Die knoet is ’n bekende gesig aan die Suid-Afrikaanse kus in die somer. Hulle hou veral van strandmere waar jy hulle sal sien stadig stap en elke nou en dan hul snawels diep in die sand druk om ’n skulpdier by te kom.
Die knoet is egter besig om kleiner te raak. Dit is toe te skryf aan die voël se lang snawel wat besig is om korter te raak. Hulle kom nie meer daai goeie kwaliteit skulpdiere by wat diep in die sand grawe nie. Die gevolg is dat hulle tevrede moet wees met laer kwaliteit en ook meer seegras moet eet.
Die probleem begin by hul Arktiese broeiplek. Die geboorte van die kuikens het altyd saamgeval met die opbloei onder insekte wat saamval met die begin van die somer in die Arktiese toendra. Die verwarming van die pole het egter veroorsaak dat die broeityd nie meer lekker saamval met die verskyning van die insekte nie. Die nuwe voëls is gevolglik kleiner, met korter snawels. Minder van hulle oorleef uiteindelik.
Die knoet verlaat die Arktiese broeiplek elke jaar met die aanbreek van winter vir ’n meer matige klimaat elders, veral in die trope. Hier sukkel hulle nou om die regte voeding te kry as gevolg van die fisiese veranderinge. Navorsers het bevind dat hulle nou net ⅓ van hul normale voeding kry.
Dit is skrikwekkend as mens na die data kyk en oplet dat die ys in die Arktiese toendra nou elke jaar vroeër smelt – gemiddeld 12 uur vroeër elke jaar. Dit is een dag vroeër al om die ander jaar … Dit is ’n skrikwekkende gevaarteken!
(Die navorsing waarna hier verwys word is uitgevoer deur die Nederlandse Koninklike Instituut vir Mariene Navorsing. Dit is gedoen onder leiding van Jan van Gils en is gepubliseer in die Mei 2016 uitgawe van die joernaal Science.)
(foto: Jan van de Kam)
(bydrae: Quintus van Rensburg)

