ABSA-Veldrenkampioenskap maak gereed vir besondere seisoen

Met die openingsbyeenkoms – die Adenco 400 van 20 en 21 Maart in die Wes-Kaap – net ‘n maand weg, toon die voorseisoenaktiwiteite dat die Absa-Veldrenkampioenskap oorgehaal is vir ‘n fantastiese seisoen.

Verwikkelinge tydens die rusperiode en veranderinge in spanpersoneel het heelwat interessante ontwikkelings opgelewer. Dit lyk veral na ‘n goeie jaar in die premier-Superproduksieklas (Klas SP) in die Produksievoertuigkategorie waar sommige hoëprofielname hul verskyning maak.

Klas SP het weer eens ongelooflike groei getoon. Amper 20 voertuie bestaande uit fabrieks- en privaatspanne van Ford, Nissan en Toyota kan by die Adenco 400, wat in die Darling-omgewing gebaseer sal wees, op die wegspingrooster aantree.

Ford se span in Klas SP sal uit twee fabrieksvoertuie en drie privaatspanne bestaan. Die voormalige kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer en Thomas Rundle en Hennie ter Stege sal in die twee fabrieks-Ford Rangers wees.

Rundle maak die sprong van Klas E na die premierklas en staar ‘n stywe leerkurwe in die gesig. Ter Stege is egter baie ervare en is die ideale navigtor om hom te help.

Ondersteuning sal in die vorm van die privaatspanne, Kobus van Tonder en Riaan Guelpa in die voormalige Mark Ferguson-fabrieksvoertuig kom asook van Pieter Ruthven en De Waal Boshoff in die eks-Woolridge-voertuig wat nou in Ruwacon Racing-kleure terwyl Graham Leith en Mark Lawrenson in die eks-Motorite-Ford Ranger sal deelneem. Ruthven en Boshoff skakel van die Spesiale Voertuigkategorie na Klas SP oor.

Nissan, wat die Produksievoertuigkategorie vir amper ‘n dekade oorheers het, sal dié seisoen vier fabrieksvoertuig in die veld stoot. Drie sal in Klas SP deelneem en een, waarvan die span nog nie gefinaliseer is nie, sal in Klas E deelneem.

Nissan se Klas SP-uitdaging lyk heel bekend. Die huidige jaerskampioen, Duncan Vos en Dakar-ren-held, Ralph Pitchford, sal in die een Nissan Navara wees met die veteraan, Hannes Grobler en Juan Möhr asook die Noorweër, Ivar Tollefsen en die Brit, Quin Evans, wat by hulle sal aansluit.

Tollefsen en Evans sal in die SA-geboude Navara deelneem waarmee hulle vierde tydens die Dakar-ren geëindig het. Möhr is die huidige SA-navigatorkampioen.

‘n Interessante toevoeging tot die Nissan-groep is Terence Marsh en Pieter Groenwald (Regent Racing) in die eks-Vos-kampioenskapwenner. Marsh, ‘n voormalige SA-kampioen, het ook voorheen in die Spesiale Voertuigkategorie deelgeneem.

Toyota het met 10 voertuie, verreweg die grootste hoeveelheid voertuie in Klas SP met nóg ‘n hoë-profielspan vanuit die Spesiale Voertuigkategorie – Gary Bertholdt en André Vermeulen. Bertholdt is vinnig en dié paar, wat laas jaar twee keer in die Spesiale Voertuigkategorie gewen het, sal in ‘n nuwe Toyota Hilux onder die Atlas Copco-banier deelneem.

Toyota se fabrieksaanslag sal weer in die hande van Mark Cronje en Chris Birkin en die Toyota-staatmakers, Anthony Taylor en Robin Houghton wees. Cronje/Birkin het die Oos-Kaap 400 laas jaar gewen en beide spanne sal dié seisoen hoë verwagtinge koester.

Die Toyota-privaatspanne lyk solied en gevestig. Chris Visser/Japie Badenhorst (Team Barberspan-Toyota Hilux); Hugo en Jaap de Bruyn (Micaren Exel-Toyota Hilux) en Jaco Swanepoel en Keith Solomon in die IDM Cement-Toyota Hilux; Chris du Plooy en Ewald van Rensburg (RFS-Toyota-Hilux) asook Mike Thomsett/Brian Haviland (Feltex Imperial-Toyota Hilux) het almal laas seisoen deel van die Toyota-prentjie uitgemaak.

Hulle sal dié keer deur Christiaan du Plooy en Henk Jansen van Vuuren in ‘n tweede RFS-Toyota Hilux bygestaan word. Hulle maak die skuif van Klas D en is oorgehaal vir ‘n stewige leerervaring.

“Die groei in Klas SP die afgelope twee seisoene was ongelooflik en weerspieël die toestand van veldrenne in Suid-Afrika,” het die president van Motorsport SA se Veldrenvoertuigkommissie, Richard Schilling, gesê. “Laas seisoen se kampioenskappe is eers tydens die laaste byeenkoms afgehandel en dit lyk of dit dié seisoen net so mededingend gaan wees.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply