Skierlik

Die kragtige en skokkende Skierlik is terug op die verhoog by die Soweto-teater.


Dié drama, geskryf en opgevoer deur Phillip Dikotla, neem die gehoor op ‘n reis na die dorp met die naam Skierlik.

Die dorp was in die nuus in 2008 toe Johan Nel, ‘n tiener op daardie stadium, losgetrek het op inwoners en vier mense doodgeskiet het. Skierlik is net buite Ventersdorp geleë. Die dorp het tot stand gekom wanneer plaaswerkers van die omliggende plase afgeskop is. Hulle het ’n eie dorp gestig wat hulle Skierlik genoem het.

Thomas, soos baie ander, het sedert hierdie klein dorpie se ontstaan daar gewoon en gehoop dat die dag sal kom wanneer hulle ook ordentlike lewensomstandighede sal hê. Mettertyd het mense begin aanvaar dat dinge nooit regtig sal verander vir die mense van Skierlik nie. Thomas, sy vrou Anna en hul dogter Elisabeth het in uiterste armoede geleef, maar in vrede. Tot die dag wat Johan Nel begin skiet het. Anna en die drie maande oue Elisabeth was onder die slagoffers.

Dikotla vertel die verhaal uit Thomas se perspektief. Die stuk speel af drie jaar na die skietery, nadat Thomas Skierlik verlaat het.

Skierlik is oorspronklik opgevoer by Mmabana Kunssentrum in die Noordwes-provinsie. Sedertdien het dit gaan draai by die Baxter-teater, Kunstekaap en die Nasionale Kunstefees in Grahamstad.

Skierlik
Skierlik
In 2013 is die stuk genomineer vir die Fleur du Cap vir Nuwe Suid-Afrikaanse Teks en Phillip Dikotla vir die Beste Eenmanvertoning.

Skierlik het ‘n ouderdomsperk en is nie geskik vir kinders onder die ouderdom van 14 jaar nie. Dit open amptelik op Vrydag 21 Maart en duur tot Sondag 13 April 2014 by die Soweto-teater. Kaartjies kos slegs R70.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply