Kieslys

Close


*/

27 November
2006
Gedigte
1064 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Oom Gert vertel en ander gedigte

Dr. C. Louis Leipoldt

MET ‘N INLEIDING

DEUR

JOHANNES J. SMITH.

DERDE DRUK (Hersien)

J.H. de BUSSY, beperk, PRETORIA.
HOLL.-AFRIK. UITGEVERS-MIJ. v/h J. DUSSEAU & Co., KAAPSTAD
1921.


INHOUD.

Bls.
Opdrag “Aan almal, wat voorgegaan het” VII
Voorrede IX
Inleiding XI
Gedigte.
Oom Gert vertel 3
Oktobermaand 13
Aan ‘n ou Boek 16
In Amsterdam 17
In die Boesmanland 20
Op die Kerkhof 21
In ou Booi se Pondok 22
Die Verkleurmannetjie 29
‘n Nuwe Liedjie op ‘n ou Deuntjie 30
Die Sterretjie 32
Aan my ou Vrind 33
In die Konsentrasiekamp 35
Die ou Meul 37
Kleingelowige 38
Mordegai 42
Aan ‘n Seepkissie 44
Die Doringboom 46
Die Soutpan 47
Japie 48
Op ‘n Leiklip 49
Op my ou Karoo 52
My nuwe Vaderland 54
Vrede-aand 56
Die ou Blikkie 60
Woltemade se Spook 64
Lenteliedjie 69
Die Apie 71
‘n Praatjie oor die Trougees 73
SLAMPAMPERLIEDJIES:
I. Boomsingertjie, jy fluister 79
II. Daar, waar die uitspan by die waboom 79
III. Van Noodt, van Noodt, ek sê vir jou 80
IV. Gee vir my ‘n trouring 81
V. Krulkop-klonkie 81
VI. Jy sê vir my: “Ou boetie, wat moveer jou? 82
VII. Ek sing van die wind, wat tekeer gaan. 83
VIII. “Ou boetie, slaan jou kop nie teen die prikkels 84
IX. ‘n Skoenlapper die vlieg daar bo 84
X. Sekretarisvoël met jou lange bene 85
XI. Weer hoor ek iemand vra: 85
XII. Kriekie, jy, wat op die solder sanik 85
XIII. Klossies, jul bewe en bibber 86
XIV. Twee dinge sê ek vir jou, ou boetie 86
XV. Gistraand in die maanlig daar buite 86
XVI. Nie maanlig meer, maar wolke orals rond 87
XVII. Dingaan, die Soeloe, was ‘n duiwel 88
XVIII. Klim op, klim op, met die slingerpad! 88
XIX. Die see het juwele, robyne 88
XX. Die see is wild, die see is blind 89
Die Einde 90

[Pg vii]


OPDRAG.

“Aan almal, wat voorgegaan het”.

Die son gaan onder in die weste, agter

Die grysvaal koppies van ons ou Karoo;

Die hele lug is rooi, en goud, en silwer,

Met elke wolk half-wit as sneeu daarbo;

En saggies oor die veld hier val die skemer.

Die laaste glans en jongste gloed verdwyn

Van elke berg, waar nog so kort die kranse

Geverf was deur die son met karmosyn.

Oor al ons land daar trek die nag ‘n skadu,

Groen as die blare van ‘n sederboom.

Die hamerkop verlaat die vlei; die reier

Stap na sy nes om op een been te droom;

Die naguil vlieg, en vlieënd klop sy vlerke;

In die tabaktuin gons die duiwelby;

En die aandblommetjies is algar ope

Om wierook oor die vlakte te versprei.

Waar in die weste, as ‘n muur van purper,

Die bergrant teen die lug ‘n skadu bou,

Daar stadig klim die volmaan na die sterre

En haal die hele wêreld weer uit rou.

Sag is die nag en slaaprig al die wêreld—

Sag as die wit gesiggie van ‘n kind.

Dof in die maanlig skitter net die sterre,

En rustig in ‘n klipskeur skuil die wind.

Slaap rustig so, jul almal, wat geworstel,
[Pg viii]
Slaap so, jul algar, wat gesneuwel het!

Hoe hard ook was die dag, die nag gee slaaptyd:

Na stryd kom slaap—dis die natuur se wet!

Kan julle op ons neerskou as die sterre,

Kind, vrou, en man, wat in ons tyd van nood

Die bitter kelk gesluk het en gevinde

‘n Rus vir ewig in ‘n heldedood,

Neem dan, wat ek (die nooit geen kans gehad het

Die laaste stap te doen uit liefdeplig)

As brokkies vir ‘n eerbewys gebou het—

‘n Nietig reeks van rympies—my gedig.

Ja, nietig, want geen sterretjie kan dowwer,

In vergelyking met jul voorbeeld, blink—

En tog, miskien, dis moontlik, dis ‘n weerklank,

Van wat vir altyd in ons harte klink!
Die maanlig gooi ‘n silwerwaas oor velde,

Waar eens die grys kruitwolke het gerol;

En elke plaas, wat vroeër van rook geruik het,

Is met die geure van aandklossies vol.

Maar selfs die silwerlig kan nie verberge

Die tekens van die tyd tien jaar verby:

Maak net jou oë toe, en tussen wierook

Bespeur jy nog die kruitrook op die vlei!

Ja, man, wat op die slagveld het gesneuwel,

En in die kinderkampe, kind en vrou,

Slaap rustig stil, julle, wat so geworstel,

En so gesterwe het—want ons onthou!

[Pg ix]

VOORREDE.

As ‘n mens ‘n Voorrede skrywe, dan het hy die reg om van homself te
praat. Ek wil egter van die reg afsien, want van myself is daar niks
te vertel nie. Slegs dit: hoe ek daartoe gekom ‘t om die bundel
rympies te laat druk. En miskien is dit nodig, dat ek die leser ‘n
verklaring van sulke astrantheid gee.

Vir jare het ek my vermaak met versies draai en met die loop van tyd
het ek ‘n hele boel van die rympies in my tafellaai opgegaar. Dit was,
en is, ‘n onnosel vermaak, waarmee ek net maar myself gekwel ‘t,
deurdat ek somtyds nie ‘n rym in die hande kon kry nie, en nog meer
kere nie goed in woorde kon uitdruk, wat ek gevoel en ondervind ‘t.
Toe het ek terloops eenmaal met my vrind Smith oor ons taal gepraat,
en hom ook een en ander van my versies gewys. Hy was vrindelik genoeg
om te sê, dat dit hom geïnteresseer het; en later het hy my wysgemaak,
dat dit ook miskien andere van ons mense kon interesseer. Hy het
sommige van die rympies uitgekies—dié wat in die volgende bladsye
staan—en het my gehelp om dit vir die pers klaar te maak.

Die leser sien dus, dat die boekie in ‘n seker sin soveel sy, as my
kind is, en dat hy ‘n deel[Pg x] van die lof, as daar lof is, of van die
blaam, as daar blaam is, moet dra.

Vir die gevoelens, wat in die gediggies geuiter word, is ek alleen
verantwoordelik. Ek weet natuurlik nie, of die gevoelens byval sal
vind nie by ons mense, wat nog gediggies lees; en ek vra ook geen
ekskuus daarvoor, al is daar hier en daar ‘n reël of ‘n woord wat ek
nou, as ek weer die rympies moes oorskrywe, nie sou behou nie.

Die meeste van die gediggies is gemaak geword, toe ek nog half flou
was met die skok van die oorlog, en toe die donder van die Engelse
kanonne nog altyd in my ore was. Miskien het dit my snare al te veel
laat tril. Miskien is dit beter, dat ons nie meer oor sulke goed praat
of sing nie. Maar daar is ook ‘n ander kant: en dit kan wees, dat daar
onder my lesers is, wat nie maklik vergeet nie, hoe gou hul ook
vergewe. Ek laat dus maar die versies, soos ek hul geskrywe het, in
die hoop, dat die leser hul met ‘n bietjie geduld en lankmoedigheid
sal lees, en nie ‘n al te strawwe oordeel sal vel oor

Die Skrywer.

Londen, Oktober 1911.

BY DIE TWEDE DRUK.

Die spelling is in ooreenstemming gebring met die voorskrifte van die
Suidafrikaanse Akademie; en hier en daar is ‘n woord verander, of die
punktuasie verbeter. Vir die orige is die gediggies nog, soos ek hul
oorspronklik geskrywe het.

C.L.L.

Pretoria, Mei 1917.
[Pg xi]


INLEIDING.

‘n Teken van Lewe en Groei.

As ‘n gesonde kind ‘n seker leeftyd bereik, dan begin hy praat, en sy
moeder is groots. So ook met ‘n volk: solank as hy nog jonk en klein
is, is dit voldoende vir hom om na die stem van die moederland te
luister; maar sodra hy verstand begin kry, wil hy ook self praat—op
sy eie manier. Hoe krom en skeef die eerste woordjies vir volwasse ore
ook mag klink, dit getuig van lewe en vooruitgang—en aanhou!

Gedurende die laaste helfte van die neentiende eeu het die Afrikaanse
volk selfbewus begin word, en gevolglik ook begin lisp. Toe kom die
gebeurtenisse van die end van die eeu; en dié het sy groei sodanig
verhaas, dat dit bykans onmoontlik is om in die forse mannetaal van
vandag die dowwe stemmetjie van tien jaar gelede te herken.

Sover ek weet, dagteken die allereerste geskrif, waarin die
Afrikaans-Nederlandse taalvorm op ‘n bewuste wyse aangewend word, uit
die jaar 1861. Ons skryftaal is dus uiterlik vyftig jaar oud; en wat
beteken vyftig jaar in die lewe van ‘n volk? Elkeen weet, hoeveel eeue
dit geneem het om ‘n standaardtaal in Duitsland of in Engeland te
ontwikkel; en in vergelyking met dié lande gaan alles by ons snel,
verbasend snel—maar tog nie te[Pg xii] snel nie, want ons lewe mos nie meer
in die Donker Middeleeue nie, en ons hoef ook nie te wag nie op die
koms van ‘n Dante, ‘n Luther of ‘n Chaucer, om vir ons uit ‘n legio
van dialekte te kies of te smee, wat ons reeds besit—’n algemene
Afrikaanse taal.

Die Taal is die Volk Self.

Dit is ‘n ou gesegde, deur alle eeue heen gehoor, dat volk en taal ten
nouste aan mekaar verbonde is. Die taal weerspieël die karakter en die
geskiedenis van die volk, wat dit praat; en ‘n volk gee alleen dan sy
taal op, as hy nie meer as selfstandige volk kan of wil bestaan nie.
Die mag van die volkstaal as ‘n middel om die volk te ontwikkel en aan
te vuur, is ook oorbekend uit die geskiedenis van byna elke nasie ter
wêreld. Tereg kon Willems, die wakkere en ywerige kampvegter van die
Vlaamse Beweging, getuig:

O Belgen! uw geluk is aan uw taal verbonden;

Slaat uw geschiedrol op; waar gij uw recht geschonden,

Uw heil vertreden vindt, de landspraak vindt ge er bij,

En haar verdelging steeds het doel der dwinglandij;

Want om naar eisch der kunst een moedig paard te temmen,

Moet men door ‘t slaafsch gebit, vooral zijn mond beklemmen;

Die kunstgreep is aan Spanje en Frankrijk nut geweest,

In ‘t onderdrukken van den Nederlandschen geest.

[Pg xiii]

En wat omtrent die taal van die Afrikaner? Vorm die ‘n uitsondering op
die reël? Geensins. Die Nederlandssprekende[1] Afrikaner—’n
afstammeling nie alleen van Hollandse, maar ook van Duitse en Franse
voorouers—het, deur ‘n verblyf van twee eeue en ‘n half, onder ‘n
Afrikaanse son en in ‘n Afrikaanse omgewing, kenmerkende eienskappe
ontwikkel, wat aan die Hollander van vandag totaal vreemd is. Dié
eienskappe word natuurlikerwys in die taal van Suidafrika weerspieël;
en juis dié feit is een van die grootste redes vir die skrywe van ‘n
Nederlandse taalvorm, wat, ewenas die Afrikaner self, uit Suidafrika
geboortig is. Ons eenvoudige, maar doelmatige grammatika en die vele
tiepiese woorde en uitdrukkinge, in Suidafrika ontstaan of uit ander
tale ontleen om in die behoefte van die land te voorsien, roep luid om
erkenning, en moet ook erken word, as ons die ontwikkeling van ons
volk nie onnodig wil strem nie. En ook niks minder as algehele
erkenning is nodig; want om aan tiepies Afrikaanse woorde Hollandse
stertjies te gaan las of geslagte toe te ken, en ons dan te wil
wysmaak, dat dit goeie “Vereenvoudigde Hollands” is, is niks anders as
broeikaswerk, wat die taalgevoel van Hollander sowel as Afrikaner
kwes.

Laat die Afrikaner maar eers eenmaal besef, dat sy eie
Afrikaans-Nederlands ewe goed en ewe[Pg xiv] bruikbaar Nederlands is as die
hoogste Nederlands van Europa, ja dat dit vir hom ‘n baie dienliker en
geskikter werktuig is, en hy sal ook gou genoeg by magte wees om te
boek te stel alles, wat in en om hom plaas vind.

Die Afrikaanse taalvorm kan tog alleen die draer van ‘n eg
nasionaal-Afrikaanse letterkunde word: dit is immers bewys, nie alleen
deur die werke van ‘n Celliers en ‘n De Waal, maar ook deur die onmag
van hoogbegaafde Hollandsskrywende Afrikaners om tot die hart van die
volk deur te dring. Die “Hoog-Hollands” van die Afrikaner bly vir die
Hollander tog nog altyd “amper Hollands”, en vir die Afrikaner “geen
Afrikaans”. Dit is dan ook waarskynlik vir alle partye beter, as elke
voëltjie in die vervolg maar sing, soas hy gebek is.

Kan Afrikaans ‘n Selfstandige Skryftaal word?

Elke goeie skryftaal moet aan twee eise voldoen: dit moet in staat
wees om ons gedagtes op ‘n praktiese, ondubbelsinnige wyse weer te
gee, en dit moet ook ‘n seker mate van verhewenheid hê. Nou, wie kan
bewys, dat die Afrikaanse taal onmagtiger of minder verhewe is as
enige ander Germaanse taal? Dit is die taal, wat deur ‘n hele volk, ja
in die hoogste en aansienlikste kringe van dié volk, gepraat word, en
wat hom ook reeds by magte getoon het om die diepste digterlike ideë
in sierlike woorde te vertolk.[Pg xv]

Die bekwaamheid en doelmatigheid van Afrikaans is nooit ernstig betwis
geword; maar meer as een teëstander het sy toevlug geneem tot die
standpunt, dat Afrikaans laag en plat is—’n gebrou van Hottentots en
Hollands, ‘n Maleis-Portugese mengelmoes. Mense, wat so praat, laat
hulle vooroordeel met hulle verstand weghol. Hier is die feite:
Afrikaans is so “plat”, dat selfs Dominee dit in sy preke op die
preekstoel gebruik, en dat selfs die hooggeleerdste Afrikaner in sy
natuurlike oomblikke hom daarvan bedien in sy huislike omgewing.
Taalvorsers, wat in alle verskimmelde hoekies gegrawe het, het al te
saam nog geen honderd-en-vyftig Indiese en Hottentotse woorde in ons
taal kon aantoon; en onder dié getal is daar nog meer as een, waarvan
die afleiding verkeerd of twyfelagtig is. Die Maleis-Portugese invloed
veral is geweldig oorskat geword, en daar is o.a. geen voldoende
rekening gehou met dié Maleis-Portugese woorde, wat ook in Hollands
bestaan of bestaan het, en wat ons dus waarskynlik deur Holland gekry
het. Maar dis nie hier die plaas om dié onderwerp te bespreek nie, en
ek volstaan dus met daar net op te wys, dat Afrikaans een van die
suiwerste Germaanse tale is, wat daar vandag bestaan, oneindig
suiwerder as Hollands—om nie eers te praat van Engels nie met sy
duisende van vreemde woorde uit elke moontlike taal ter wêreld
ontleen. Nee, die taal self is seker goed genoeg.

Maar wat omtrent die omstandighede? Is dit wel wenslik en prakties om
in die twintigste eeu met ‘n nuwe skryftaal aan te kom? Wel seker is[Pg xvi]
dit. Dit is wenslik, want dit sal ons ‘n intellektuele mag en ‘n
natuurlike selfstandigheid gee, wat ons onmoontlik met ‘n ander
taalstandaard kan verkry. Nou word dit nog dikwels verskonenderwys
gesê: “Hollands is te moeilik; Afrikaans het ek nooit leer spel nie:
ek is dus verplig om my toevlug tot ‘n vreemde taal te neem.” In
dieselfde gees word ook menigmaal geklaag: “Hollandse boeke val nie in
my smaak nie; Afrikaanse boeke bestaan daar nie, of nie genoeg nie:
gevolglik lees ek net Engels.” Die slotsom van dit alles is: die
Afrikanerdom ly skade, en word van sy beginsels vervreem. Die gees tog
is van oneindig groter waarde as die vorm; en sal ons nou, in ons ywer
om ‘n seker, vir die Afrikaner verouderde vorm te behou, die gees
veronagsaam?

Die toestande in ons land is baie gunstiger vir die ontwikkeling van
‘n nasionale skryftaal, as dit ooit in enige Europese land gewees het.
Daar is by ons, byvoorbeeld, geen teenoormekaarstaande dialekte nie:
inteendeel, ons taal is wonderlik eenvormig van die Kaap tot aan die
Sambesie; en daar kan dus geen stryd ontstaan omtrent die basis van ‘n
algemene skryftaal nie.

Ons het ook die voorreg om by die ontwikkeling van ons skryftaal, die
hulp in te roep van die hedendaagse taalwetenskap om vir ons die beste
woordvorme te bepaal in die paar gevalletjies, waar daar wel verskil
van uitspraak bestaan, of om vir ons aan ‘n praktiese, wetenskaplike
spelling te help; en ons hoef dus nie, ewenas die Europese nasies, dié
dinge aan die eeue-durende willekeur van die tyd oor te laat nie.[Pg xvii]

Dan weer is daar die moderne drukpers, wat ons ‘n mag gee, waar geen
middeleeuer ooit van gedroom het nie.

Die allergrootste voordeel lê egter daarin, dat ons Afrikaans ‘n
spruit is van ‘n edel en ou geslag, wat nie alleen in Suidafrika nie,
maar ook in Holland en Vlaandere voortlewe—’n geslag, wat ‘n ryke
litteratuur en ‘n uitgebreide woordeskat gesamentlik besit.

Vyftig jaar gelede was die taal van die Czechs versmaad en verag,
sonder letterkunde en sonder enige regte: vandag bloei die taal in hof
en skool en universiteit, nieteenstaande die langdurige verset van die
Duitssprekende inwoners van Boheme; en Praag, die hoofstad van die
land, het dosyne boekwinkels vol met werke in die Czechiese taal—ja,
selfs die straatname van Praag is alleen in Czechies te lees. En dit
alles kon binne ‘n halwe eeu geskied, en in weerwil van die bitter
teëstand van die Duitse taal met sy wêreldlitteratuur! Voorwaar, die
saak is in Suidafrika nie hopeloos nie.

Twee Taalstandaarde.

Vir my is Afrikaans en Hollands nie soseer twee afsonderlike tale, as
twee afsonderlike standaarde van dieselfde Nederlandse taal, waarvan
die een meer bepaaldelik in Suidafrika, die ander meer bepaaldelik in
Holland tuis hoort. Elke standaard het sy ontstaan te danke aan die
besondere behoeftes en omstandighede van ‘n besonder land.

Atties, Dories en Ionies was drie letterkundige[Pg xviii] standaarde van
dieselfde Griekse taal; en net so kan Hollands en Afrikaans as twee
gewestelike standaarde van dieselfde Nederlandse taal beskou word.[2]

Die “jas” van die Hollander met sy Europese snit en Europese fraiings
is nie so geskik vir die Afrikaanse veld, en sit ook nie so bevallig
op die breë skouers van die Afrikaner, as die welbeproefde “baadjie”;
maar desnietemin kan elkeen tog sien, dat jas sowel as baadjie van
dieselfde stof gemaak is.

Een ding staan vas: daar bestaan geen algehele gelykheid meer tussen
die taal van Holland en die taal van Suidafrika nie; maar of ons nou
ook praat van twee tale of van twee taalstandaarde, die verskille
tussen die twee mag nie tot vyandskap voer nie, want hulle bly tog nog
nou verwant, en die bloei en welvaart van die een is van ontsaglike
betekenis vir die ontwikkeling en vooruitgang van die ander.

Afrikaans veral sal in sy wordingstyd veel te leer hê van die meer
ontwikkelde Hollands, en sal ook sy woordvoorraad vir letterkundige en
tegniese begrippe uit die ou Nederlandse taalskuur moet aanvul. Dit
hoef niemand te bevreem nie, want elke wettige en reggeaarde kind het
reg op ‘n erfenis, en alle tale (behalwe die basters en die diewe!)
het so geërf.

Ook die Hollandse en Vlaamse letterkunde is gemeenskaplike goed en sal
dit ook altyd bly[Pg xix] solank as die Nederlandse taalvorme nog onderling
min of meer verstaanbaar is. Maerlant behoort ewegoed tot die
letterkunde van die Afrikaner, as Caedmon en Chaucer tot dié van die
Engelsman; en Maerlant is ook heelwat verstaanbaarder aan die
Afrikaner as Caedmon, ja selfs as Chaucer, aan die Engelsman.

En dan vra hul nog: “Waar is jul letterkunde, wat ons vir die eksamens
kan voorskrywe?” Ag, die eksamenvrees! Dit benewel ons verstand, en
selfs manne, wat beter hoort te weet, skrik hul asvaal, as ‘n pedante
teëstander maar net iets oor “letterkunde” brom—’n teëstander, wat
dikwels nie eers weet nie, dat sy geliefde Shakespeare in ‘n
gemoderniseerde spelling en met ‘n verklarende woordelys moet gedruk
word, ten einde aan die moderne leser verstaanbaarder te wees!

Geen letterkunde is ooit gebonde aan die besondere taalvorm, wat op
een of ander tydperk in swang mag wees nie; en dit is alleen onkunde
of vitsug, wat aan ‘n Afrikaanse letterkunde eise wil stel, waaraan
selfs geen Engelse of Duitse letterkunde voldoen nie.

Met ‘n Afrikaanse skryftaal sal daar geen jota minder letterkunde wees
as met ‘n ander Nederlandse skryfvorm nie. Inteendeel, daar sal veel
meer wees; want behalwe die bestaande Hollandse en Vlaamse, sal daar
ook ‘n spesiaal Afrikaanse litteratuur wees—wat noodwendig moet volg,
as die Afrikaner selfbewus bly en ‘n doelmatige uitingsmiddel vir sy
gedagtes besit. En laat ons tog nooit vergeet nie, dat, hoewel
Afrikaans genoegsaam verskillend van Hollands is, en aan ‘n
genoegsaam[Pg xx] aparte en selfstandige volk behoort, om as afsonderlike
skryfmedium spesiale voordele vir die Nederlandssprekende bevolking
van Suidafrika te besit, dit tog ook terselfdertyd nog genoegsaam
gelykend op Hollands is, en aan ‘n volk genoegsaam verwant aan die
Hollanders behoort, om ‘n maklike en dankbare gebruik te kan maak van
die geestesskatte in die Hollandse vorm van die Nederlandse taal
bewaar. ‘n Hartelike eendrag is veel meer werd as ‘n doodse
eenvormigheid.

‘n Oortuigingswerk.

Eendrag maak mag, maar tweedrag breek krag, sê ons ou spreekwoord; en
die ou spreekwoord is nog altyd bewaarheid geword. Onderlinge
verdeeldheid en tweespalk kan alleen tot gewisse ondergang voer, en is
ook gevaarliker as die vuur en die swaard van die felste vyand. Dié
dinge moet dan ook as dodelike gif vermy word.

Hoe ons Afrikaners ook onderling mag verskil omtrent die beste
skryfvorm van ons Nederlandse taal, tog moet ons nooit vergeet, dat
daar ‘n hoër taaleenheid bestaan, wat geen onderskeid ken tussen
Hollands en Afrikaans. Die werk van die Afrikaanse Beweging is dan ook
‘n oortuigingswerk; en ‘n oortuigingswerk moet dit altoos bly. ‘n
Vyand kan jy beveg, en desnoods dwing, maar ‘n vrind en ‘n
bloedverwant, met dieselfde belange en dieselfde ideale as jyself,
moet jy oortuig—as jy ten minste nie jou eie ondergang wil
bewerkstellig nie.[Pg xxi]

Dat die skryftaal van die Afrikaanse volk vroeër of later
Afrikaans-Nederlands sal wees, staan by my onteenseglik vas; en ek
grond my mening op die geskiedenis van die wording van ander tale en
op die herlewing in ons volk; maar dié mening regvaardig my nog glad
nie om voortaan teen elke Afrikaner, wat nog aan die ouer taalvorm
vashou, te velde te trek nie—en dit selfs onder die oë van die vyand,
wat gereed staan om ons albei te verslawe en deur ons verdeeldheid oor
ons te heers.

En ons, jong Afrikaners, moet ook nie somaarso die ou kampvegters van
‘n vorige geslag oor die hoof sien nie, eenvoudig omdat hulle ons
nuwighede ‘n bietjie onsimpatiek behandel. Hulle het hul hele lewe
lank net Hollands gelees en geskrywe; en die aangebore konserwatisme,
wat aan elke mens eie is, en wat seker nie met die jare verminder nie,
word lig geskok deur ‘n “taaltjie”, wat ons is wil skrywe in plaas
van wij zijn! So ‘n standpunt is nie heeltemal onverklaarbaar nie,
en dit hoef ons ook geensins te berowe van die hulp en die raad van
dié geharde stryers, wat douvoordag op was om vir ons te werk, en aan
wie dit te danke is, dat die bestaan van ‘n Afrikaanse Beweging vandag
moontlik is.

En die ouer geslag? Sal hulle dan ook nie ‘n bietjie notiesie neem van
die woorde en werke van die jong geslag nie? Ons stry tog nog vir
dieselfde beginsels, waar hulle voor geveg het—net, ons wil
Afrikaanse wapens gebruik, omdat dit meer by die hand, makliker te
hanteer, en doeltreffender in die stryd is. Ons verwag ook van hulle,
dat hul nie die onkundige of bevooroordeelde[Pg xxii] uitlander sal napraat
nie, as hy ons wil wysmaak, dat ons Nederlands ‘n patois, ‘n
mengelmoes, ‘n kombuistaal sonder grammatika en sonder woordeskat is!
Sulke skreiende onkunde is begryplik in iemand, wat alles, wat
Hollands of Afrikaans is, verag; maar by iemand, wat die Afrikaanse
taalvorm elke dag hoor en ook self praat, sal ons nie sulke gesegdes
soek nie.

Selfs die bewering, dat Afrikaans ‘n dialek van die Hollandse taal is,
is nie genoeg om die ondienlikheid of onwenslikheid daarvan te bewys
nie; want elke litteratuurtaal, sonder onderskeid, het een of meer
dialekte tot grondslag; en elke dialek word ‘n litterêre taal, sodra
‘n volk daarin begin te skrywe en dit tot voermiddel van sy gedagtes
maak.[3]

Twis en tweedrag moet ons dus vermy. Maar met dié woorde word geensins
bedoel, dat ons voortaan moet stil sit en wag, tot die tyd “ryp” word
nie. Die tyd word nooit vanself ryp nie: dis die mense, wat dit ryp
maak deur woord en daad.[Pg xxiii]

‘n Saak kan altyd op ‘n besadigde en verstandige manier bespreek word,
en moet ook bespreek word, as ons vordering wil maak; want as ons
altyd bang vir verskil van opienie is, dan sal ook nooit enige nuwe
denkbeelde kan verkondig word nie; en die gevolg sal wees stilstand en
verstening.

Die werk van die Afrikaanse Beweging is, om die volk te “beweeg” en op
te wek om die voordele van ‘n eie Afrikaanse taal in te sien. Dié werk
mag nooit stilstaan nie, voor en aleer die meerderheid van die volk
oortuig is. As daar waarheid en lewenskrag in die Beweging sit, dan
sal die dag ook gewisselik aanbreek, dat die meerderheid deur minsame
rede oortuig word; en dan sal die Afrikaanse taalvorm ook vanself tot
sy regte kom, sonder omwenteling en sonder onenigheid.

Ek geloof nie, dat die vurigste Afrikaans-gesinde die Afrikaanse taal
wil forseer en aan die volk teen wil en dank wil opdring nie. Dit is
nie alleen gek nie, maar onmoontlik! Nee, van opdring en dwing is daar
geen sprake nie: die werk is ‘n oortuigingswerk. Aan die werk kan en
moet elkeen, wat reeds oortuig is, help, want hoe eerder ons die
meerderheid aan ons kant het, hoe beter vir die verstandelike
vooruitgang van ons volk.

En die beste middel om ander te oortuig, is om self die Afrikaanse
taal, by elke geleentheid, te gebruik, en sodoende die nut en die
dienlikheid daarvan te bewys. Woorde wek, maar voorbeelde trek.[Pg xxiv]

Alles maar Slim Praatjies!

En hoe antwoord die teëstanders die argumente ten gunste van ‘n
Afrikaanse skryftaal?

Gewoonlik is dit ‘n siddering en ‘n bewing vir ‘n breuk van die band
met Holland, en daar word dan gepraat en gehandel, asof die sogenaamde
“Vereenvoudigde Hollands” van Suidafrika gelyk is aan die skryftaal
van Holland, terwyl die feit wil, dat die oorgrote meerderheid in
Holland van geen vereenvoudigde skryftaal wil weet nie, en die
Hoog-Hollands van die Afrikaner ewe “raar” vind as sy Afrikaans.

Sê die Afrikaner, dat Hollands styf en onnatuurlik vir hom is, dan
antwoord die teëstander, met ‘n skyn van geleerdheid: “Het Hollands
lijkt de Afrikaner stijf en artificiëel om geen andere reden, dan dat
hij er geen behoorlik onderricht in heeft gehad, en hij het zo slecht
kent. Had het Hollands op school gelijke rechten met het Engels, dan
zou het Afrikaanse kind zich het Hollands veel gemakkeliker eigen
maken dan het Engels. In Holland wordt dat bewezen, doordat de Fries,
de Brabander, of de Limburger, die ook thuis en in de dagelikse omgang
buitenshuis zijn eigen taal of dialekt spreekt, toch ook met gemak
Hollands leest en spreekt.” Dié argument word af en toe gehoor, veral
uit Holland, en dit geld as ‘n besonder kragtige argument. Die
redenasie is egter ver van oortuigend. Geen verbeterde onderwys kan
die natuurlikheid van die alledaagse omgangstaal aan ‘n ander taalvorm
gee nie—nee, nie eers in Friesland, Brabant of Limburg nie.
Suidafrika, egter, is geen provinsie van Holland nie, en sy[Pg xxv] belange
en toestande is totaal verskillend: hier word o.a. ‘n felle taalstryd
gevoer—’n seën, waarvan die drie genoemde provinsies vry is. Had ons
‘n menigte dialekte, dan was daar natuurlik nog veel te sê vir
Hollands as onsydige landstaal; maar die vry grote eenvormigheid van
Afrikaans oor ons hele spraakgebied maak die gebruik van ‘n ander
gemeenlandse taal onnodig en onprakties. In grammatika is die
verskille tussen Hollands en Afrikaans ook veel ingrypender as tussen
Hollands en enige dialek van Holland; en in dié hoogs belangryke opsig
staan Afrikaans werklik nader aan Engels. Dink maar net aan die
woordgeslag en die ingewikkelde vervoeging van die skryftaal en die
dialekte van Hollands en Vlaams! Dit maak ons taalstryd soveel
gevaarliker, daar Engels nie alleen op sy eie eenvoudige grammatika,
maar ook op die natuurlike ontvanklikheid van die Afrikaner kan staat
maak. Alleen die erkenning van ons eie grammatika sal teen dié gevaar
bestand wees.

Dit word heel dikwels beweer, dat Afrikaans te na aan Hollands staan
om as afsonderlike litteratuurmedium op te tree. Maar is Deens, Noors
en Sweeds dan nie ewe na aan mekaar verwant nie? En staan Spaans en
Portugees ook nie betreklik na aan mekaar nie? Hoe na aan of hoe ver
van ‘n ander taal dit staan, het niks hoegenaamd met die
noodsaaklikheid of die dienlikheid van ‘n taal as selfstandige
skryftaal te doen nie. Elke selfbewuste volk, wat ‘n afsonderlike
geheel vorm, met afsonderlike maatskaplike en staatkundige belange,
sal die taal, deur die meerderheid[Pg xxvi] van die volk gepraat, tot
skryftaal ontwikkel, onverskillig hoe min of hoe veel dit op die
skryftaal van ‘n ander volk gelyk.

Dan weer heet dit, dat ons bevolking te klein is. Maar Ysland, met sy
wêreldberoemde saga-litteratuur, het selfs op sy bloeiendste tydperk
nie meer as 600000 inwoners gehad nie; en Wales, ‘n ander land, waar
die tweetalige duiwel aan die woed is, tel ook maar sowat een miljoen
Welssprekende, en tog is daar geen tekens, dat die Welse taal aan
uitsterwe is nie. En waarom moet ons, Afrikaners, dan moed opgee—ons,
wat by die dag meer word?

Die vrees is ook meer as eenmaal uitgespreek, dat ‘n Afrikaanse
skryftaal nodeloos ons lesende publiek sal beperk tot die driekwart
miljoen Afrikaners en ons geen lesers onder die miljoene van Holland
sal besorg nie, en dat die klein debiet van ons boeke dan geen
skrywers sal uitlok en dus die ondergang van die Nederlandse taal in
Suidafrika sal vergewis. Dit is egter in die laaste jare ten
duidelikste geblyk, dat die bevolking van Holland veel meer belang
stel in ons Afrikaanse as in ons “Hoog-Hollandse” produkte. Hollands
en Afrikaans is ook onderling nog vry verstaanbaar, sodat ‘n
Afrikaanse werk, wat die moeite werd is om te lees, altyd ewe gretig
in Holland en Vlaandere as in Suidafrika sal gelees en verstaan word,
ewenas die intelligente bevolking van Suidafrika sal voortgaan om
Hollandse en Vlaamse werke te lees en te bestudeer.

Die tweetaligheid van Suidafrika en die daaruit spruitende onluste
verskaf stellig die mees geliefde[Pg xxvii] argument teen die gebruik van die
Afrikaanse skryftaal. So’n kersvers Afrikaans, heet dit, kan tog
onmoontlik standhou naas die Engelse wêreldtaal, met sy uitgebreide
litteratuur. Maar wat leer die voorbeeld van Boheme ons? En leer Wales
en Ierland ons ook nie, dat ‘n wêreldtaal met ‘n wêreldlitteratuur nie
altyd die sterkste is nie?

Die gebruik van die Afrikaanse skryftaal sal ook geen verandering in
die bestaande spreektaal bring nie (behalwe dat dit die spreektaal
teen verwildering sal bewaar); en ook die bestaande letterkunde sal
bly, in watter taalvorm dit ook al mag geskrywe wees. ‘n Skryftaal,
wat maklik en prakties is—dis al, wat ons meer wil hê. En hoe
makliker ons skryftaal, hoe hoopvoller die taalstryd; want ‘n maklike
grammatika en ‘n maklike spelling het nog in elke taalstryd twee
gedugte wapens geblyk. Laat elkeen maar eers besef, dat sy alledaagse
Afrikaans goed genoeg is om te skrywe, en kyk dan, of die Afrikaner
nog Engels aan sy mede-Afrikaner sal skrywe!

‘n Ander argument, wat ‘n seker klas mense by voorliefde van gebruik
maak, is dat die meerderheid van die volk teen Afrikaans is,[4] en dat
ons net onnodig stryd verwek. Maar watter hervorming het ooit met ‘n
meerderheid begin? Die volk is meestal teen ‘n nuwe ding, eenvoudig
omdat die nut en die voordeel van die nuwe ding nog nie duidelik
gemaak is nie; maar om nou die volksonwetendheid[Pg xxviii] en -vooroordeel ‘n
ekskuus vir individuele swakheid en papheid te maak, is baie dieselfde
soort redenasie as dié, wat Adam en Eva in die Paradys gebruik het om
hulle ongehoorsaamheid te verontskuldig. Of Afrikaans is die beste
skryfvorm vir die Afrikaner, òf dit is dit nie; en as dit bewys is,
dat dit die beste is, dan word dit die dure plig van elke opreggesinde
Afrikaner om vir die spoedige en algehele erkenning daarvan te werk.
Hulp by die saai is veel meer welkom as hulp by die maai.

Die Verband van die Taal.

Die verskil tussen Afrikaans en Hollands lê hoofsaaklik in die
grammatika, en by name in die fleksie. Die woordeskat en die idioom
van die twee taalvorme is nog baie eners, hoewel ook hier volstrek
geen algehele gelykheid bestaan nie.

Tereg sê meneer Preller:

Afrikaans is vir ons méér as Hollands, omdat dit Afrikaans is
plus Hollands: Hollands, verryk met die Afrikaanse woordeskat,
en sagter en buigsamer gemaak in ‘n Afrikaanse vorm-leer. Dis
àl.

Dit lyk duidelik genoeg, maar desnieteenstaande is dit ‘n treurige
feit, dat baie van ons allerbeste skrywers die taal skandelik verkrag
deur onnodige ontleninge uit die Hollandse grammatika. Ons woordeskat
kan en moet ons aanvul uit die Groot-Nederlandse voorraadskuur, maar
ons grammatika[Pg xxix] moet altyd suiwer Afrikaans bly. Word dié eenvoudige
beginsel veronagsaam, dan berowe ons nie alleen ons taal van sy
eienaardige karakter nie, maar ontneem ons ook onsself alle reg om ‘n
aparte taalstandaard vir Suidafrika te ontwikkel.

Grammatiese vorme as wy (Afr. ons), syn (Afr. wees en is),
ben (Afr. is); der (Afr. van die); verlede tye as kwam,
werkte, hoopte; infinitiewe as kappe, rukke, sitte;
partisipiële konstruksies as sy staat te wag, vashouende in haar
één hand haar sambreel
, is geen Afrikaans en sal dit ook nie maklik
word nie. Sulke geleende vere ontsier baie van ons verhewenste poësie,
en gee ons die onaangename indruk, dat ons tiepies Afrikaanse
woordvorme en sinswendinge nie goed genoeg vir wit papier is nie.

Die bestaan van ‘n buigingsvorm in Hollands is ook nog glad geen rede
vir die invoer daarvan in Afrikaans nie; en ons taal is ook voorwaar
nie armer nie, as dit ‘n buigingsvorm mis, wat in ‘n Hollandse of
Latynse grammatika aangetref word. Die buigingsvorm, as sodanig, het
maar heel weinig waarde: dis die betekenis daardeur uitgedruk, wat
van belang is, en dieselfde betekenis word in een taal deur middel van
‘n buigingsvorm, maar in ‘n ander taal deur middel van ‘n partiekel of
aparte woord of woorde uitgedruk. As dié eenvoudige feit onthou word,
dan sal daar veel minder wysheid uitgekraam word oor die “armoede” van
Afrikaans, wat, soos dit heet, nie eers ‘n verlede tyd het nie! As
buigingsvorme ‘n taal ryk maak, dan moet die Boesmantaal stellig baie
ryker as die Engelse taal wees![Pg xxx]

Die reëls van ons taal moet netsowel as die reëls van die versmaat en
die rym gehoorsaam word; en elke skrywer moet onthou, dat hy ons
Afrikaanse taal nie somaarso in enige Hollandse pakkie kan dwing, of
dit na hartelus met ou vorme kan besaai nie. Verouderde grammatiese
vorme moet selfs in poësie uitsondering en nie reël wees nie; en in
gewone prosa is dit eenvoudig onduldbaar. Die grammatika is die
verband tussen die boumateriale of die woorde van die taal, en daarvan
hang die stewigheid en die selfstandigheid van elke taalgebou af.
Sonder die regte verband word die grootste woordeskat ‘n majestueuse
ruïene.

Nog ‘n Plantjie vir die Tuin!

Die gedigte in hierdie Afrikaanse bundeltjie is ‘n nuwe blyk van die
bewusword van ons volk en van ons ontluikende Afrikaanse letterkunde.
Ek ken die skrywer al vir jare, maar dit was eers onlangs, dat ek
ontdek het, dat hy kon “rympies” maak. ‘n Gesprek met hom oor die
toekoms van die Nederlandse taal in Suidafrika het my die aangename
kennismaking met sy gedigte besorg. Ek het die handskrif met soveel
genoeë deurgelees, dat ek daar ten volle van oortuig was, dat dit te
goed is om in ‘n tafellaai te lê en roes. Ek laat dit aan die leser
oor om te oordeel, of ek heeltemal verkeerd het![Pg xxxi]

Die gedigte was my weer ‘n nuwe bewys, dat ons eie Afrikaans tog maar
die natuurlikste voermiddel vir die Afrikaner is; en dit het dan ook
tot my hart gespreek op ‘n wyse, soas alleen die moedertaal by magte
is.

Ek het van die gedigte van my vrind Leipoldt gehou, want ek het daarin
gekry ‘n ware digtersiel vol gevoel en verbeelding, wat weet om die
leed van homself en van sy volk te vertolk; ‘n wonderlike
vertrouelikheid met die lewe, kleure en poësie van die natuur; en ‘n
ongekunstelde, melodiese Afrikaans—kenmerke, wat die skrywer m.i. ‘n
eervolle plaas onder ons ander Afrikaanse digters besorg. Die inhoud
van die gedigte kan in sy eie woorde opgesom word:

Ek sing van die wind, wat tekeer gaan,

Ek sing van die reën, wat daar val,

Ek sing van ons vaal ou Karooland,

Van blomme, wat bloei by die wal,

Van water, wat bruis oor die klippe,

Van duikers, wat draf oor die veld,

Van voëls, wat daar sing in die bossies,

Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

Is iemand vatbaar vir egte natuurgenot, laat hy dan die Lenteliedjie
en Oktobermaand lees, waar hy ‘n pragtige natuurprentjie in
bekoorlik-eenvoudige taal geskilder sal aantref. Maar hoe lief
Leipoldt ook al die natuur het, dit is nie hoofsaak by hom nie: dit
dien maar vir teëstelling of vir agtergrond vir sy eie diepgevoelde
smart. Hy is in die eerste plaas ‘n digter, wat onthou, wat sy volk
wedervaar het.[Pg xxxii]

Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?

Die smarte, die angs, het so baie gepla?

Die yster het gloeiend ‘n merk vir die eeue

Gebrand op ons volk, en die wond is te na,

Te na aan ons hart en te diep in ons lewe:

“Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!”

Dieselfde snaar hoor ons besonder duidelik tril in Aan ‘n
Seepkissie
, Die ou Blikkie, Vrede-aand en Oom Gert vertel.

Ja, Leipoldt is iemand, wat in sy siel voel en wat “uit pure
verstrooiing” genoodsaak word om te sing; en vir my altans het sy sang
geweldig bekoor.

Ek heet die gedigte hartelik welkom, en hoop, dit sal ‘n weerklank
vind by menige Afrikaner, wat nie alleen ‘n oog het vir die skoonhede
van die natuurlewe en ‘n oor vir die klanke van ons eie taal nie, maar
ook ‘n hart vir die lyde van ‘n digter, wat meevoel met sy volk.

JOHANNES J. SMITH.

Londen, Oktober 1911.
Stellenbosch, Oktober 1916.

FOOTNOTES:

[1] “Nederlands” word in hierdie Inleiding altyd gebruik in
sy wye betekenis, en sluit in: Hollands (die taal van die Hollanders),
Vlaams (die taal van die Vlaminge) en Afrikaans (die taal van die
Afrikaners). Hollands en Afrikaans is twee standaarde of vorme van
dieselfde Nederlandse taal.

[2] Ook Vlaams kan as ‘n aparte standaard van die Nederlandse
taal beskou word; maar die verskil tussen Hollands en Vlaams is nie so
groot as die tussen Hollands en Afrikaans nie. Daar is ook al ‘n
Indies-Nederlands, wat veral in woordeskat heel wat afwyk van
Hollands-Nederlands.

[3] So is Engels oorspronklik niks anders as die dialek van
Londen, Hollands die dialek van Suidholland, Frans die dialek van
Parys, ens.

Afrikaans is reeds dikwels by een of ander van die vele Nederlandse
dialekte vergelyk; maar sulke vergelykinge lewer geen afdoende bewys
nie, want uit ‘n blote taaloogpunt beskou, is Hollands ook maar ‘n
dialek van Duits, en Portugees ‘n dialek van Spaans.

Die taal van ‘n afsonderlike volk en van ‘n uitgestrekte wêrelddeel is
nie dieselfde nie, as die taal van die inwoners, dikwels alleen van
die laagste inwoners, van een of ander stad of streek, wat maar ‘n
kleine onderafdeling vorm van ‘n groter geheel; en Suidafrika staan in
‘n heel ander verhouding tot Nederland, as, sê, Rotterdam of Zeeland.

[4] In 1916 is dit waarskynlik nie meer waar nie. Afrikaans
geniet nou al aansienlike erkenning in die laer onderwys, in enkele
kerkgenootskappe, in die dagbladpers en op publieke platforms. En Jong
Suidafrika is byna as één man ten gunste van Afrikaans.

[Pg 2]


GEDIGTE.


[Pg 3]

Oom Gert vertel.

Ja, neef, wat kan ek oumens, jou vertel?

Jy wil die storie van ons sterfte hoor?

Nou goed!

Dis nooit te laat nie om daarvan

Te leer en van gebruik te maak, veral

Vir julle, jongling-mense. Hou maar vas

Aan wat ons het, en staan orent, en neem

Jul aandeel aan ons nasie!

Maar jy kom

Verkeerd by my; daar ‘s menige beter man,

Wat jou die storie goed agtermekaar,

En met ‘n les daarby, en meer begrip

Van al die politiek ook, kan vertel

As ek: ek weet maar uit my eie siel,

En kan maar grawe uit my eie hart,

En dit is baie oud en amper dood—

My hart, meen ek—en waarlik, as jyself

Soveel het deurgemaak, soveel gely,

Soveel geworstel, en soveel gesien,

Van wat jy liewers nooit nie het gesien,

Dan was jou hart ook nie meer sonder kraak.

Maar kom—wat kan ek nou vir jou vertel?

‘n Lang geskiednis is dit! Treurig ook,

Want daar gaan snikke en trane deur, ou neef!

Wil jy dit aanhoor? Goed!

Maar sit, man, sit!

Ek kan jou nie vertel nie, as jy staan.

Sit daar. (En, Gerrie, gee hom wat te drink,
[Pg 4]
En pa kan ook ‘n slukkie koffie sluk.)

Nou ja, jy weet, neef, toe ons mense hier

Almal beteuterd deur die oorlog was,

Het kakies op kommando hier ons dorp

Beset, en Martjie Louw geproklameer.

Ou Smith, die magistraat—hy was ‘n man

Vir wie ek eerbied voel, al is hy Engels:

Hy was tog altyd nog ‘n jentelman,

En het met onse mense akkordeer;

Maar hulle het hom soetjies afgesit

En na Oos-Londen toe gestuur, omdat

Hy nie na hulle pype vlot wou dans,

En in sy plaas ‘n kolnel aangestel;

Sy naam—nou Gerrie, wat was ook sy naam?

Jones? Nee, kind, dit was maar sy offisier—

Jy weet, die aap met strepies op sy mou—

Ek het dit! Wilson was die vent se naam:

‘n Dik, vet kêrel, met ‘n grysgeel snor,

En lang slagtande, en rooi in die gesig;

Die mense sê, hy suip; maar ek het nooit

Hom dronk gesien; en wil ook nou nie meer

Agter sy rug die man beskinder nie,

Al was hy ook ‘n deugniet—dit maak niks!

Hy het ons onderdruk; sy hand was hard:

Geen lig mag in die kamers brand; geen mens

Mag buite op die straat gaan na agtuur;

Orals het hy op ons spioen, en selfs

Ons huise deurgesnuffel om te sien,

Of ons miskien nie wapens het of kruit,

Patrone, doppies of so iets; hy dag,

Ons het ‘n heelboel kos byeengegaar

Om vir die Boerkommando’s af te gee.

Ja, neef, sy hand was hard! (Hartlam, gee weer
[Pg 5]
Die suikerpot; twee klontjies is te min;

Jy weet, pa drink sy koffie soet.)

En ons

Was deur die war daarmee, half uit ons vel;

En niemand van ons mense het geweet,

Wat môre of oormôre vir ons wag.

Die dorp was vol gebrom, net soos ‘n deeg,

Waardeur jy goed die suurdeeg het geknee—

Jy weet, hoe rys die ding: nou net so ook

Met onse mense! Maar wat kon ons maak?

Die jongmense veral was baie steeks—

Ons kon hul byna nie in toom meer hou—

En twee van hul het sieto omgespring.

(Hartlam, neef Klaas se koppie is weer leeg.)
Een aand kom Bennie Bêrends na my toe,

En met hom Johnnie Hendriks, Saarl se seun.

Hul het die straat so stiltjies oorgespring:

Die skildwag het hul nooit nie eers bespeur—

Anders het ek en Saarl daarvan moet hoor,

En op die koop ‘n boete nog betaal!

Ou Saarl was altyd maats met my gewees,

Maar hy het in dieselfde maand gesterwe

Van kanker in die maag—die Heer se hand!

So het hy nie die dag oorleef. Maar kom,

Ek gaan te vinnig met die saak vooruit.

Hier op my stoel het ek gesit, en daar

Waar jy nou sit, het Bennie ook gesit.

En Johnnie vlak naas hom. Ek sien hom nog,

‘n Opgeskote kêreltjie, nog nie

Heel droog agter die ore was hy toe,

Nogal astrant en sniprig met sy mond,

Dié jaar nog aangeneem. (Gerrie, my kind,
[Pg 6]
Haal tog die album.)—Hier is sy portret,

En hier is Bennie syne; daar is die reël,

Wat sy oorlede ma geskrywe het,

Die dag na—na—sy dood. Jy kan dit lees;

My bril die pas nie mooi, en in die rook

Kan ek so goed nie sien nie. Lees maar voor.

“Barend Gerhardus Barends,”—Reg! en nou?

“Geboren op den zesden Mei,”—Ja reg!

“Ge….”—Maak die boek maar toe: ek weet dit al!

(Hartlam, kom neem dit weg. Wat staan jy daar

Beteuterd as ‘n kat? Kom, skink weer in:

Ons het mos melk genoeg en suiker ook,

En Martjie Louw is nou nie in die dorp!)

Ja, Bennie was ‘n egte witmenskind!

My peetseun—en, ofskoon ekself dit sê,

‘n Regte mooi soort vroumens-kêreltjie,

So paal-orent en met ‘n kaal gesig:

‘n Skeermes het hy glo nog nie gebruik.

(Hartlam, gaan kyk, of Leentjie al die hout

In die kombuis gebring het.)

Ja, ou neef,

Hy het vir Gerrie hier gevry; en ek

Was ook nie teen die saak, want Bennie was

‘n Uitgesnyde jongetjie vir haar.

Jy sien, sy is nog nie goed oor die bult;

Maar ons moet almal oor die drimpel klim,

Al is dit ook so swaar, ons hart moet breek!

En hartlam sal ook met ons Liewen-Heer

Se seën daaroor stap, en haar smart vergeet,

Al gaan dit moeilik—maar dit moet tog gaan!

Maar as ons oor hom praat, dan pas dit tog,

Dat ons haar eers die kamer uit sal stuur.
[Pg 7]
Nou goed! waar was ek?

Ja, die aand, toe hul

By my kom raad vra. Bennie had ‘n plan:

Hy wou met Johnnie weg na Witkransspruit—

Dáár, so het hul verneem, was Smuts gelaer

Met sy kommando.

Ek was amper flou

Om dit te hoor. Ek het vir hul vermaan—

Maar nee!

Ag, neef, ‘n jongmens is tog steeks!

En Ben was altyd koppig: selfs as kind

Het hy daar baie keer om sla gekry!

En hul was vas beslote om te gaan.

Ek het twee perde toe by my gehad—

Die kakies het dit nog nie afgeneem—

Ek weet nie waarom nie, maar ek kan sweer,

My skuld was dit nie, dat die diere nog

Daar in die tuin gestaan het, maar hul het!

Nonnie—my vrou en Gerrie haar ma: sy het

Dieselfde jaar gesterwe in Goudini,

Van hartkwaal, want die oorlog het haar ook

Gebreek in siel en liggaam—Nonnie ook

Het meegewaarsku, maar dit was vergeefs!

“Ons kan dit nie hier uithou nie, Oom Gert,

‘n Mens moet tog iets vir sy nasie doen.”

“Doen! doen! iets doen! ag, wat kan julle doen?

Wat kan ons algar doen?”

Maar tevergeefs.

Nonnie het toe my knapsak volgeprop

Met biltong en beskuit; en ek het self

Die saalsakkies met hardgekookte eiers

En ander padkos volgelaai, want hy

Was tog my peetseun, en dan Johnnie ook
[Pg 8]
Neef Saarl se seun—en Saarl en ek was maats!

So kan geen mens my dit tog kwalik neem,

Al was ek ook ‘n Britse onderdaan:

Kan ek my eie vlees en been sien ly,

As ek nog kos het? Nee, neef, ek hou vas:

En my gewete het my nooit gekwel!

So, kort en goed, die twee is weg en hoor,

Die môre was die heel gespuis om my!

Die kolnel, as ‘n brommer, gons en gons

En vloek en maak lawaai—maar ek staan pal.

Ek kon mos nie gehelp het, dat die perde

Nog in die tuin gestaan het, en ek sê,

Dat dit sy skuld was, en nie myne nie;

Maar van die biltong en beskuit en eiers

Het ek hom toe maar liewers niks gesê.
Hoe ons die maande deurgelewe het?

Neef, vra my nie! Die tyd is as ‘n wolk,

Wat oor ons hang, en nie maar oor ons dorp,

Maar oor ons land, die hele nasie oor!
Op een dag kom die nuus…. (Wag, hier ‘s sy weer.—

Ag, hartlam, ja die hoenders van die stoep.

Kyk daardie haan; hy krap die blomme uit!)

Nou, eendag kom die nuus—ja, wat ‘n skrik!

Johnnie en Ben was albei vas gevang

En in die tronk gestop. ‘n Krygsgerig—

Jy weet die res! En daarop weer ‘n slag:

Die vonnis was—hul al twee word gehang!

Ons Liewen-Heertjie weet, dit was ‘n slag!

Ons het ons bes gedoen, maar tevergeefs;

Die vuilgoed skreeu om wraak—en hul moet hang!
[Pg 9]
Dié môre kom die hoofkonstabel sê:

“Die kolnel stuur sy komplimente!”—God!

Sy komplimente,—hoor! het jy verstaan?

Verstaan jy, neef?—sy komplimente!

Nee!

Bedaar, bedaar, my hart al kraak jy ook:

Ons moet die drimpel oor, al breek ons dood!
En “Asseblief, wil ek op môre kom

En sien, hoe ‘n rebel word getrakteer,

Anders….” Die hoofkonstabel was ‘n man;

Hy het hom nie op sy gemak gevoel,

Toe hy die boodskap aan my het kom bring;

En ook die kakies, moet ek sê, was goed,—

Maar hul moes tog hul plig doen. Ek was bly,

Dat hul dit nie astrant gedoen het nie.

Die hoofkonstabel—Nichols was sy naam:

Hy ‘t later in die Vrystaat lood geëet

En dit nie goed verteer nie—sê vir my,

Die anders het ook so ‘n bevel gekry,

En daar sou meer van ons die—nou jy weet!—

Daar in die tronk aanskou. Hy waarsku my,

Ek moet maar kom, al gaan dit bo my keel.
Dié nag het ek en Nonnie nie geslaap.
Ja, ek onthou nog goed! Die dag was koel—

‘n Mens vergeet mos so ‘n dag nie gou!—

Met net ‘n bietjie oostewind, half koud,

Want Nonnie het daar sinkings van gekry:

Sy het aan sinkings veel gely, en kon

Nooit koue goed verdra nie. Soos ek sê,

Die dag was koel, en daarom was my jas

Dig toegeknoop—jy weet, ek hou daarvan
[Pg 10]
My onderbaadjie te laat spog: vir wat

Dra ‘n mens ‘n onderbaadjie, as geen mens

Dit sien nie?—Maar die weer was regtig fris.

En daarom was my baadjie toegeknoop.

En by die draai, daar onder by die meul,

Het ek die anders almal vroeg ontmoet,

Want, soos ek sê, ons algar was geroep.

Die predikant was daar, en Albert Louw—

Jy ken tog Skeeloog-Louw, neef Klaas? Nou ja!

En Michiel Nel, en Gys van Zyl, en Piet—

Maar Piet sal jy jou nie herinner nie,

Want hy was voor jou tyd; hy was ‘n vent

So sterk as Simson: arrie, hy was sterk!

En net so steeks as ‘n skerpioen was hy!

Maar koddig, neef, en ook ‘n grappiesmaker,

Selfs as die wolke donker was, en dof

Die donder deur die wolke dreun. Nou ja,

Ons algar het ons foute, en ek wil

Dit nie vir Piet Spanspek so kwalik neem,

Dat hy nog altyd grappies het gemaak,

Toe al ons anders mislik was en naar.

“Die wind skeef glad, neef Gert,” het hy gesê,

“Jy moet vir Ben jou oorjas leen: miskien

Kry hy swaar weer daar boontoe!” En hy lag!

Maar ek was bly, die predikant was daar:

Eerwaarde het hom op die plek berispe

En mooi die kop gewas.

“Is dit ‘n tyd

Vir pret, meneer Van Ryn?” het hy gevra.

“Foei, foei! hoe kan u so iets waag vandag,

As onse harte vol is, en ons oë

Nog donkerdof met trane vir ons land?”

(Hartlam, jaag tog die hoenders uit: hul maak
[Pg 11]
Die werf so vuil; ons kan ons selwers help.)

Maar Piet Spanspek was nooit nie op sy mond

Geval nie, en hy het ook voortgegaan

Met grappies maak, ofskoon ons niks van hom

Gehoor het en ook nie geluister het.

Ek dink, hy was so mislik as ekself,

Maar wou nie, dat dit opgemerk sou worde.
Ons het die voorplein van die tronk betree,

En dit was vol met kakies. By die poort

Het hul ons twee by twee laat binnekom.

Daar in die agterplaas, daar staan die galg,

En naas hom Ben en Johnnie, hand aan hand,

Want hul was nie geketting; en ons het

Verlof gekry om met hul te gaan praat,

Maar net vir vyf minute.

Ek was stom,

Geheel verbouereerd en sonder tong;

Maar Bennie het my by die hand gevat.

“Oom Gert, dis kant en klaar! Goeiendag, Oom Gert!

Sê vir Tant Nonnie en vir Gerrie—nee,

Sê liewers niks, want hulle sal verstaan.”

En Johnnie, met ‘n glimlag om sy mond,

Het ook my hand geskud. “Dag, Oom.” sê hy.

“Nee, Oompie, moenie grens nie!”—Soos ek sê,

Was Johnnie altyd half astrant gewees,

En sniprig ook.—”Nee, Oompie, moenie grens!

Ons het ons plig gedoen, en nou ‘s dit uit.”
Toe het hul met die predikant gepraat;

En ek, as naaste bloedverwant van Ben,

Het met hom na die galg gegaan en daar….

Nee neef, dis maar die rook! Ek word al oud,
[Pg 12]
En jou tabak is al te sterk vir my.

Ekself rook swak tabak: jy weet, dit maak

My oë nie so seer.

Nou waar was ek?

Ja, toe het ons hul almal handgegee.

Geeneen van ons kon praat nie; Piet was stom

En net so naar as ek, en een van ons—

Ek weet nie, wie dit was—het hard gesnik.
Die kakies het oor Bennie se gesig

‘n Sakdoek, of ‘n kopdoekie of iets

Net soos ‘n mus wil trek, maar Bennie vra—

En nog op Engels ook: hy kon dit praat—,

Of hulle hom nie sonder dit kon hang.

Die kolnel knik; en toe….

Nee, neef, laat staan!

Wat vat jy weer my hand? Laat bly my hand!

Vervlaks, hoe kan ek nou vir jou vertel,

As jy my somaar afbring van my rym?

Blaas net jou rook uit na die ander kant:

My oë is te oud vir jou tabak!

(En, hartlam, haal vir pa ‘n sakdoek.)

Nou,

Daar is nie meer. Ons het weer tuisgekom,

En in die kamer hier het ons gekniel;

‘n Korte bidstond het die predikant

Gehou vir ons—en daarna was dit uit.
Dié aand nog het neef Piet en Skeeloog-Louw

Die dorp uit na die naaste plaas getrek

En hulle by ons mense aangesluit.

(Hartlam, gee weer vir pa die suikerpot,

En skink dan nog ‘n koppie vir neef Klaas.)

[Pg 13]

Oktobermaand.

Viooltjies in die voorhuis,

Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies orals op die veld,

En orals, ai, so mooi!
Dit is die maand Oktober,

die mooiste, mooiste maand:

Dan is die dag so helder,

so groen is elke aand,

So blou en sonder wolke

die hemel heerlik bo,

So blomtuin-vol van kleure

die asvaal ou Karoo.
Dit is die maand Oktober:

die varkblom is in bloei;

Oor al die seekoegate

is kafferskuil gegroei;

Die koppies, kort gelede

nog as ‘n klip so kaal,

Het nou vir welkomsgroetnis

hul mooiste voorgehaal.
Dit is die maand Oktober:

die akkerboom is groen;

Die bloekoms langs die paaie

is almal nuutgeboen;
[Pg 14]
En orals in die tuin rond

ruik jy sering en roos,

Jasmyn en katjiepiering,

lemoen en appelkoos.
Al was die dag soos yster,

lank in die vuur gesteek,

Die varings in die klofies

deur hitte geel verbleek,

Tog as die son daaronder

agter die berge gaan,

Dan word oor heel die wêreld

die mooiste geur geslaan.
Dit is die maand Oktober:

die kokewiet is uit;

Boomsingertjies en kriekies

die hoor jy orals fluit;

Fiskaal is op die oorlog:

daaronder by die sluis,

Daar is ‘n dor ou doringboom

sy spens en sy kombuis,
Dit is die maand Oktober:

ek dink, die mense vier

Vir ewig in die hemel

Oktobermaand soos hier!

Wat wens jy meer as blomme,

as helder dag en nag?

Wat kan jy beter, mooier,

of heerliker verwag?
[Pg 15]
Ek is nog in Oktober:

my tuin is nog so groen,

So wit met al wat mooi is,

met bloeisels van lemoen,

So pragtig in die môre.

so heerlik in die aand!

Ek is nog in Oktober,

die mooiste, mooiste maand!
Wat gee ek om die winter?

Wat praat jy nou van Mei?

Wat skeel dit, as ons later

weer donker dae kry?

Ek is nou in Oktober,

die mooiste, mooiste maand,

Met elke dag so helder,

so pragtig elke aand!
Viooltjies in die voorhuis,

Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies orals op die veld,

En orals, ai, so mooi!

[Pg 16]

Aan ‘n ou Boek.

Op die solder, waar die rotte

Hulle neste het gebou,

Waar die vlermuise en motte

Elke aand kommissie hou,

Het ek jou gevinde, ou maat, en jou maters lê daar nou.
Voor ons voorgeslag gebore

Was, het mense jou gelees;

Monnik, ridder, lang tevore,

Was met jou al maats gewees,

En hul het hul siek gelag oor al jou vuur en al jou gees.
Baie jare al gelede

Lê jy op die solder daar,

Rustig in jou rus, tevrede

Met jou lot, van jaar tot jaar.

Ou maat, waarom het die rotte vir ons al jou gees gespaar?

[Pg 17]

In Amsterdam.

As ek vanaand so moedersiel

Alleen hier by die vuurherd sit,

Dan borrel my geheue op,

En maak my hart en siel uit lid;
Dan dink ek aan die veld, en aan

Die doringbome by die krans,

Waar koggelmannetjies die son

Hou vir ‘n maat om mee te dans;
En aan die duine, waar die wind

‘n Wierook na die see toe waai,

En aan die dam, waaroor die voëls

So vrolik in die nessies swaai;
En aan die seekoegate, waar

Die kafferskuil en ruigte groei—

‘n Donker groen die water oor,

‘n Tuin, wat nooit nie word gesnoei;
En aan die koppies, waar die son

Ons Afrikaanse klippe soen.

En aan ons ou Karoo, so mooi

In al sy geil Oktober-groen!
En hier—hier waai die wind, en raas

Die strate om my; karre dreun;

Die trein daarbuite fluit en rook:

Dis orals galm, en gons, en steun!
[Pg 18]
Dis alles oud, so aaklig oud,

Die wye wêreld om my heen!

Aghonderd jare praat met my—

En tog—ek gril en voel alleen!
Ons kom van hier; ons wieg was hier,

Of verder, in die suiderland—

Hier, waar die Watergeuse was,

Hier, waar die strate is half strand.
Ou Amsterdam, ou Amsterdam,

Met al jou pronk, met al jou prag,

Met al jou smeerge strate ook,

Jy het nog oor my siel gesag!
Ek voel, as ek hier moedersiel

Alleen so by die vuurherd sit,

Wat jy nog vir ons nasie is—

En kyk, my hart kom weer in lid!
Ons nasie? ag, die mense praat:

Daar lê iets groots in woorde! Wat

Gee ons die reg om groot te wees,

Om saam te loop op so ‘n pad?
Vir tagtig jare het hul hier

Gestruikel in die duister rond,

Die dyke oopgebreek, die see

Gemaak tot bobaas van die grond,
Die land gedoop met vuur en bloed,

Die klei vir elke huis deurwerk

Met trane: so ‘n stad sal staan

Vir ewig—want die klei is sterk.
[Pg 19]
En elke duim van hierdie land

Is duur gekoop met suur en smart;

En elke morge is betaal

Met stukkies van ‘n mensehart:
Dit gee hul reg om trots te wees,

Dit gee hul reg om nou te pronk,

Al is dit lank gelede al,

Al is die see weer in sy tronk.
En ons? ons wil ‘n nasie wees!

Ook agter ons lê vuur en bloed;

Ook ons het vir ons land gestort

‘n See van trane: ja, dis goed!
Maar verder—wat? ‘n Nasie word

Nie somaar as die koring groot:

Dit moet deur werk, deur vlyt, deur smart,

Deur lewe ook word voortgestoot.
En as ek by die vuurherd sit

En in die vlamme kyk, dan voel

Ek in my siel, daar skort nog iets—

Nog iets? nog iets?—’n hele boel!
Daarbuite spook die wind weer hard;

Die vensters skudde: wat ‘n nag!

Ou Amsterdam, ou Amsterdam,

Jy het nog oor my siel gesag!

[Pg 20]

In die Boesmanland.

Vaal rotse rondom, met vaal sand en klei,

En boesmangras en varings, geel en groen—

Wat ‘n mooi wêreld hierdie! mooi geboen

Deur die Natuur, en mooi ook deurgebrei

Met bossies en met blomme! Dis vir my,

Asof die son die wêreld self wil soen,

En ook die sterre daaraan mee wil doen

By nagtyd, as die veld sy sluier kry:

Hier was my tuiste in my woeste jaar,

Toe ek nog kind was, sonder pyn of vrees,

Want ou Paaiboelie self was toe te klein!

Al die rooi klippies het ek ingegaar,

En al die varings was vir my gewees

Maters, wat elke somer het verdwyn.

[Pg 21]

Op die Kerkhof.

Eergister het ek na die plek gegaan,

Daar waar die aalwyn en die varkblom bloei,

Daar waar die doringboom nooit word gesnoei;

Waar elke leiklip as ‘n grafsteen staan.

Dit was al laat, en om my het die maan

‘n Silwerlig versprei, soos, as jy roei,

Die lang, blink sterre in die water groei.

Die kerkklok het strak agter my geslaan,

Ses, sewe, ag en neënuur, en nou

Was alles weer heel stil. Ek dag, ek hoor

Die aandgebed van elke mug en mot,

Wat in die maanlig kom vergaadring hou:

Hul sing en maak gegons, net soos ‘n koor,

As lofsang aan ‘n onbekende God.
As ek nou eenmaal sterwe, as ek is

‘n Lyk, waarin geen asem en geen krag,

Met hande sonder voelte, sonder mag,

En met ‘n oog, wat al sy glinstring mis—

As ek so lê, en self niks kan beslis,

Moet julle my nie uit die helder dag

Wegslinger in ‘n eindelose nag,

Wat niks as my verwording vergewis;

Want ek wil nie tot duister kerkers keer,

Die noue graf vir ewig om my voel!

Verbrand my liewers, dat ek boontoe rys,

In vuur en vlam kan opklim tot die Heer,

Deur al die wêreld se rumoer en woel,

Tot oor die drimpel van die Paradys.

[Pg 22]

In ou Booi se Pondok.

Outa Booi, die wind speel dapper,

en dis bitter, bitter koud;

Kyk, daarbuite spoel die bliksem

al die wolke geel met goud;

En jy bibber in jou bene,

want jy is al baie oud.
Is daar plek, hier by jou vuurherd,

waar ‘n Kristenmens kan sit?

Gooi nog hout daar op die kole,

want jou as is amper wit:

En die kou die gee jou sinkings,

en dit trek jou been uit lid.
So! nou is ons lekker warm hier,

Gee ‘n kommetjie vir my

Vol met koffie uit die kan daar,

outa, aan jou regtersy:

Ek hou baie van goei koffie—

as ek dit maar nog kan kry.
Kom, vertel my uit die verte,

toe jy nog ‘n slafie was,

Toe die oubaas jou verkoop het

vir twee perde en ‘n kas—

Net soos jy nou self aan oubaas,

vir sy looi, jou sakkie bas.
[Pg 23]
Was die mense toe so vroom al,

as die mense is vandag?

Het die boere toe die swartvolk,

soos ‘n boerplaas maar verpag?

Het ons toe, soos nou, oor alles,

wat belangryk is, gelag?
Was dit lekker in die dae?

Was dit beter in die tyd?

Was die ounooi regtig ounooi

vir haar jong en vir haar meid?

En die oubaas regtig oubaas?

Was die wêreld al so wyd?
In die Kaap, daar lê ‘n ketting—

ja, dis oud, maar dis nog heel—

In ‘n kamer, swart en donker,

van die aaklig ou Kasteel,

Met ‘n ring, wat vasgemaak was

eertyds om ‘n slaaf se keel.
Daar’s ‘n kats daar, en die plek nog,

waar die galg gestaan het: ja,

Onse ouers het geweet, hoe

om te martel en te pla,

Maar miskien ook baie beter,

hoe om pyn en smart te dra.
Daar was reuse in die dae—

ook al was die wêreld vaal,

En al het ook daar die duiwel

in die donker rondgedwaal,

En so baie van die harte

met sy nukkies opgesaal.
[Pg 24]
Daar was liefde toe, kennis—

skoon ons nou daarmee so spot—

Elke man was groot genoeg toe

vir sy eie siel en lot,

En ek glo nie, as ‘n nasie

was ons mense toe so vrot!
Ja, ek weet ons het gely toe—

daar is altyd rou en pyn!

Laat jou grootste vat maar ope,

met jou beste, soetste wyn:

Proe dit oor ‘n maand, en waarlik,

dit is amper nes asyn!
Kom daar ooit ‘n kind ter wêreld,

groei hy op en word hy droog,

Sonder dat hy ooit sy trane

het moet wegveeg uit sy oog?

Ja, jy maak ook nie rosyntjies,

wat sal goed bly sonder loog.
As ‘n mens met vuur en vlamme

tot sy gorrel volgeprop,

Met ‘n hoop op seker uitkoms,

waar sy hart van helder klop,

By die vuurherd sit te luister,

op wat omgaan in sy kop,
Sonder bang te worde, sonder

op sy hoop te struikel—staan

Penorent, kordaat en wakker,

as die wêreld ook vergaan,

En die son word donker, duister,

en nog donkerder die maan—
[Pg 25]
As ‘n mens met ideale

elke keer sy ideaal

Sien verbygaan voor sy oë,

nes ‘n ster, wat skiet en straal

Vir ‘n oomblik in die hemel

en dan in die see verdwaal,
Sonder vrees, vir wat sal worde,

as die nag nog langer duur,

As die wind nog kouer warrel,

en die naglug trek so guur,

As die lewe skyn so bitter,

en die toekoms lyk so suur,
Sien hy nooit nie in die vuurherd,

wat is groot en wat is klein—

Nooit tevrede met die toekoms,

nooit versadig met die wyn,

Want die suiker is te suinig,

en die drank smaak soos asyn.
Tog—daar is ‘n toekoms altyd:

waar vandag is opgeslaan,

Daar op Golgotha, die kruise,

sal die mense môre staan

Rond die heiligdom van helde,

wat alléén is voorgegaan.
Waar ons nou net bitter trane,

klagte, sugte, smart gewaar—

Waar die koringvelde kaal staan,

en die droogte druk so swaar,

Wys die toekoms diamante

en die koring in die aar.
[Pg 26]
Jy was ketter nog eergister,

en vanmôre is jy vroom!—

Laat vanaand se melk maar stil staan,

môre kry jy tog die room!

Slaap gerus maar, slaap gerus maar,

ja, hoe swaar ook is jou droom!
Jy was sondaar in jou sede—

elke woord het jou gekwets:

Vir die een was jy te nuut al,

vir die ander ouderwets!

Op jou siel is al jou smarte

met jou lewenssuur geëts.
Jy was vyand vir jou vrinde:

elke kêrel op die straat

Het ‘n broederlik berisping

op jou wandel afgepraat.

En die aakligste van almal,

en die kwaaiste was—jou maat!
Ja, jou vader was ‘n Boesman:

en die volkies is nie mooi,

Met ‘n agterste, wat uitloop

as ‘n afgesakte kooi;

En jyself is nie te ekstra

as ‘n spoghings, outa Booi!
Het hy ook ‘n hart besit toe

soos ‘n witmens, en ‘n stem?

Was dit koddig, as hy sanik

soos ‘n strandmol in die klem,

Of ‘n wawiel op die hoogte,

wat geskraap word deur die rem?
[Pg 27]
Hy was mens—miskien ‘n reus ook,

want ‘n siel is nie so klein

As ‘n vlees-en-bene liggaam,

ook al is dit nog so fyn:

Ag, ‘n liggaam dra maar laste,

en ‘n siel die dra mos pyn!
Wat is van jou pa geworde?

As hy reus was, is hy nog;

As hy dwergie was—soos ons nou—

ja, dan was hy maar ‘n bog.

Hy was Boesman, skelm en deugniet—

ja, maar mens dit was hy tog!
Maar wat lol ons met die Boesmans,

wat tog almal heidens was?

Hulle moet vir hulle toekoms

selwers maar het opgepas.

Is dit onse skuld, die volkies

is vergaan soos droë gras?
Vra jouselwe, as jy moeg word,

en die wêreld is so stil,

Wat jou lot is, wat jou toekoms:

is dit God die Heer se wil,

Dat ‘n nasie uit sal sterwe,

of maar die Natuur se gril?
Weet jy seker, wat beslis is?

of daar ooit beslissing is?

Wie vertel jou, as jy raak skiet?

Wie vermaan jou, as jy mis?

Sal jy alles weet, of niks nie,

as jy lyk is in ‘n kis?
[Pg 28]
Arrie, outa, dit word koud hier,

en jou stories maak my vaak.

Jou goei koffie is verbrand, glo,

want dit het ‘n bitter smaak.

Dit word tyd dat ons goeien-nag sê,

eer jy van jou draad afraak.
Kleiner, kleiner, en nog kleiner—

dis verdrietig, maar dis waar—

Word ons as die jare omgaan;

en ons het maar nog een snaar,

Om ons deuntjie op te speel, en

ag, die een is amper klaar!
Maak die deur maar toe, en sê maar,

soos ek sê vir jou, goeien-nag!

Gaan maar slaap nou, net soos ek ook,

outa! Slaap, en droom, en wag

Tot die skemer in die ooste

sê, dis weer ‘n nuwe dag.

[Pg 29]

Die Verkleurmannetjie.

Daar op die vyboom sit die vabond,

So sedig as ‘n predikant;

Maar glo tog nie, dat hy so vroom is:

Nee, regtig nie, hy is astrant!
As jy hom aanraak, dan verkleur hy,

Geel, rooi, grys, bruin, en blou en groen;

En al sy vel blink soos die skulpies

Se binnekant met perlemoen.
So teemrig sit hy op sy takkie

Die muggies met sy tong te vang.

En met sy ronde oë maak hy

Die spinnekoppe algar bang.
Hy draai sy nek soos ‘n toktokkie,

Of soos ‘n papie uit die klei,

En kyk so sedig na die vliegies,

As hy die goed nie beet kan kry.
Arrie, ek hou van jou, kleurklasie!

Jy gaan jou lewe deur so mooi;

jy steur jou nie, aan wat die mense

So praat of skinder en flikflooi.
Jy steun op niemand nie, kleurklasie,

Net op jou takkie en jou tong:

Verkleur maar môre net soos gister;

En as jy oud word, bly nog jong!

[Pg 30]

‘n Nuwe Liedjie op ‘n ou Deuntjie.

Siembamba, Siembamba,

Mame se kindjie, Siembamba!

Vou jou handjies same

En sê ame,

Mame se kindjie, Siembamba!
Lokasieliedjie.

Siembamba, Siembamba,

Mame se kindjie, Siembamba!

Vou maar jou handjies saam, my kind:

Hoor tog hoe huil die noordewind!

Hier in die kamp is alles stil,

Net maar die wind waai, soos hy wil;

Net maar jyself kan kreun en steun:

Niemand sal hoor nie, niemand, seun!

Almal is besig! Oor die land.

Drywe ‘n wolk van die noordekant—

Swart as die rook uit die skoorsteen puil,

Swart as die nag, en as roet so vuil:

Vou maar jou handjies dig tesame,

Sluit maar jou ogies en sê ame!

Siembamba, Siembamba,

Mame se kindjie, Siembamba!

Jy, wat die hoop van ons nasie is;

Jy, wat ons volk so min kan mis;

Jy, wat moet opgroei tot ‘n man;

Jy, wat moet plig doen, as jy kan:

Jy, wat geen deel aan die oorlog het;
[Pg 31]
Jy, wat moet sing uit pure pret—

Jy moet verkwyn in ‘n kinderkamp,

Jy moet vir vrede word uitgestamp:

Vou maar jou handjies dig tesame,

Sluit maar jou ogies en sê ame!
Siembamba, Siembamba,

Mame se kindjie, Siembamba!

Kinkhoes en tering, sonder melk:

Bitter vir jou is die lewenskelk!

Daar is jou plek, by die graffies daar—

Twee in een kissie, ‘n bruilofspaar!

Alles vir ons, wat die oorlog hou,

Alles vir ons, en niks vir jou:

Jy het van ons jou plig geërwe—

Plig om as kind vir ons land te sterwe!

Al, wat jy wen, is dat ons onthou:

Meer was die vryheid as kind of vrou!

Vou maar jou handjies dig tesame,

Sluit maar jou ogies, en sê—ame!

[Pg 32]

Die Sterretjie.

Fonkel, sterretjie, fonkel,

Hoog in die lug so blou!

Kort is die dag, en lang is die nag;

Dood is jou skyn, eer die son jou verwag:

Snel sal jou glans in die môre verflou:

Fonkel, sterretjie, fonkel!
Fonkel, sterretjie, fonkel,

Hoog in die lug so hoog!

Engele daar kan jy byna gewaar,

Onder die wolke die hemelse skaar,

Elk met jou silwerwit skit’rende oog:

Fonkel, sterretjie, fonkel!
Fonkel, sterretjie, fonkel!

Lag in die lug daar bo!

Hier is dit sleg, want die dag is mos weg,

Oor al die veld het die nag hom geheg,

Tot as jy skyn—ja, dan kan ‘n mens glo:

Fonkel, sterretjie, fonkel!
Fonkel, sterretjie, fonkel,

Bo in die lug so blou!

Kort is die nag, en lang is die dag,

Hier, waar ons lewe en pligte verwag,

Lig van die son, maar tog swart van die rou:

Fonkel, sterretjie, fonkel!

[Pg 33]

Aan my ou Vrind.

Jy is al tagtig, en jou kop is wit—

Wit soos die sneeu, en witter as ‘n wolk

Daar bo ons in die bloute van die lug.

Jy is al tagtig, styf in elke lid—

Maar nog vir my, en altyd vir ons volk,

Van wat voorheen was, wat sal kom, ‘n tolk,

Wat goed sy taal verstaan en praat kan sonder sug.
Jou oog is flink nog, en jou hand is vas:

Jy kan ‘n jongmens nog as leier dien

Oor al die paaie, wat jy het deurkruis;

Jy kan nog help met elke sware las—

Jy, wat so veel gehoor het en gesien

Van agtien-dertig tot aan neëntien-tien,

So lang geswerwe het—so na nou aan jou huis!
Nooit is jou hande swak vir goeie werk,

Nooit dof jou oog—al dink jy aan die tyd,

Die tagtig jare van jou lewensbaan.

Soms was jy swak miskien; soms was jy sterk;

Soms was jou hart gekwel deur haat en nyd;

Soms het jy pyn gehad, miskien ook spyt,

En soms as lewensprys jou fooi betaal—’n traan.
Die tagtig jare was nie almal goud,

Selfs silwer nie! Die weer was somtyds swaar;

Met wolke swart, met blits die hemel ryk;

Na elke somer kom die winter koud!
[Pg 34]
Nie altyd nie het jy die son gewaar,

Die goud sien blink as vonke in ‘n aar;

Nie altyd het jou pad die vlakte deurgestryk.
Vir tagtig jare het jy volgehou,

En hou nog vol—al bewe ook jou hande,

Al moet jy om te lees jou bril gebruik.

Nog is jou stem nie afgedaan en flou,

Nog is jou gees nie ingeklem in bande:

jou tagtig jare is nog nie ‘n skande,

Waarvoor jou grys ou kop in rou hoef weg te duik.
Jy kyk getroos jou tagtig jare trug,

Op al jou lang, lang lewe op land en see—

Jou loopbaan so met ondervinding ryk—

En praat daaroor nog sonder traan of sug:

Die hele reis daar het jy vrede mee.

Ekself sou baie graag my beste gee,

As ek eenmaal soos jy getroos terug kan kyk!

[Pg 35]

In die Konsentrasiekamp.

(Aliwal Noord, 1901)

O, pazienza, pazienza che tanto sostieni!

Dante.
Jou oë is nat met die trane van gister;

Jou siel is gemartel, deur smarte gepla;

Van vrede en pret was jy vroeër ‘n verkwister;

En nou, wat bly oor van jou rykdomme? Ja,

‘n Spreekwoord tot steun—daar’s geen trooswoord beslister:

“Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!
Hier sit jy te koes teen die wind, wat daar suie

Yskoud deur die tentseil, geskeur deur die hael—

Jou enigste skuil in die nag teen die buie;

Die Junielug stort oor die stroom van die Vaal—

Jy hoor net die hoes van jou kind, en die luie

Gedrup van die reendruppeltjies oor die paal.
‘n Kers, nog maar anderhalf duim, voor hy sterwe,

Brand dof in ‘n bottel hier vlak naas jou bed.

(‘n Kafhuis gee makliker rus: op die gerwe

Daar lê ‘n mens sag, en sy slaap is gered!)

En hier in die nag laat jou drome jou swerwe

‘n Aaklige rondte met trane besmet.
[Pg 36]
Hier struikel die kind, wat te vroeg was gebore;

Hier sterwe die oumens, te swak vir die stryd;

Hier kom ‘n gekerm en gekreun in jou ore;

Hier tel jy met angs elke tik van die tyd;

Want elke sekond van die smart laat sy spore

Gedruk op jou hart, deur ‘n offer gewyd.
En deur elke skeur in die seil kan jy duister

Die wolke bespeur oor die hemel verbrei;

Geen ster skyn as gids; na geen stem kan jy luister—

(Eentonig die hoes van jou kind aan jou sy!)

Wat sag deur die wind in jou ore kom fluister:

“Geduld, o geduld, wat so baie kan ly!
Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?

Die smarte, die angs, het so baie gepla!

Die yster het gloeiend ‘n merk vir die eeue

Gebrand op ons volk, en die wond is te na,

Te na aan ons hart en te diep in ons lewe—

“Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!”

[Pg 37]

Die ou Meul.

Rol, rol, ou wiel, en spat die skuim

Rond om die eende in die sluis!

Die water kom van bo die berg

Om in die meulstroom hier te bruis.
Twee groot pop’liere skadu jou,

Ou wiel; en as die winter kom,

Dan val die blare om jou as

En bewe, as jou speke brom.
Want nimmer het jy lang tyd rus:

Jy werk aldag en maak geraas.

Dof in my ore klink jou stem:

Ek hoor, hoe jy die water blaas.
Dis al ‘n jaar of dertig so—

Toe het ek eers jou stem gehoor—

‘n Donker Meidag met ‘n lug

Half toe, met wolke hoog daaroor;
Die ou pop’liere was nog kaal;

Die winter, ag, was lankal daar,

En op die berge was kapok:

Ja, dit was bitter koud en naar!
Ek het gekoes, verkluim van kou,

Maar jy het altyddeur gesing,

En al die ys daar in die sluis

Het jou nie van jou stuk gebring,

[Pg 38]

Kleingelowige.

“Nee, regtig, oubaas speel met ons die gek!

‘n Ding, wat sonder voete loop op spore,

Met vuur en vlam en vonke in sy bek?

Nog nooit het ek daarvan gehoor tevore!
“‘n Ding, wat vol met water word gestop,

Wat mense dra, en perde ook en skape?

Baas het ons swartvolk baiemaal gefop—

Vertel nou maar die storie aan die ape!
“Hoe kom die ding so sonder trekgoed deur,

En sonder leier? Arrie, baas, ek wil nou

Die storie goed uitpluis, want vir ouseur

Is so ‘n Bolands grappie maar ‘n gril nou!
“Ek glo daar net niks van nie: ja, al sweer

Baas op sy dawie, dis die egte waarheid.

Ons swartgoed word gefop een, twee, drie keer—

Maar nooit nie weer! Ag, oubaas, dis ‘n naarheid
“Om sulke dinge vir ou Klaas te sê:

Ek weet mos goed, daar is mos niks van waar nie!

Waar het die ding voorheen so lank gelê?

Of was dit in die outyd nog nie klaar nie?
“‘n Ysterperd, vervlaks, sê seur, wat spuit,

En vuur blaas uit sy neus en uit sy ore;

‘n Perd, wat harder as ‘n snip kan fluit,

En nooit nie flou of steeks is op sy spore;
[Pg 39]
“Wat agter hom ‘n tien stuks karre trek—

Arrie, die perd is bobaas van die pêr’e!

Maar seur, ons swartvolk is nie almal gek,

En baas is neus verby met baas se têre.
“Dis koddig in die Boland—ja, dis waar,

En dit wil ek ook glad nie nou bestry nie:

Die swartgoed self dra onderbroeke daar,

En spog daarmee: arrie, jy wil nie bly nie!
“En my oorlede vader het gesê—

Hy was nog slaaf en hy het nooit gelieg nie—

‘n Bolands baas het in ‘n bal gelê

Te kyk, of hy nie daarin rond kon vlieg nie:
“Nou ja, ek sien nie in, hoedat ‘n bal

Met man en muis so in die lug kan swewe—

Wie dit probeer, is seker gek, en val;

Miskien verloor hy daarby nog sy lewe.
“Maar nooit het ek gehoor van so ‘n perd,

Wat rondgalop of draf op ysterspore—

‘n Dier, wat nie eers maanhaar het of stert,

En net ‘n skoorsteen vir sy mond en ore!
“Foei, oubaas, foei! Baas skeer met ons die gek:

Maar ons word nooit van sulke grappies grys nie!

‘n Ysterperd met vonke in sy bek—

Nee, dit maak oubaas nooit vir outa wys nie!”

*  *  *

“Maar hoor, eerwaarde, het ek goed begryp?

Ekskuus, maar ek kan byna dit nie glo nie:

So iets steek mos ‘n mens nie in sy pyp

Om uit te rook—ek kom dit nie te bo nie!
[Pg 40]
“Eerwaarde sê, U het dit self gehoor?

Nou goed! Maar dit is koddig, dat die mense

My nooit daarvan vertel het, of daaroor

Gepraat het, en eerwaarde weet, my wense
“Is altyd nuus te weet; maar ek moet sê,

Eerwaarde se geskiednis neem my asem

Glad weg! ‘n Skuit, waarin ‘n dorp kan lê,

En wat gedrywe word deur wind en wasem;
“‘n Ysterskuit, wat honderd treë lank

En dertig treë breed is—dis ‘n wonder!

En as ek hier so stil sit op die bank,

Eerwaarde, kan ek dit nie glo nie sonder
“‘n Sterk bewys. Ek sê nie, dat U jok—

Nee, waarlik nie!—maar U het misgereken:

‘n Mens spring somtyds rond net soos ‘n bok,

En weet nie, wat sy woorde reg beteken.
“Hoe kan die skuit so oor die see gaan seil?

Waar sou dit heen, eerwaarde, as daar storm is?

So somaar weg te vlie, net soos ‘n pyl,

Dit kan hy tog nie, as hy so enorm is!
“Ek weet, die ark van Noag was al swaar,

En volgelaai met leeus en olifante—

Dit staat so in die Bybel en is waar—

Miskien met meubels ook soos ledikante?
“Maar nie in Eksodus of Genesis,

Eerwaarde, kan ek van ‘n stoomskuit lees nie;

Neem my nie kwalik, maar U het dit mis:

So iets, eerwaarde, is daar nooit gewees nie!”

[Pg 41]

*  *  *

“Aan spoke? Kêrel is jy mal? Jy weet,

Daar is geen spoke nie: dis ‘n versinsel.

Jy het nie daar die regte waarheid beet;

Dit stryk nie met ‘n Kristen se beginsel.
“Dié stories is maar laf! Ja, glo dit wel,

Hiernamaals gaan ons almal na die hemel

As salige, of sondaars na die hel:

Hoe kan die lug dan so met spoke wemel?
“En het jy van jou lewe ooit gewaar

‘n Spook? Nee, kêrel, en geen mens op aarde!

Die leuens sit so goed nie inmekaar,

En het vir my ook nie die minste waarde.”

*  *  *

Nou ja, oom, outa, neef, ek skeer die gek:

Dis amper tyd, dat ek daarmee al klaar is!

Die dinge is mos bo ons vuurmaakplek—

Maar wie kan sê, dat hulle nog nie waar is?
Die ysterperd hol deur die land met stoom;

Die kakies het gekom in ysterskuite;

Die spoke—nou, miskien het ek gedroom,

En huil en brul jou hond vir niks daarbuite!

[Pg 42]

Mordegai.

Ag, smous, waar gaan jy heen? Waar loop jy, smous?

Waarom so haastig, smousie? Sê vir my!

Jy het nog werk te doen? Ag nee, jy flous;

Jou werk is afgedaan: jy is mos vry.
Die hele dag het jy ons volk besteel;

Op alles tien persent of meer gewin!

Ja, krap jou kop, die waarheid jeuk mos veel,

En is nie altyd na ‘n mens se sin.
Wat maak jy, smous? Jy is mos Jood: nou kom,

Jy het jou wet—ek ken nog wat daarvan—

En tog, jy draai Levitikus maar krom,

En Deutronomie pas nie vir jou, man.
Het jy nie gisteraand by ons geëet?

En ons het varkvleeswors gebraai gekou;

En niemand van ons nasie is—jy weet!

Is dit geselskap vir ‘n Jood, vir jou?
Leer nie jou wet, jy mag nie woeker nie?

En jy vra tien persent, vir wat jy leen!

‘n Skande, smous! Glo jy, dat Moses dié

Verekskuseer? Dié man het jou laat steen!
En sê die wet nie, dat jou klere ook

Van een stoffasie en een kleur moet wees?

En kyk, jou broek en onderbaadjie spook

Nog bonter as ‘n mal ou Maketees!
[Pg 43]
En tog, ou smous, al heet jy Mordegai;

Al eet jy soms, so per abuis, ook sult;

Al is jy ook ‘n vent, wat altyd draai,

Wat doodgesteen moet worde op ‘n bult,
Waar al die mense jou kan sien, as jy

So rond moet spartel, as die klippe kom—

So sê jou wet, en dis genoeg vir my:

Dis joue, hoor, soveel jy daaroor brom!
Tog hou ek van jou, byna as ‘n vrind—

‘n Maat miskien, as dit nie sonde is!

Jy het my lekkergoed gegee as kind,

En niks daarvoor gevra—of het ek mis?
Miskien wou jy ook daarmee woeker, hoor!

‘n Kind se liefde ‘s meer as tien persent,

en klontjies goedkoop: waarom dan versmoor

So in ‘n sweetdoek jy jou een talent?

[Pg 44]

Aan ‘n Seepkissie.

Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,

Om hier in ons land as ‘n doodkis te dien;

Hulle het op jou letters geverwe, seepkissie,

En ek het jouselwe as doodkis gesien.
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,

Het hier in die kamp met sy sussie gekom—

En jy was bestem, soos jy weet, seepkissie,

Daar oorkant in England, as doodkis vir hom!
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,

Was fluks en gesond, vir sy jare nog groot;

Maar hier in die kamp, soos jy weet, seepkissie,

Was hy maar drie weke, en toe—was hy dood!
Onthou jy vir Jannie? Jy weet, seepkissie,

Hy het in sy speletjies met jou gespeel;

Die son het sy krulkop geskilder, seepkissie,

So blink as sy strale, as goud so geel.
Op die Vrydagmôre, onthou jy, kissie?

Het Tannie gesê: “Ag, klein Jannie die hoes!”

En die Vrydagaand, soos jy weet, seepkissie,

Was Jannie se lewe al half verwoes.
[Pg 45]
Hulle het jou op Saterdagmiddag, seepkissie,

Gedra na sy tent as ‘n doodkis daar!

Die wit gesiggie—jy weet, seepkissie,

Die handjies gevou en gekruis oormekaar.
Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,

Om hier vir ons kinders as doodkis te dien:

Hulle het vir jou lykies gevinde, seepkissie,

En ek het jouselwe as doodkis gesien.

[Pg 46]

Die Doringboom.

Kyk, hier is ‘n ou kameeldoring, amper kaal;

Sy blaartjies vuil en donkerbruin verbrand;

Sy stam gestrooi met geelgrys stof en sand;

Sy dorings wit as silwer, skerp as staal.

Hier staan hy nog, hoe dor die veld en skraal;

Hou stewig nog teen wind en storm sy stand—

Die oudste doringboom in ons doringboomland,

Wat reeds sy bloeityd tel vir honderdmaal.

Vir jare het hy hier sy goud gestrooi,

Die hele wêreld oor sy geur versprei,

Voor nog ‘n witmens hier was of ‘n pad;

Vir jare was hy bobaas hier, en mooi

Vol groen en goud: maar nou ‘s sy tyd verby—

‘n Afgeleefde doringboom, droog en glad!

[Pg 47]

Die Soutpan.

Kaal is die ou sandwêreld hier, en kaal

Die see daarbuite, waar die branders breek:

‘n Strand vol klippies en ‘n poltjie kweek

Van ruigtegras, nou nie meer groen, maar vaal.

Hier praat die veld ‘n onverstaanbre taal;

Hier maak die son die blou soutwater bleek,

Totdat hy saans vermoeid sy kop versteek

Agter die duine, waar sy glans verdwaal.

Hier staan die soutkors sonder vou of plooi,

Glad, silwerwit, en met ‘n goudgeel lys

Van modder en klei—hier dun en daar nog dig.

So arm die wêreld hier, en tog so mooi:

Stil, as ‘n oumens amper oor sy reis

En met die Dood se skadu op sy gesig.

[Pg 48]

Japie.

Vanmôre was Japie nog hier:

Vanaand is hy dood!

Met ‘n lag om sy mond het hy bruilof gevier

Met ‘n klein brokkie Engelse lood.
Vanmôre was Japie by my:

Vanaand is hy—waar?

As ‘n mens maar kan weet, waar hy eindlik sal bly,

Wie het dan vir die toekoms gevaar?
Vanmôre was Japie my maat:

Vanaand is hy—wat?

Sal hy nog met my lag, sal hy nog met my praat,

Of my hand in die syne weer vat?
Vanmôre was Japie ‘n kind:

Vanaand ‘s hy volleerd!

Ons het baie gestry om dié waarheid, ou vrind:

Weet jy nou, wie van ons had verkeerd?
Vanmôre was Japie—nee God!

Hy is nog vir my!

Want die dood kan nie skei nie, al is dit ons lot

Om alleen op die wêreld te bly.

[Pg 49]

Op ‘n Leiklip.

Hier onder die leiklip, daar rus (as hy rus:

Want wie weet, of waarlik die dood ons kan sus?)

My arme ou Vonk—en tog, arm is hy nie:

Hy het, wat hy wil: wie dit teenspreek, die lie.

Vir my was hy meer as ‘n halfduisend pond,

As kind of as kneg—ja, al was hy ‘n hond:

Ek het mos geen kneg nie, en ook nie ‘n kind,

En Vonk was vir jare my beste ou vrind.

Hy het altyd gehelp, hy was altyd ook klaar,

Vir die grootste plesier, in die naarste gevaar.

Oordag het hy met my die veld rondgeloop,

En miskien nog ‘n hasie geja op die koop.

In die aand het hy stil by die vuurherd gelê,

En ek het hom my hope en wense gesê:

Ons het same gepraat—ja, tot laat in die nag,

Tot die môrester daar was en amper die dag.

Was dit goed vir ou Vonk, dan verlaat hy sy plek

En kom staan by my stoel om my hande te lek:

Daarby het hy altyd gemeen: “Ek verstaan,

Baas, al wat jy sê, en ek laat dit begaan.”
Hier onder die leiklip, daar slaap (as hy slaap:

Is die dood maar ‘n droom, wat ‘n dier op kan raap?)

My liewe ou Vonk—want ek het hom nog lief!

My hart het hy gou weggesteel, as ‘n dief;

Maar hy het my syne gegee—en ek vra,

Of ‘n mens, soos die dier, so ‘n ruil het gewa!
[Pg 50]
Ons harte is vol van gemors en verdriet,

En as steun in die lewe is hul maar ‘n riet;

Maar die hart van ou Vonk was die hart van ‘n kind—

En jy het hom vir my gegee, my ou vrind!

Ons het same die wêreld, hoe groot dit ook is,

Deurkruis; ons het same geniet en gemis;

En jy was vir my meer as kind of as kneg.

En nou is die wêreld weer leeg, wat jy ‘s weg—

Ek weet nie waarheen nie! Miskien is dit waar:

Soos rook in die lug gaan ‘n mens uitmekaar,

En nog baie gouer ‘n hond na die dood.

Jy het my die hand gegee, jy met jou poot;

Jy het my gesoen; ons het same gepraat:

En ek glo aan jou spook, Vonk, my liewe ou maat!
Hier onder die leiklip lê jy in jou graf:

Dis al, wat ek weet—want ons gissing is kaf.

Jy ‘s dood: dit staan vas, want ekself het jou hier

Begrawe, en sonder gebed, want ‘n dier

Het tog nie ‘n siel nie—so sê outa Kees:

Hy weet, want hy het mos diaken gewees,

En op eie houtjie die bidstond gelei

Daar bo in die sendingkerk. Ja, maar vir my,

(Al is dit nou sonde, waarvoor ek moet vrees!)

Het jy baie meer van ‘n siel as ou Kees;

Jou oë was altyd so diep as die lug,

So hel as die hemel, so sag as ‘n sug:

En agter die oë, daar lê tog verstand;

En agter verstand staan ‘n siel by die hand—

‘n Siel, wat nie somaar in niks nie verdwyn,

Of somaarso stiltjies in wolke verkwyn.
[Pg 51]
Jy ‘s dood—wat ons dood noem, wie weet wat dit is?

‘n Slaap of ‘n droom? Ag, ‘n mens kan maar gis:

En dit is die moeite nie werd nie, want jy

Is altyd, ja altyd, my ou maat vir my.

[Pg 52]

Op my ou Karoo.

Hier wil ek rus, op ons vaal Karoo,

Hier, waar die veld ‘n leegte is,

Hier, by die slang en die akeldis,

Hier, met die hemel blou daarbo.
Grawe hier, boetie, ‘n graf vir my:

Hier is ek tuis, my land is hier;

Hier, waar die korhaan bruilof vier—

Hier wil ek lê in ons grougeel klei.
Stel nie ‘n klip of ‘n kruis daarbo,

Skrywe geen teks, wat ‘n mens kan lees;

Sê net: “Hy slaap, waar hy wou wees—

Hier in die skoot van ons vaal Karoo.
“Rond oor die wêreld het hy gereis:

Nêrens was uitkoms vir sy hart;

Orals was donker, die wolke swart,

Orals die wêreld vaal en grys.
Nou lê hy diep hier in die sand;

Nou slaap hy vas, want hy rus in sy graf:

Was hy ‘n sondaar, dan is sy straf

Lank afgewerk in ‘n vreemde land.
[Pg 53]
“Praat van hom nie as ‘n skuldenaar nie:

Hy het betaal tot die laaste toe;

Hy het gely—ja ons weet nie hoe!

Broer van almal, en maat van—wie?”
Dit is jou rede oor my lyk,

Dit jou gedagte, as jy daar staan—

Daar by my graf, waar die volle maan

Deur God se vensters na onder kyk.
Laat vir my slaap, boetie! ek het vaak:

Dof is my oë, my siel is moeg;

Gaan jy maar voort met jou land te ploeg,

Tot ook jou siel in die duister raak.
Laat my alleen op die toekoms wag,

Hier in my graf op ons vaal Karoo.

Dek my met veldbossies, boetie! So,

Nou sal ek rus tot die laaste dag.

[Pg 54]

My nuwe Vaderland.

Ek het so lief ons blougroen see,

Ons witgeskulpte strand:

Was ek geen Blikoor nie, dan was

Die see my vaderland.
My tuiste-veld is baie mooi,

In winter baie groen:

Ja, goudgeel blink die doringboom daar,

As son en wind hom soen.
My eie veld is baie nat

(Vervloek die tyd!) met bloed—

Daar sing vandag die mense nog

Van Volk en Heldemoed!
Die see is baie, baie mooi,

Die see is blou en groen:

Daar ‘s niks so mooi die wêreld deur,

As son en wind hom soen.
Die see is vol met trane, vol,

Tot in sy hart, met bloed—

En tog sing nie die skulpe daar

Van Volk en Heldemoed!
[Pg 55]
Ek is ‘n Blikoor, want my wieg

Het op die veld gestaan;

Maar as ek na die branders kyk,

Loop oor my wang ‘n traan.
My land is nie meer myne nie;

My volk is doodgestry;

My moed is nie meer heldemoed—

O God, vergewe my!
Ek wil nie, dat ek sterwe sal,

Geen pyn meer voel of leed;

‘k Wil see toe, waar die koel wind waai;

Die veldson brand so heet.
Ek wil nie meer die mense eer,

Wat slegter is as vee—

Nie meer die volksgeskiednis lees

Met al sy leuens mee.
Ek wil vergeet en uithou: ja,

Ek kan nog jare ly,

Solank die branders tot my sing,

Die skulpe praat met my.
So lewe ek my lewe deur,

Neem, wat die lewe gee:

My volk sal nou die visse wees,

My vaderland die see.

[Pg 56]

Vrede-aand.

Dis vrede, man; die oorlog is verby!

Hoor jy die mense skreeu die strate vol?

Sien jy, die hele wêreld is op hol?

Kom, hier ‘s ‘n bottel soetwyn; laat ons drink!

Ons het ons nasie in die see gesink;

Ons het geen land meer nie: dis klaar met Kees!

Dis vrede nou: kom skreeu—of is jy hees

Van lag? Nou, lag maar, want die storie ‘s uit:

Ons nasie ‘s weg, ons kan daarnaar maar fluit!

Drink, drink jou glas! Die son skyn deur die wyn:

Is dit te soet, of smaak dit soos asyn?

Nou ja, dan kom hier by die venster staan

En skou met my al die gedoente aan.

Daar waai die vlag, daar word hoerê geskree:

Die aandeelmark rys weer, en ons daarmee!

Wat is ons land teenoor die aandeelmark?

Wat ‘n kanarievoël teenoor ‘n vark?

‘n Lelieblom teenoor ‘n stronk tabak?

Ons nasie, wat so wild was, is nou mak

En kan getrein word soos ‘n jong bobjaan,

Wat, as hy steeks is, jy weer goed kan slaan.

Hoerê! hoerê! Skreeu saam met my:

Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede, man; die oorlog is verby!

Hoor jy daaragter, hoe die mense huil?
[Pg 57]
Hoor jy ‘n sug, ‘n klag?—Dis maar ‘n uil:

Die voëls is orals rond, selfs in die stad,

En orals skreeu hul, orals om ons pad:

Hul weet, ons was ook uile! Ons hou saam

‘n Bondskongres hier, net soos dit betaam;

Passeer mooi resolusies; maak geraas,

En groot lawaai; en trek dan soos ‘n haas,

Wat bang is vir die roer, weer in die hol,

En sit daar van die bewerasie vol!

Nou is die storie uit: die leë glas

Staan droog, wat vroeër so vol met water was;

Die put, wat eenmaal water het gegee,

Is vol met trane, souter as die see—

So brak as ooit ‘n pan in die woestyn,

Waarop die son al dae helder skyn—

En bitter net soos gal, want in die put

Het al ons volk hul trane afgeskud;

En ons moet daarvan drink, die jare deur,

Al sal die smaak ons hart en siel verskeur.

Nee, boetie, nee, kom skreeu hoerê met my:

Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede, man; die oorlog is verby!

Sien jy die strate vol? Ek sien ‘n ramp,

‘n Kerkhof by ‘n konsentrasiekamp

Met duisend graffies, elk waarvan bewaar

‘n Skat, wat alles was, wat God aan haar

Gegewe het om eenmaal aan ons land,

In tyd van nood, toe te vertrou as pand:

Sy was die sterkste van ons almal, sy

Die met gebed en hoop het meegestry!

Sy het die swaarste deel van onse lot

Gedra, gehelp, getroos, gesteun deur God:
[Pg 58]
En as jy daaraan dink, dan moet jy glo—

Al twyfel jy—, daar is tog Iemand bo,

Die so ‘n vrou tot yster maak en staal,

Met soveel troos haar steun en hoop betaal;

Maar dan weer dink jy aan haar smart en aan

Die graffies, wat daar op die kerkhof staan,

En voel weer twyfel, want ‘n mens is swak!

Waarom het Hy die boom gesnoei, die tak

So afgekap tot aan die stam? Waarom

Het Hy haar lot so skeef gemaak en krom?

Nee, boetie, drink met my; skreeu saam met my:

Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede nou; die oorlog is verby!

Hoor jy die mense skreeu hoerê? Ek hoor

‘n Dof gekerm en steune in my oor.

Ver oor die vlakte dryf die wolke neer;

Daar slaan die blits, daar dreun die donderweer.

Die hael, elk korrel as ‘n kersiepit,

Maak die Karooveld net soos marmer wit,

En dek die kaal graf van ons laaste kind;

En deur die haelbui huil die noordewind.

Hoog was ons hoop, hoe laag ook was ons hart!

Ons land is duur: die prys—verdriet en smart!

En meer as ons, het sy haar deel gegee,

Haar siel ontroof van liefde om daarmee

Ons borg te staan; sy het vir ons gedra

Die skuld van gister en die dag daarna;

Op rots het sy gebou, en nie op sand—

Heldin en vrou! Die beste, wat ons land

Nog voortgebring het! Skreeu hoerê vir haar,

As jy moet skreeu—maar liewers, man, bedaar,

En skink weer met my in ‘n glas vol wyn:
[Pg 59]
Dit sal nie ditmaal suur smaak soos asyn,

Maar heuningsoet, as suiker—en met my

Drink op haar naam: die oorlog is verby!
Dis vrede nou; die oorlog is verby!

Dis vrede, ja! Wat sal ons nou begaan?

Sal ons die vrou daarbinne weer laat staan

Om kos te kook, te braai, te stoof, te smoor?

Nie meer haar steun verlang nie? nie meer hoor

Haar stem, wat in die onweer het geklink?

Sal ons haar siel laat roes? Dié het geblink

Tot aan die kruis-ster, toe die donker nag

Rondom ons was, en niemand van ons dag

Verwag het nie: toe het haar lig gestaan

As lei-ster vir ons, ligter as die maan,

En as ‘n son geskyn—toe was dit nood!

Dis vrede, maar dié siel is nog nie dood:

Dit lewe nog om ons te lei, en maak

Die swaar, swaar vrede plig; die harde taak,

Wat voor ons lê, die lewe, wat ons wag,

Ons donker pad, so helder as die dag.

Waak oor die stem; let op die siel; behou

Die beste, wat ons nasie het—die vrou!

Gooi neer die glas; die stukkies skop opsy:

Daaruit sal ons geen ander heildronk drink

As dié aan haar! Maar roep, man, tot dit klink:

Dis vrede nou; die oorlog is verby!

[Pg 60]

Die ou Blikkie.

Wat is die ding, wat jy daar hou?

Wat droom jy oor ‘n blikkie, vrou?

‘n Armsalige ou blikkie?

Wat is die ding tog nou vir jou?
“Ek wil hom skoonmaak, dat hy blink

Soos silwer in die sonskyn: dink,

Die armsalige ou blikkie,

Daaruit het Gert en Griet gedrink.
“Ek wil hom met die grond hier vul,

Hier, waar die suring bloei so gul,

Die armsalige ou blikkie:

Miskien kan ek my droefnis kul.
“Ek wil daarin ‘n plantjie plant,

Wat groei aan Griet haar graf se kant:

Die armsalige ou blikkie,

Was vasgeklem in Griet haar hand.
“As ek so in die sonskyn sit,

So blou die hemel bo, so wit

Die armsalige ou blikkie,

Dan droom ek weer oor dat en dit:
[Pg 61]
“Ons konsentrasiekamp is daar;

Die oorlog word ek weer gewaar—

Ag, armsalige ou blikkie,

Waarom het God ons nie gespaar?
“Was Gert en Griet nie heel my hart?

Die plaas is afgebrand en swart—

En jy, armsalige ou blikkie,

Herinner my nog aan my smart.
“Ons kan die plaas weer opbou: ja,

Jan het al geld op leen gevra;

Maar, armsalige ou blikkie,

Kan Gert en Griet my ooit weer pla?
“Daar in die konsentrasiekamp,

Daar in ons aaklig oorlogsdamp,

Ag, armsalige ou blikkie,

Daar is hul lewe uitgestamp!”
Vergeet, wat jy gely het, vrou:

Ons is weer vredevrinde nou!

Die armsalige ou blikkie,

Wat is die ding tog nog vir jou?
“Dit laat my dink aan Gert en Griet:

Al is dit ‘n gebroke riet,

Die armsalige ou blikkie

Is anker teen my sielsverdriet.
“Die plantjie, wat hierin sal groei,

Sal elke jaar opnuut weer bloei,

Ag, armsalige ou blikkie,

Al is my trane opgeskroei;
[Pg 62]
“Want ek het nog ‘n traan gespaar,

Nog ‘n paar sugte opgegaar,

Om, armsalige ou blikkie,

Jou plantjie veilig te bewaar.
“As ek vanaand my kers uitblaas,

Dan werp die maan ‘n silwerwaas

Oor jou, armsalige ou blikkie,

En oor ons afgebrande plaas.
“Ek luister; en dit skyn vir my,

Klein Gert is weer hier aan my sy,

By jou, armsalige ou blikkie,

Om weer ‘n slukkie melk te kry;
“En Grietjie staan daar by die deur—

Ja, kyk, haar voorskoot is verskeur!

Ag, armsalige ou blikkie,

Hoe kan ek eensaam wees en treur?
“Die dood het albei weggehaal;

Ons plaas is afgebrand en vaal;

Maar, armsalige ou blikkie,

My hart is nog nie net so kaal.
“Solank jy op die vensterbank

Hier by my staan, so skoon en blank,

Kan ek, armsalige ou blikkie,

Nog stil wees en vir God nog dank,
“Dat Hy, toe daardie oorlogsdamp

My kinders al twee in die kamp,

Ag, armsalige ou blikkie,

Die lewe so het uitgestamp,
[Pg 63]
“Nog in my hart het hoop gegee,

Dat ek bedaard was in my wee,

Ag, armsalige ou blikkie,

Te dink, ek sien hul weer, al twee!
“Met jou het Griet en Gert gespeel,

En ek het nog in jou ‘n deel;

Ag, armsalige ou blikkie,

Laat ek my maar nog iets verbeel!
“Verbeelding—dit is alles nou,

Wat ek nog het: laat my dit hou!

Ag, armsalige ou blikkie,

Jy is my anker teen die rou!”

[Pg 64]

Woltemade se Spook.

“Hier agter troon die Duiwelskop;

Ou Tafelberg is vlak daarnaas—

‘n Egte tafelklip, waarop

Die seedons afdaal as ‘n waas,

Nog witter as renosterrook,

Nog dunner as die jongste spook.
Die onderdeur staan ope nou,

Al is die naglug nog so koud,

Al is die water nog so rou,

Al glans die weerlig bont as goud:

Die seelug is mos nie ‘n dief—

Ek hou van hom, ek het hom lief!
My kers is amper uitgebrand:

Dit kwyn nog net ‘n vlammetjie;

Ek het ‘n snuiter by die hand—

Die ouderwetse ding, hierdie;

Maar ek wil maar die kers laat staan:

Dit kan nog meeding met die maan—
Die maan, wat deur die wolke loop

Soos ‘n fisant deur ruigtegras—

Nou vol, dan halfpad oorgedoop

Deur wolke, dan weer in die kas;

Nou skemer oor die strand, dan swart,

Stikdonker skadu, koud en hard.
[Pg 65]
Geen ster skyn deur die vensters hier;

Geen mot vlieg om my kersievlam;

Geen gogga gons of maak getier;

Ja, selfs die wind se stem is lam:

Die hele nag het dit gedreun,

Die hele aandlang deur gekreun.
Dof slaan die see daar oor die sand,

Eentonig oor die klippers weg;

Die seegras strooi die hele strand,

Waar skuim nog met die skulpe veg—

Grys as ‘n blinde man se oog,

En troebel as ‘n emmer loog.
Hier binne gooi my kers se skyn

Groot skadu-spoke teen die muur,

Wat flikker, fladder en verkwyn

Soos spinnekoppe in ‘n skuur;

En hoog daar bo, daar by die dak,

Waai vlaggies van vuil spinnerak.
Nou luister maar: daar hoor jy raas,

Sag as ‘n muis, wat bruidskoek kna,

Of vir sy maters in ‘n kaas

Trakteer, op wat hul weg kan dra.

‘n Dof geritsel by die deur—

Iets koddigs nou kan jy bespeur:
‘n Voetstap op die stoep; ‘n ding,

Wat sagter as ‘n blootvoet kind,

Dwars rondloop as ‘n vreemdeling,

So vinnig amper as die wind—

Wat skielik in die duister blink,

En dowwer oor die drumpel klink;
[Pg 66]
Iets, wat jy nie met oë kyk;

Iets, wat jy nie met vingers vat;

Wat deur die hele kamer reik,

Wat kruip so deur die sleutelgat—

Miskien ‘n bietjie mis of rook,

Of Wolraad Woltemaad se spook!
Jy sien hom nie; jy voel maar glo

Die yskoud lug, waarin hy gly!

Die spinnekoppe spartel so,

Asof hul bewerasie kry;

Die kat krimp weg, sy rug is krom;

Die hond die huil; die wind is stom!
En elke nag teen middernag,

Dan ry die yskoud spook op land,

En kuier op die strand, en wag

Sy lewe, wat die see as pand

Moet hou, totdat die eerste slag

Geslaan word op die laaste dag.
En as hy oor die drumpel waai

En inkrimp in jou huis, dan kreun

Die ou skarniere, en dan swaai

Die onderdeur; ‘n dof gedreun

Klink in jou ore, want dis ook

Die koms van Woltemaad se spook!
Jy moenie daarvoor bang wees nie:

‘n Spook het mos geen been of murg:

Wat kan hy kwaad doen, of vir wie

Kan hy so goedsmoeds dood verwurg?

Nee, glo nie, hy sal rusie stook!

Hy is mos Woltemaad se spook!
[Pg 67]
Hy kom net om die strand te sien,

Waar eenmaal hy ‘n heldestreek

Begaan het om die Plig te dien.

Verbeel jou, hy is dood en bleek:

Hy kan jou nie moveer, en jy

Moet trots wees op sy koms en bly.
Net goeie mense sien sy spook!

As jy miskien op sterwe lê,

Gewaar jy hom as gryswit rook,

Waaruit ‘n stem klink sag, en sê:

(Al dink jy ook, dis maar die wind)

“Kom saam met my; kom huis toe, vrind!”
Al is jy goed of goddeloos,

Sit net maar stil alleen en wag;

Alleen, met twak en tonteldoos,

Gewaar jy hom op middernag—

Nie met jou oog, nie met jou hand:

Net met jou siel en jou verstand.
Gevoel—alleen aan dit gewoon,

Kan jy vir Woltemade sien:

Het jy dan ook gevoel nie, loon

Dit jou niks, want jy word miskien

So vaak en teemrig, dat jy gaap,

En netnou sluimer vas aan slaap.
Dan droom jy, Woltemade kom

Net soos Klaas Vakie deur die dak

Of skoorsteen—want ‘n spook is dom

En gee nie om die spinnerak—

En as jy slaap, dan bo jou kop

Lê hy sy koue hande op
[Pg 68]
Dan skrik jy wakker en kyk rond:

Die kersie gluur nog om die pit,

Die skadu flikker oor die grond,

Die sterre en die maan skyn wit,

Jy hoor nie eers ‘n kreun of sug,

Jy voel net maar die yskoud lug;
Maar in jou kamer, by jou bed,

Daar het sy spook gestaan, en hy

Het op jou in jou slaap gelet;

Oor jou sy hande uitgesprei:

“Ek het my plig gedoen, gegee

My lewe aan ons Moedersee.
“Ek het my plig gedoen; en jy,

Jy, wat so sedig droom en gaap—

Wat het ons land van jou gekry?

Het jy gewerk of net geslaap?

Jou lewe, was dit werk of rook,

‘n Droom—soos Woltemaad se spook?”

[Pg 69]

Lenteliedjie.

Al die veld is vrolik;

Al die voëltjies sing;

Al die kriekies kriek daarbuite;

Elke sprinkhaan spring.
Al die koggelmannetjies

Kom om fees te vier;

Hier galop ‘n goggatjie,

Daarso dans ‘n mier.
Selfs die vissies spartel

Teen die kafferskuil;

In die groot ou eikeboom

Droom ‘n oupa-uil.
Rond in ons Karooland

Is ‘n ruik versprei:

Boegoeblom en appelkoos—

Kan jy beter kry?
Katjiepiering-heinings,

Bont met blomme hier;

Rose en sering daarnaas,

Roos en angelier.
[Pg 70]
Binde vir my same

Katjiepiering wit,

Bobejaantjies blou en bont,

Rose in die lid;
Varings van die klippe,

Afrikaners rooi,

En kalkoentjies uit die vlei—

Algar is so mooi!
Geel gousblomme uit die veld,

Klossies uit die kuil—

Sal ons ooit ons blommetjies

Vir iets anders ruil?
Vrolik is die wêreld,

Vrolik, rant en vlei!

Elke koggelmannetjie

Het sy maat gekry;
Elke gonsrig goggatjie

Is getroud of vry:

Vrolik is die wêreld hier,

Vrolik veld en vlei!

[Pg 71]

Die Apie.

Apie, apie, sê vir my,

Is jy mens, of is jy dier?

Het jy bruilof ooit gevier?

Waar en wanneer het jy getrou?

Het jy kind of het jy vrou?

Het jy skulde? In jou huis,

Apie, is dit alles pluis?

Is die kleinnooi in haar skik?

Of moet sy op alles pik?

Apie, apie, sê vir my.
Oubaas, oubaas, ek sal sê:

Ek is maar ‘n viervoet dier;

Ek het bruilof nooit gevier;

Agter die bossies het ek getrou,

Kinders het ek en ‘n vrou.

Skulde nie; en in my huis,

Glo ek, is dit alles pluis.

Kleinnooi is nie in haar skik,

As ander apies op haar mik:

Oubaas, dit is, soos ek sê.
Apie, apie, sê vir my

Waarom lewe jy so mooi,

Sonder kamer, sonder kooi,

Sonder selfs ‘n trouring, sonder
[Pg 72]
Ook ‘n huwlikseen? Ek wonder,

Dat jou vrou so goed verstaan

Nie met apies rond te gaan;

Dat jy sonder skulde lewe,

En nie vir verbande bewe:

Apie, apie, sê vir my.
Oubaas, oubaas, ek sal sê:

Ek kan lewe sonder kooi—

Klipskeure is net so mooi—

Sonder selfs ‘n trouring, sonder

Ook ‘n huwlikseen! Jy wonder?

Ek het altyd goed verstaan

Met vroumense om te gaan:

Anders loop my hele lewe

Opdraand, dat ek daarvan bewe:

Oubaas, dit is, soos ek sê.

[Pg 73]

‘n Praatjie oor die Trougees.

Akeldissie, waarom trou jy nie?

Mame wil nie hê nie!
Lokasieliedjie.
Ag, akeldissie, as jy eenmaal weet,

Wat ‘n getroude mens het uit te staan,

Hoe hy moet spartel, hoe hy rond moet slaan,

Om deur te kom, moet worstel, dan sal jy

Nie so voorbarig praat nie, glo vir my!
Ag, akeldissie, man, die wêreld weet—

Die wêreld, wat ‘n mens so gadeslaan!—

Wat man en vrou tesame uit moet staan;

En jy weet niks daarvan; ja, glo vir my,

Dis beter, nie te trou, en tuis te bly.
Jy gaan so teen jou ma tekeer; jy sweet

Van stoutheid en astrantheid; jy wil gaan

Met vroumense op reis nou na die maan;

Jy wil gaan trou, wil kinders hê en vry:

Maar dink, oormôre, wil jy sieto skei!
Ag, akeldissie, jong, jou mame weet

Meer van vroumense af, as jy verstaan;

Sy wil jou nie sien spartel en vergaan,

Net om ‘n meisie, waar jy na gaan vry:

‘n Vroumens is astrant, ja glo vir my!
[Pg 74]
Bly liewers tuis, ou kêrel. As jy meet

Die jonkmanskap teenoor die huweliksbaan,

Dan sien jy tog, hoe sleg die maat moet gaan

Vir man en vrou; hoor dus na my en bly

Maar tjoepstil tuis, en laat jou ma jou lei.
Wat wil jy met die meisies? As jy eet,

Is daar genoeg vir een: wat nou gedaan,

As jy ‘n vrou het, kinders ook? Vergaan

Van honger? Nee, ou jong, jy moet maar bly

Stil by jou mame, vrolik aan haar sy.
Ag, akeldissie, het ‘n vrou jou beet?

Kêrel, ek voel vir jou, ek stort ‘n traan!

Hoe kon jy ooit so iets, ou man, begaan?

Jou hart is mos jou eie: laat dit bly;

Vry na jou mame, as jy tog moet vry!

Akeldissie aan My:

Ag ja, Tweebene, ek sit in die klem,

Vas in die ou slagyster van ‘n vrou!

Haar mondjie, man, dit is so rooi as bloed;

Haar hare, man, dit is so swart as roet;

Haar stemmetjie as wind, wat oor die baai

Die soetste deuntjie fluister, as dit waai;

Haar ogies net soos sterretjies so mooi;

Haar wangetjies as kersies net so rooi;

Haar tandjies, as my eie, net so wit

As seesand of ‘n appelkoos se pit:

Sy is die mooiste meisie op die veld;

Sy het ook, soos ek hoor, ‘n bietjie geld:

Nou het jy alles, man; ek moet gaan trou,

Al hou jy my ook agter met ‘n rem!
[Pg 75]
Jy praat, Tweebene, net asof jy dwars

Deur heel die formulier gekruip het. Jy—

Wat weet jyself van meisies, van ‘n vrou?

Jy is mos nie ‘n vent, van wie hul hou;

Jyself het mos ‘n meisie nooit gesoen—

Ek het dit duisend male al gedoen!

Jy weet niks van die pret. Verbeel jou maar,

Jy het in een minuut so opgegaar

Die ganse pret van heel die wêreld: dan

Weet jy nog niks, of amper niks, daarvan!

Laat staan maar, man, al jou bangmakery:

Jy praat my tog nie om, selfs as jy bars!
My hele twis met mame is maar dit:

Ek wil gaan trou en mame wil nie ja sê.

My meisie is kordaat; ons is geskik

Een vir die ander; nie te arm; en ek

Het ook ‘n bietjie oulappe gespaar

Om bruilofsfees te vier op Nuwejaar.

Die kinders is nog in die verte, man:

‘n Mens hoef nie so vroeg hom in te span!

En honger ly? Nou ja, dit kan ek ly,

As sy maar by my is en aan my sy!

En as my kinders later vir my pa sê,

Sal op die klippers tog nog vliegies sit.

Akeldissie se Mame aan ons al twee:

Wat praat julle die liewe lange dag,

Wat wil jy hier vir Dissie wysmaak, jy

Tweebene? Affronteer jy nog vir my,

En staan vrygeestig ginnegaap en lag?
[Pg 76]
Ek is sy ma! Ek wil nie, dat hy trou:

Hy is nog nie agter die ore droog;

En ek is nog sy mame en sy voog!

Wat moet hy weet van kinders en ‘n vrou?
Tweebene, dink jy nou, dat dit betaam

Om met ‘n kind soos Dissie oor die saak

Te sanik? Is dit iets, wat jou moet raak?

Vervlaks, Tweebene! Man, jy moet jou skaam!
Ek bring my kinders op in sedigheid:

Hul het van sulke sake nie te weet!

En Dissie moet maar al jou praat vergeet,

Want as hy groter word, is daar nog tyd.
Nou moet hy maar die nonsens uit sy kop

Glad uitveeg. Hoor jy, Dissie, wat ek sê?

Ek wil geen koppigheid en nukkies hê:

Ek weet, die vroumense die sal jou fop.
Jy is so onnosel, Dissie! Elke meid

Kan jou net vir ‘n appel en ‘n ei

Laat bokspring na die maan, en dis vir my

‘n Teken weer van jou wysneusigheid.
As jou oorlede pa nog hier was, dan

Sal hy jou goed die kop gewas het. Nou

Dink jy, dat jy kan kinders kry en trou—

Ja waarlik, soos ‘n opgegroeide man!
En jy, Tweebene, styf hom in sy nuk:

Jy praat met hom oor dinge, wat ‘n kind

Glad nie verstaan nie. Dissie is nog blind,

En moet gehoorsaam wees, en moet maar buk.
[Pg 77]
Ek sê vir jou, daar kom niks van! Hy trou?

Hy, half onnosel nog, hy kinders kry?

Hy bruilof vier om later weer te skei?

Vir my ‘n skoondogter, vir hom ‘n vrou?
Nee, glo vir my, jy het dit mis! Ek sweer,

Daar kom niks van nie! Dissie, jy bly hier;

Jou meisie kan met iemand anders vier

Haar bruilof; jy het nog te veel te leer.

‘n Jaar later.

Ek was weer op die veld, en die son het so mooi

Goud, silwer en goud, oor die klippe gestrooi;

Die wind het weer lekker die bossies geswaai,

En fluks oor die geil afrikaners gewaai;

Die lug was so helder, so soet en so blou;

Die hele veldwêreld was weer uit die rou;

En orals was blommetjies, orals was groen;

Die gras en die grond het die son weer gesoen;

Daar onder, daar waar die oliewenboom staan,

Het vinke hul neste gebou; en die graan

Was hoog in die koringveld, groen as die see;

En ver in die vlakte was skape en vee:

En ek was gekom om te vra, of miskien

Ek Dissie of Dissie se mame kon sien.
Ek het by die klippe gestaan, en geskreeu

In vlot akeldissietaal toe vir die twee;

En daar het ‘n klein akeldissie gekom

Gekruip uit sy skeur. En ek vra toe vir hom:

“Waar ‘s Dissie? Ek glo mos, dis Dissie se huis.

Is hy, of miskien mevrou Dissie nou tuis?”

Die kleintjie, die kyk my onnosel oorheen,
[Pg 78]
En slaan met sy stertjie so fluks teen sy been,

En sê toe verleë: “Ouseur, ek sal vra,

As ouseur ‘n oomblikkie wag, vir my ma.”

Daarmee gaan hy weer soos die blits in sy skeur,

En een-twee-drie later toe kruip hy daardeur,

En agter hom kom Akeldissie se vrou:

Die vent het—ja regtig, dis waar!—mos getrou,

En daar was vyf kinders! Ek moes toe ook praat,

Met klein mevrou Dissie gesels, ja tot laat,

Tot Dissie toe self—hy was uit op die jag—

Terug het gekom; dit was diep in die nag.

En toe het ou Dissie my alles vertel;

En die hele geskiednis voor oë gestel.

“Die ergste van alles,”—so sê hy vir my—

“Die ergste van alles, waaronder ek ly,

Is dat ons so oud worde, ek en my vrou:

Ons oudste seun wil al—verbeel jou—ook trou!”

[Pg 79]

Slampamperliedjies.

I.

Boomsingertjie, jy fluister

Die liewe lange dag

Geheimpies aan die keurbos,

Waaroor die miere lag.
Jy sanik so jou deuntjies

Eentonig op; jy sing

Van son-op, tot die son verdwyn,

En skemer ons omring.
Boomsingertjie, ek wonder,

Ken jy ook my geheim?

Vertel jy dit die keurbos,

Die miere ook, op rym?

II.

Daar, waar die uitspan by die waboom

So kaal staan op die veld,

Daar lê ‘n half-verskroeide blom,

Bleek deur die son, verdor en krom:

Jy ‘s nie daarop gesteld.
[Pg 80]
Daar, waar die kruispad langs die waboom

Verbygaan oor die veld,

Daar lê ‘n uitgedroogde mol,

Half sonder vel en sonder wol:

Jy ‘s nie daarop gesteld.
Hier in die dorp, waar ons nou lewe,

So ver nie van die veld,

Daar ‘s baie uitgedroog en dom,

Daar ‘s baie bleek, verdor en krom:

Jy is daarop gesteld!

III.

Van Noodt, Van Noodt, ek sê vir jou,

Die mense pla my met jou storie;

Vertel my, ag, jy was so hard,

En nie geraak deur ‘n memorie.
Ek weet nie, of die mense lieg—

Dis alles uit die ou swart dosie!

Maar jy is tog—miskien onreg—

Vir al ons mense nog ‘n josie.
Van Noodt, Van Noodt, jou tyd kom weer!

Al het jy ook maar net ‘n greintjie

Van goedheid in jou, dis tog werd

‘n Lofspraak, is dit maar ‘n lyntjie.
Daar is geen mens so aaklig goed,

Daar is geen vent so vals en swart,

Of in sy bors klop daar nog deur,

‘n Brokkie van ‘n mensehart.
[Pg 81]
Van Noodt, Van Noodt, daar in jou graf

(Waar het die mense jou begrawe?)

Daar kan jy deurslaap tot die dag,

As die geskiednis jou kom lawe
Met lof en prysgeskal, en jou

Gedoentes nie meer as misdade

Gereken worde, goewerneur,

Met al jou papbroek-hemerade!

IV.

Gee vir my ‘n trouring;

Gee vir my ‘n vrou;

Gee vir my ‘n babetjie:

Neem die res vir jou!
Wat wil jy met trouring?

Wat wil jy met vrou?

Wat wil jy met babetjie?

Jy, nog in die rou?
Neem die werk as trouring;

Neem jou land as vrou;

Die toekoms as jou babetjie:

Dis genoeg vir jou!

V.

Krulkop-klonkie,

Waarvandaan

Kom jy hierso

Gou-gou aan?

Van die hemel, krulkop-klonkie, van die sterre, van die maan?
[Pg 82]
Krulkop-klonkie,

Is jou hart

Nog nie klaar nie,

Nog nie swart?

Of is dit al lank verdor al, grysgemaak deur al die smart?
Krulkop-klonkie,

As jy lag,

Vlug die donker

Uit die nag

Deur die agterdeur na buite, en dit skyn hier as die dag.
Krulkop-klonkie,

Wat wil jy

Op die wêreld

Hier by my

Nou kom haal of lewer, klonkie? Wat is hier te gee of kry?
Krulkop-klonkie,

Slaap gerus,

Van die drome

Onbewus:

Vroeg genoeg kry jy nagmerrie; wie sal jou dan, klonkie, sus?

VI.

Jy sê vir my: “Ou boetie, wat moveer jou?

Dink jy, die mense lees jou versies? Glo,

Ons het nog ander goed om oor te babbel,

En hou nie van slampampertjies hier bo.”
[Pg 83]
Nou goed, ou boet; ek skrywe nie vir jou nie:

Die windswaal sing—nou, waarvoor moet hy sing?

Vir jou en my? Nee, wragtie, vir homselwe,

Net om hy iets moet sê, iets, iets, moet bring!
En ek ook, soos ‘n windswaal, maak my versies

Nie maar vir jou—nee, glad nie; want ek weet,

Jy hou mos nie van versies, jy, wat trots is,

Omdat jy dink, jy het die wysheid beet.
Ek sing net vir myself: uit puur verstrooiing

Maak ek slampamperliedjies net soos dié:

‘n Mens moet huil of lag, moet loop of stil sit,

En ek moet versies maak, of praat met—wie?

VII.

Ek sing van die wind, wat tekeer gaan;

Ek sing van die reën, wat daar val;

Ek sing van ons vaal ou Karooland;

Van blomme, wat bloei by die wal;

Van water, wat bruis oor die klippe;

Van duikers, wat draf oor die veld;

Van voëls, wat daar sing in die bossies—

Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!
Vir my sing maar liewers van blomme;

Van al, wat die vlei laat verkleur;

Van al, wat die sonskyn laat spartel;

Van voorjaar en najaar se geur;

Vir my sing maar liefs van die water;

Van duikers, wat draf oor die veld;

Van rotse en branders en wolke—

Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

[Pg 84]

VIII.

“Ou boetie, slaan jou kop nie teen die prikkels;

Neem, wat die lewe gee, en maak ekskusie:

Want anders word jou beste vrind jou vyand,

En broei jy net maar stryd en rusie.”
Ag nee, ou boetie, laat my maar slampamper:

Somtyds is oorlog nog die beste vrede.

Diep in die klei daar steek die diamante:

‘n Mens moet grawe—dis die rede!

IX.

‘n Skoenlapper die vlieg daar bo

En fladder oor die rose daar:

Ek sien hom en ek word gewaar,

Die son die skyn daarbuite, glo.
Netnou was dit nog wolkerig,

En outa Adam het gesê:

“Kleinbaas, ons sal weer donder hê;

Ja waarlik, basie, kyk hoe dig!”
Nou is die wolke weg: die straal

So geel as goud, lê oor die rooi,

Die skoenlapper die speel weer mooi,

En vlieg weer op om neer te daal.
So is dit in ons wêreld: nou

Is alles weer so wolkerig,

Die toekoms swart, met donker dig;

Dan somaar speel die son om jou.

[Pg 85]

X.

Sekretarisvoël met jou lange bene,

Met jou penne agter die ore styf,

Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?
Sekretarisvoël met jou lange bene,

Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,

Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

XI.

Weer hoor ek iemand vra:

“Wat meen jy dan daardeur,

Om sulke versies op te maak,

So sonder smaak of geur?
Wat het ons met ‘n voël,

Met blou of geel of groen—

Met sulke vrae, wat het ons,

Of jy ook, dan te doen?
Vertel ons iets wat deug,

Iets, wat ‘n mens onthou,

Iets, wat ‘n mens van nut kan wees,

Wat beter pas vir jou.”
Ek het jou al gesê,

Ou boet, ek sing alleen:

Verstaan jy daarvan niks—nou ja,

Jy is nog nie gespeen.

XII.

Kriekie, jy, wat op die solder sanik,

Wat het jy tog vir ons te vertel?

Glo jy ouderwetse ou geheimpies?

Is daar iets, waarop jy agting stel?
[Pg 86]
Of moet jy, dag in, dag uit, maar sanik,

Kriekie, tot ek dol word van jou dreun?

Is jou lofsang maar ‘n kriekie-klaaglied,

En jou deuntjie, kriekie, maar ‘n kreun?

XIII.

Klossies, jul bewe en bibber:

Is dan die aandlug so koud?

Moet julle so teen die westewind koes?

Sal hy vir julle die blou en die goud,

Alles verwoes?
Klossies, jul bewe en bibber:

Drink maar die son, en wees bly!

Goud, blou en rooi is die lewe; en sag

Waai ons ou westewind koel oor die vlei:

Nog is dit dag.

XIV.

Twee dinge sê ek vir jou, ou boetie—die een is: “Vergeet, wat jy kan!”

Die ander: “Onthou, wat jy moet, ou boetie!” Is dit nou te veel vir ‘n man!
Twee dinge sê ek vandag vir myselwe—die een is: “Onthou, wat jy kan!”

Die ander: “Vergeet, wat jy moet!” Dis amper te veel om te verg van ‘n man!

XV.

Gistraand in die maanlig daar buite

Het ek stil op die seestrand gestaan,

En die weerlig het bo op die ruite

Van die vensters geel vonke geslaan.
[Pg 87]
En ver, waar die see maar ‘n lyn was,

Waar die hemel en sterre hom soen,

Waar die vloed kristalhelder en rein was,

En die branders half wit en half groen,
Het ek weerlig gesien op en neer gaan,

As silwer en goud in die lug,

As siele, wat bo na die Heer gaan—

Stil, sonder ‘n klag of ‘n sug.

XVI.

Nie maanlig meer, maar wolke orals rond;

Die branders groot as berge; en die see

Kook oor en raas; die hele lug is swart,

Swart as ‘n kool, of diepswart as die mond

Van ‘n spelonk by nag gesien; en hard

Slaan teen die see die donder en raas mee.
Hier staan ek aan die strand, en om my woel

See, donderslag en bliksem. Daar ‘s ‘n lig,

Dig by die rotse: dis ‘n skip se vuur;

Want op en neer dans hy daar—en ek voel,

My hart het jammer vir die see se plig

En vir die skip se prys: dis tog so duur!
Vanmôre was die see weer stil; die strand

Gestrooi met seegras, maar met meer as gras;

Want daar was een—hy het sy prys betaal,

En lê bankrot en brandarm op die sand,

Half met sy hand nog aan ‘n houtblok vas—

‘n Lyk met ope oë, doodsbleek en vaal.

[Pg 88]

XVII.

Dingaan, die Soeloe, was ‘n duiwel:

Handlanger van die hel was hy!

Hy het ons mense hard geteister,

Windmaker in sy dwinglandy.
Dingaan, die Soeloe, was ‘n duiwel,

Maar hy is lankal dood, en nou

Het ons geen mens, wat ons kan teister—

En tog sit ons nog in die rou!

XVIII.

Klim op, klim op, met die slingerpad!

Klim op, klim op, tot jy staan daar bo,

Waar jy al ons land in ‘n oomblik vat,

Van die Suurveld af tot die kaal Karoo!
Klim op, klim op, langs die slingerpad!

Klim op, tot jy bo-op staan; en kyk,

Hoe mooi ons wêreld is! Dan weet

Jou siel die waarheid—want jy is ryk!

XIX.

Die see het juwele, robyne,

So rooi as ‘n korrel granaat;

Die see het sy lyke, geraamtes,

Van elke verdrinkte Janmaat.
Die see het sy skulpe, wat, mooier

As ooit ook ‘n mens dit kan maak,

Daar pronk in paleise van seegras,

Waar ewig die branders om kraak.
[Pg 89]
Die see het ‘n hart: in die diepte—

Waar selfs nie ‘n kreef kan bestaan,

Waar lewens nog laer as muggies

Gebore word om te vergaan—
Daar setel sy siel, en dit uiter

In elke verandring sy wil!

Verslinger die rotse die branders,

Die see sal daar nimmer van gril;
Want ewig en altyd onsterflik

Is diep in die diepte sy krag,

En laag in die land van sy lewe

‘n Siel, wat vir ewig kan wag.

XX.

Die see is wild, die see is blind:

Hy slaan so oor die rotse grof;

Veraf nog dreun sy donder dof,

En oor hom huil die noordewind.
Die wind is wild, die wind is kwaai:

Hy gons die bome deur en breek

Die takke van die stam, en steek

Die haelbui aan met sy lawaai.
Die hael is wild, die hael is sterk;

Hy maak die see se branders glad,

En stamp die koringvelde plat,

En breek die sekretaars se vlerk.
Nog wilder as die see en wind,

Nog strammer as die haelstormsnood,

Nog blinder as die drie—die Dood,

Wat op jou voorkop sit, ou vrind!

[Pg 90]

Die Einde.

Gee vrede en rus vir ons almal, wat lam is van swerwe,

Moed en geduld vir ons almal, wat bang is te sterwe;

Gee vir ons hart soos in somer die sap vir die bome;

Gee vir ons krag vir die werk en verstand vir die drome;

Gee, dat ons lag, as die lewenslas druk op ons harte;

Gee vir ons hoop in die donkerste nagte en smarte;

Gee vrede en rus vir ons almal, wat lewe en erwe

Smart en verdriet, met die reg om uiteindlik te sterwe.

Gee vrede en rus; en ons vra nie iets anders, en luister

Stil na die wind, wat so sag in ons ore kom fluister:

“Moed, mense, hou moed!

Die kwaad sal verander in goed:

Die môrelig kom uit die duister.”

BY ONS IS OOK TE KRY:

DICHTERS UIT
ZUID-AFRIKA

BLOEMLEZING

uit de gedichten van

CELLIERS, TOTIUS, LEIPOLDT, MALHERBE,
JOUBERT, LANGENHOVEN, MARAIS,
KEET, WASSENAAR EN FAGAN.


Saamgesteld door

Dr. E.C. PIENAAR B.A.

MET INLEIDING EN WOORDVERKLARING.


DERDE HERSIENE DRUK.


PRYS EXTRA GEBIND 5/6 POSVRY.

VRA VANDAG NOG ‘N EKSEMPLAAR AAN DIE
UITGEWERS VAN HIERDIE BOEKIE.

NUWE BOEKE

By die uitgewers van hierdie boekie het die volgende nuwe uitgawes
verskyn:

DANIE SE HOOP VERVUL

‘n voorbeeld vir ons Afrikaanse seuns

deur

Mevr. PHILIP OELOFSE.

‘n Ekstra boekie vir ‘n geskenk.

3/9 posvry.


Twee Rampe en Twee Gelukke

deur

Ds. J.H. KRUGER.

Aan hierdie boek is die twede prys toegeken in die prysvraag,
uitgeskryf deur ons firma vir die beste werk in Afrikaans.

6/- posvry.


HUIS EN VELD

deur

G.R. VON WIELLIGH.

5/6 posvry.

Die boeke van Meneer v. Wielligh behoef geen aanbeveling nie.

Laai af, Gratis, Oom Gert vertel en ander gedigte >> (ePub formaat / DRM Free)




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Gedigte
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Gedigte
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Gedigte
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
24 Mei 2012
Gedigte
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?
15 November 2005
Gedigte
Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom
Op elke nuwe blaadjie wat omgeslaan word, is daar vir nuuskierige agies interessante brokkies en stories oor hoe van Afrikaans se bekendste en minder bekende uitdrukkings ontstaan het.

Onlangse kommentaar

Roekeloos
2018-01-15 09:15:59
Julle moet die onderskeie fees-organiseerders en/of kunstenaars direk kontak....
Annatjie Smit
2018-01-13 05:19:03
Goeie more. Met wie kan ek kontak maak vir optredes van kunstenaars asseblief. E-mail annatjiesmit1...
Roekeloos
2018-01-10 13:57:45
Miskien is daar 'n antwoord by sy Facebook-blad: https://www.facebook.com/sakka.stone...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD | Ons toets tans ’n kode om wiskundige probleme op te los met behulp van gebruikers se blaaiers; om nie afhanklik te wees van advertensies nie.