Sidney Lumet, die Amerikaanse filmregisseur met ’n string klassieke films agter sy naam, is Saterdag in die ouderdom van 86 jaar oorlede.
Lumet was een van die beste en mees produktiewe regisseurs van die 20ste eeu. Hy het die regie van 43 films in verskeie genres behartig, meeste daarvan in en om sy geboorteplek, New York. Die meeste hiervan was intelligente produksies met ingewikkelde temas.
Hy het ’n ere-Oscar ontvang in 2005 vir sy bydrae tot die filmbedryf. Die New York Film Critics het ’n soortgelyke toekenning aan hom gegee, een van slegs twee in die geskiedenis van die organisasie. Sy films het in totaal meer as 50 nominasies ontvang vir die Oscar-toekennings.
Sy films sluit in: 12 Angry Men (1957), Long Day’s Journey Into Night (1962), The Hill (1965), Murder on the Orient Express (1974), Dog Day Afternoon (1975), Network (1976) en Equus (1977).
