AfriForum en Zuma praat oor misdaad

 

Die burgerregte-inisiatief AfriForum en die president van die ANC, Jacob Zuma, het vanoggend in Johannesburg vergader. Tydens die vergadering is saamgestem dat die bekamping van misdaad een van die belangrikste prioriteite van die regering moet wees.

Zuma het tydens die vergadering aangedui dat hy ‘n navorsingsverslag en voorstelle rakende die staat se hantering van die misdaadkrisis, wat deur die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) in opdrag van AfriForum opgestel is, noukeurig sal bestudeer. Die verslag het bevind dat die Suid-Afrikaanse regering misluk in sy plig om ʼn nasionale strategie te ontwikkel en te implementeer wat die bedreiging wat misdaad vir landburgers inhou, effektief aanspreek. Die verslag dui ook aan dat die regering nie sy belofte om alternatiewe veiligheidstrukture met die ontbinding van die kommando’s daar te stel, nagekom het nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit in die lig van die misdaadkrisis in die land, van kardinale belang dat die leemtes in die regering se optrede rakende misdaad so spoedig moontlik uit die weg geruim moet word. “Die verslag bied ‘n stewige basis vanwaar ‘n omvattende nuwe misdaadstrategie ontwikkel kan word,” het Kriel bygevoeg.

AfriForum het Zuma ingelig dat AfriForum se regspan besig is met voorbereidings om die regering oor die misdaadkrisis in die land hof toe te vat. Zuma het aangedui dat hy misdaad met erns bejeën en dat hy glo oplossings kan buite die hof gevind word. Kriel het aangedui dat AfriForum na die verkiesing die nuwe regering amptelik sal versoek om die leemtes wat in die ISS-verslag uitgewys word, aan te spreek. AfriForum sal volgens Kriel daarna oor verdere stappe besluit afhangend van hoe die nuwe regering daarop gaan reageer.

Jacob Zuma
Jacob Zuma

Die volledige navorsingsverslag is beskikbaar onder “Dokumente en Verslae” by www.afriforum.co.za

(foto: GCIS)

Lewer kommentaar

Leave a Reply