deur Alexander Carte

Vandag op die vliegtuig Kaap toe gebruik ek gou die hangkas wat ’n toilet genoem word. Met my broek op my knieë weet ek my arms is te kort om dit weer beet te kry.

Wyl ek ’n plan bedink druk ek die spoel-knoppie bloot uit verveling, maar die ding spoel mos nie, dit suig, asof dit direk van ’n enjin trek.

Nou vorm dit ’n vakuum, want my alie is breed en geen lug kan ontsnap nie. Eers word my wange ingesuig soos ’n twaksak en ek besef, ek sal my tonsils moet red. Ek vlieg op in ’n spasie wat skielik krimp en reik met een laaang arm af om my broek te herwin en ek giggel verlig. Ek is flippen bly ek het nie aambeie nie, want dan het dit nou in ’n droë Karoo soos ’n woestyn vetplant knus op ’n rots gerus.

Die ongemaklike manier van lyf buig en krom sit in die toilet-kas het beslis ’n negatiewe uitwerking op die normale buiging van my lyf-skarniere gehad, en dan steel die oorgewig antie langs jou nog jou elmboog-spasie ook. Dit is net met die opstyg slag dat swaartekrag haar in die sitplek forseer en sy die vliegtuig so stofdig sit.

Met die afklim slag raak die wag voor my mond aan die slaap en ek vra ewe beleefd “Sal u ’n block and tackle of hydraulic jack nodig hê?”

Ek is ’n uur gelede by die lughawe se parkering weg toe ek agterkom my wang gloei-brand steeds en dit is nie die Uber se diff wat so in my ore humm nie, maar my derde kennismaking met kinetiese energie elke keer op ’n nuwe sensitiewe area op my lyf.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar