deur Nasha van Rensburg
‘n Mens kan nie ‘n dag gaan sonder om iets te hoor of te sien nie.
Jou besluite en keuses word deur almal waargeneem.
Mense hou jou met valkoë dop net om te sien of jy nie iets doen wat jy nie moet doen nie.
As hulle dit nie sien nie hoor hulle alles.
Ore gespits om elke hoek en draai vir daai bietjie sappige nuus wat niemand werklik moet weet nie. Sappige nuus oor jou lewe … JOU LEWE.
Dit maak tog nooit vir hulle saak hoe jy voel en hoe dit jou lewe raak nie. Dis tog nie hulle lewens nie.
Hulle hou net van skinder. Of dit nou die waarheid is of nie. Alles wat gehoor of gesien word, moet waar wees.
Dis dan hoe mense werk. Hulle het dit gehoor, so dit is waar. So maklik soos dit. Dit kan nooit ‘n misverstand wees nie.
Mense vorm hul eie mening oor ander al ken hulle, hulle nie.
Selfs oor hulle geliefdes en die mense wat hulle ken.
Daar word gesê dat mense net die goeie goed in hul geliefdes sien.
Hulle jok.
Jy sien alles in die mense wie jy lief het. Jy sien elke gruwelike dingetjie tot die beste goed van die persoon. Die goed waaruit daardie persoon bestaan. Hulle siel. Die dinge wat hulle, hulle maak. Jy besluit net self wat jy van hulle wil sien – en natuurlik wat jy van hulle wil hoor. Of dit nou goed of sleg is, dis alles in jou kop.
Net so besluit mense rondom jou wat hulle van jou wil sien.
Hulle hou jou met valkoë dop.
Ore gespits om elke hoek en draai.
