Oesters begin hul lewe as klein swerwertjies wat op seestrome dryf. Wanneer hulle volwasse word soek hulle ‘n huis op ‘n koraalrif.
Oesterlarwes is plankton, wat beteken hulle kan nie teen of oor seestrome swem nie. Hulle het wel die vermoë om op en af te beweeg in die kolom water waarin hulle is. Die volwasse oester ontwikkel ‘n gespierde “voet” waarmee hulle aan die seebodem voel. Wanneer hulle ‘n plek kry wat reg is suig hulle daar vas en bly die res van hul lewens daar.
Wetenskaplikes weet reeds dat oesters en so ook garnale, gebruik ‘n paar chemiese en fisiese seine in die seewater om te besluit waar hulle wil bly. Een navorser, Ashlee Lillis, het egter gewonder of klank nie ook ‘n rol speel nie en dit lyk wel so.
Soos verskeie duikers jou sal vertel, kan ‘n koraalrif ‘n raserige plek wees. Oesters het nie ore nie, maar hulle voel dalk die vibrasies van die klank aan. Elke rif het ‘n unieke klank en oesters gebruik dalk daardie vibrasies om te bepaal om ‘n rif gesond is en ‘n aangename plek om aan te teel.

