Toe Tant Mina die ghoeroe huis toe bring (lees die hele saga in Die sin van die lewe) het die woord vining versprei in Bellville.

Goedgelowige Jors was natuurlik gefassineerd en toe Koos die dag kla dat sy elmboog verskriklik seer is stel Jors dadelik voor hy gaan spreek die ghoeroe. “Blykbaar pie mens in ’n botteltjie en los dit op hulle stoep saam met ’n R50 langs die bak met die petunias.”

Aangesien Koos nie veel het om te verloor nie maak hy toe so. En voorwaar, die volgende dag is daar ’n nota vir hom langs die petunias: “Jy het ’n tennisarm. Week die arm gereeld in warm water en laat dit rus. Moet niks swaar optel nie. Dit sal beter wees oor twee weke.”

Koos kan dit nie glo nie. Hy is seker die blerrie Jors het iets daarmee te doen. Koos kan nie dinge net so laat nie. Daai aand tap hy bietjie kraanwater in ’n botteltjie en toe sy hond gaan pie kry Koos sommer ’n paar druppels daarvan ook by. Toe vra hy sy vrou en sy seun om ook ’n bydrae te maak voor hy die finale bydrae lewer. Hy bel ook vir Jors om te kla oor die kamtige nuwe kwaal wat hy het voor hy die botteltjie en R50 langs die petunias gaan los.

Die volgende dag is daar ’n lang nota: “Dink daaraan om ’n waterfilter te installeer, jou kraanwater is effe besoedel. Jou hond het wurms. Kry vir hom pille. Praat met jou seun. Hy rook te veel dagga. Jou vrou is swanger met ’n tweeling. Meisies. Jy is nie die pa nie. Gaan spreek jou prokureur. En hou op draadtrek, jou tennisarm gaan nooit beter word nie.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply