2009 Suid-Afrikaanse motor van die jaar wenner

 

Die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste (SAGMJ) het op Dinsdag 17 Maart die Honda Accord 2.4 Executive aangewys as 2009 se Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar (MVDJ) tydens ’n glansgeleentheid by die Gallagher konferensiesentrum in Midrand. Die funksie, met die kompetisie-borg Wesbank as gasheer, is bygewoon deur industrieleiers en ander welbekende verteenwoordigers van die plaaslike motorbedryf.

Die aankondiging van hierdie groot eer volg ’n streng stem- en toetsproses van alle kwalifiserende voertuie wat tussen 21 Oktober 2007 en 31 Oktober 2008 in die Suid-Afrikaanse mark bekend gestel is. Nege finaliste vir hierdie kompetisie is aan die einde van verlede jaar gekies na ’n diepte-peiling van alle volle lede van die SAGMJ en ’n gevolglike stemming van lede van die MVDJ-jurie. Die MVDJ-jurie, wat saamgestel is uit die land se top motorjoernaliste, het die finaliste vir drie dae in Januarie vanjaar deur hul passies gesit en aan ’n streng punte-toekenningsproses onderwerp.

Die finale, geouditeerde puntetelling wys duidelik dat Honda se sedan die uiteindelike wenner van hierdie gesogte toekenning, die hoogste toekenning van sy soort in die motorbedryf, is. Die SAGMJ, ’n professionele bedryfsliggaam van gekwalifiseerde motorjoernaliste, ken hierdie prys elke jaar vir die afgelope 24 jaar toe.

Die Honda Accord het strawwe mededingers in die vorm van Ford Fiesta 1.6 Trend 5-dr, Suzuki Swift 1.5 GLS, Mazda6 2.5 Individual, Jaguar XF 3.0 V6 Premium Luxury A/T, VW Tiguan1.4TSI Trend and Fun 4Motion, Audi A4 1.8T Ambition multitronic, Honda Jazz 1.5 EX en Suzuki SX4 2.0 uitgestof. Al hierdie motors was finaliste wat meegeding het vir die hoogste toekenning in die land se top motorbyeenkoms.

’n Groot gedeelte van die toetswerk waaraan die finaliste onderwerp is, is gedoen by die Gerotek voertuigtoetsterrein buite Pretoria. Dit maak die Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-kompetisie uniek tussen soortgelyke toetse elders ter wêreld, aangesien omvattende toetse op alle finaliste binne ’n beheerde toetsomgewing gedoen word. Die finaliste se direkte mededingers in die motormark is natuurlik ook in berekening gebring en hulle is dus in hul segmente, eerder as direk teen mekaar, getoets.

Die SA Motor van die Jaar hoort, by definisie, harte warm te laat klop as ’n werklik uitmuntende motor in sy klas, maar ook in die mark as geheel. Die MVDJ-kompetisie is immers ’n maatstaf van voertuig-uitnemendheid en die wenmotor moet hoë punte haal in ’n rits kategorieë wat onder meer waarde vir geld, veiligheid, dinamika, tegnologie en estetika in ag neem. Die wenner moet ook duidelik strewe om innovasie en vindingrykheid ten opsigte van bemarking en ingenieurswerk in sy klas te verteenwoordig en as sulks moet hy die verpersoonliking wees van ’n brawe sprong vorentoe vir motorwese as geheel. Die wenner moet verkieslik nuwe standaarde in sy klas stel. In kort moet die wenner in alle opsigte ’n waardige draer wees van die eksklusiewe en gesogte titel as die “Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar”.

Die MVDJ-kompetisie is geborg deur Wesbank, met ondersteunende borgskap van Total Suid-Afrika.

• Die SAGMJ bied die Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-kompetisie reeds sedert 1986 aan.
• Wesbank het die kompetisie reeds sedert sy totstandkoming geborg.
• Vorige wenners:
1986 Toyota Corolla Twin Cam
1987 Mercedes 260
1988 BMW 735i
1989 Toyota Corolla GLi Executive
1990 BMW 525i
1991 Opel Monza 160 GSi
1992 Nissan Maxima 300 SE
1993 BMW 316i
1994 Opel Kadett 140
1995 Opel Astra 160iS
1996 Audi A4 1,8
1997 BMW 528i
1998 Ford Fiesta Fun
1999 Alfa Romeo 156 T-Spark
2000 Renault Clio 1.4 RT
2001 BMW 320d
2002 Audi A4 1.9 TDI
2003 VW Polo 1.4 TDi
2004 Renault Megane 1.9 dCi
2005 Volvo S40 2.4i
2006 Audi A3 Sportback 2.0T
2007 Honda Civic 1.8VXi Sedan
2008 Mazda2 1.5 Individual

Lewer kommentaar

Leave a Reply