Die Parys Protea in die titel is geen Vrystaatse blom nie, ek ken ook geen Vrystaatse blomme wat veel in gemeen het met die jong vrou wat deel is van die storie nie.
Parys Protea is my direkte vertaling van die naam van daardie Amerikaanse meisie met bedenklike sedes en ‘n voorliefde vir haar eie gesig in die media, Paris Hilton. Die storie begin egter lank voor Paris Hilton in die prentjie kom. Dit begin by gefermenteerde melk.
Ons is groot verbruikers van drinkbare jogurt. Veral ek en die jongste werk ‘n hele paar bottels per week deur. Laatmiddag, net voor die dag se harde werk jou uitgeput wil laat, is daar niks soos ‘n uitstappie yskas toe nie. Een drinkbare jogurt later en dit voel asof daar nuwe wind in jou seile blaas.
Dit is my taak om toe te sien dat die voorraad jogurt nie uitgeput raak nie. Die handelsmerk was nooit van belang nie, elkeen se grille en giere oor geure het aankope dikteer, dit was die goeie ou dae voor die YogiSip-advertensie.

“Ek weet wat julle nou dink.” sê die stem op die radio, “Seksvideo!”
Nie juis wat ek op daardie stadium in gedagte gehad het nie, maar so luister ons aandagtig.
Paris Hilton, deel die stem ons mee, het reeds die idee van ‘n seksvideo gebruik, so jy kan dit nie vir jou YogiSip-advertensie gebruik nie.
Iewers in ‘n ewewydige heelal moes Wilhelm Tell vir ‘n oomblik sy oog van die appel af gehaal het, want dit tref my toe tussen die oë. YogiSip word daar en dan in die geheue vasgebrand in daardie donker hoekie waar die Paris Hilton-video lê. Die spesifieke drinkbare jogurt sal vir altyd geassosieer word met Hilton wat, te midde van haar orale manewales, af en toe vir die kamera loer, tewyl sy kamtig nie weet sy word verfilm nie. Te oordeel aan die ander se reaksie was ek ook nie alleen nie. Aanvanklik was daar ‘n ongemaklike stilte met iemand wat half naar gesluk het, maar toe regtig naar word van die sluk self. Die geluide wat opgediep is kon jou laat dink hulle het per ongeluk ingestap in ‘n aantrekkamer waar Kobus Wiese in ‘n deurtrekker staan.
Wat die advertensiemaatskappy ooit sou besiel om drinkbare jogurt in dieselfde prentjie te plaas as ‘n opgewonde manlike geslagsdeel sal ek dalk nooit weet nie. My jogurt-aankope is egter ernstig deur die hele palawa versuur.
Skielik is geure nie meer al kriteria wanneer die jogurt aangeskaf moet word nie. Daar is deesdae eenstemmigheid oor watter handelsmerk níé gekoop mag word nie. Die Y-woord is persona non grata en van die kieslys af. Om net bottels jogurt van die rak af te kry is ‘n nagmerrie. Dit help dat hulle tans heel links staan by ons plaaslike supermark, want dit maak dit bietjie makliker om dit nie te sien nie. Jy hou jou linkeroog toe en onthou om regsom weg te draai. So normaliseer my hartklop gou en verlaat ek die suiwelrak redelik ongeskonde, al dink die vrou wat die groente weeg ek is gek.
Die dag gaan wel aanbreek wanneer ‘n rakpakker besluit om die Clover produkte in die middel te sit en my regteroog gaan vaskyk in ‘n bottel YogiSip. Mag dit asseblief net nie die piesang wees nie.
