as ‘n mens swak is, jy terselfdertyd sterk kan wees nie? Het Hy nie al ons swakhede op Hom geneem nie? Hoe anders sou dit nie gewees het nie as hy eerder by die broederskap van die kerk aangesluit het, of dalk nie?

“As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop? En as jy net in ‘n vreedsame land veilig voel, hoe sal jy maak in die digte bos aan die Jordaan?” Hoe hanteer jy jou probleme? Met God of sommer self?

skrywer: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar