KKNK 2009 – My keuse

Alles het aanvanklik volgens plan verloop. Van 2009 se Klein Karoo Nasionale Kunstefees het ek niks geweet nie. Die twee jaar in die bestaan van die KKNK wat ek nie op Oudtshoorn was nie het wondere verrig vir my daaropvolgende feeste. Dit het minder soos werk gevoel en meer soos ‘n fees.

Die oorspronklike plan was om weer vanjaar die fees te ignoreer. My oë sou oor die KKNK-bydraes op Roekeloos spring en eers na afloop van die fees sou ek iets lees om my te help besluit oor wat ek vanjaar in die teater gaan sien.

Toe trap ek oor die tou. Ek maak die fout om net te oorweeg om na die bekendstelling te gaan. Met Mevrou in die omgewing is dit fataal. Mevrou weet wat jy gaan doen nog vóór jy duidelikheid oor die saak het. Boonop skuur Mevrou graag skouers met diegene wat in die kalklig staan. Soms dink ek sy is gewoon moedswillig, want ‘n stylvolle Mevrou met haar breedste glimlag op laat almal in die omgewing soos weeskinders lyk.

So moet ek na afloop van die bekendstelling ook uitvind dat ook ander geseën is met Mevrou se vermoëns. Ek word gepeper met e-posse wat almal skielik weet dat ek weer vanjaar op Oudtshoorn is, natuurlik lank voor ek die besluit geneem het.

Meeste van die e-posse wil weet wat ek gaan kyk of wat ek sou aanbeveel. So hier is my keuse vir 2009 se KKNK. My keuses is gewoon ‘n mengsel van persoonlike smaak en die ervaring van te veel KKNK’s. Ek noem kortliks wat my na elkeen van die aanbiedinge lok.

TONEEL

Sakrament
Ek het hoë verwagtinge van Stian Bam in die stuk wat glo kommentaar lewer oor die mens in 2009. Die regie word behartig deur Marthinus Basson.

Blou uur
Geskryf deur Reza de Wet, regie deur Marthinus Basson en Antoinette Kellermann in een van die hoofrolle.

Salto Vitale
Fisieke, beeldryke teater deur ‘n Nederlandse toneelgroep.

Spokie Snygans maak sy buiging
Die Universiteit van die Vrystaat se poging word beskryf as ‘n moet vir enige teaterganger. Die teks is deur Jeanne Goosen. Ek loop maar lig vir studenteproduksies, maar sal my nek uitsteek vir die een. Dit is een van die mededingers vir vanjaar se Sanlam-prys vir Afrikaanse teater.

Onder Constructie
Buitelugteater teen die agtergrond van die Klein Karoo natuurskoon, soos uitgevoer deur ‘n Nederlandse teatergroep.

Nothing ever changes
Kunsoptredes in openbare plekke.

MUSIEKTEATER

Alles op ‘n stok
Ek geniet nog altyd die STOK-produksies. Meer mense behoort te weet van Leon Ecroignard.

Ballade van Koos Sas
Die verhaal van Koos Sas soos geskryf deur David Kramer, Jody Abrahams en Gaerin Hauptfleisch en vertel met behulp van Kramer se musiek.

Hartsnaar
‘n Verskeidenheid musici wat hul passie vir musiek openhartig deel. Met Jannie du Toit en Christa Steyn. Die regie is deur Leon Ecroignard.

DANSTEATER

Hierdie gedeelte gaan ongemaklik wees
Die stuk beloof om eerlik, buitengewoon en intelligent te wees.

Ontbloting van die vroulike siel
Vier vroue wat wil vermaak sonder om fisiese skoonheid of tegniese truuks in te span. Uitgevoer deur ‘n Tsjeggiese dansgeselskap.

Feestelike Introdans: Celebrations
‘n Geleentheid om een van die beste dansgeselskappe uit Nederland te sien.

MUSIEK

Bloed in die water
‘n Gewaagde produksie wat musiek en film kombineer. Met Emile Minnie.

Blues en Susters
‘n Poging om jazz en blues deel van Afrikaans te maak met behulp van volksliedjies. Met Anna Davel, Schalk Joubert en Ollie Viljoen.

Stillewe
Stef Bos is weer by die KKNK.

MK Kaktus Sessies
Sal ‘n oordeel gaan fel oor Jackal & Wolf, Die Heuwels Fantasties en Ashtray Electric.

LEEFSTYL

Historiese Wandeltoer
Oudtshoorn se argitektoniese erfenis is baie interessant.

Thando’s Township Tours
Die sjebiens en kunstenaars van Bongolethu.

Whisky en sjokolade
Word ‘n whisky- en sjokoladeconnoisseur.

Volstruiswedloop
‘n Halfmarathon en 10 km. ‘n Laaste opwarming vir die van ons wat vanjaar die Two Oceans aandurf.

VISUELE KUNS

Oudtshoorn Trace
Landskapkuns, onder andere. ‘n Gesamentlike projek van Marcus Neustetter en Bronwyn Lace.

Obsessie
Absa se korporatiewe uitstalling. Ek mis dit nooit nie.

Auto Hagiography
James Webb se klankinstallasie waarmee hy verlede jaar die Absa L’Atelier-kunsprys verower het.

Dutchman
Zach Taljaard werp die lig op ‘n jong Afrikaner identitiet in krisis.

Exquisite Corpse
Etse deur verskeie kunstenaars. Die tema is Adam en Eva.

Sien julle op Oudtshoorn.

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

  1. Spokie Snygans maak sy buiging is ook my keuse en hul moet wen, hulle het ongelooflik hard gewerk!!!

Lewer kommentaar

Leave a Reply