Auris X – Toyota se nuwegeslag-luikrug

Die nuwe Auris X is ‘n produk van Toyota se vooruitstrewende Europese ontwerpateljee, ED2. Vir die Auris X-reeks het die ontwerpers ‘n sogenaamde “binne-buite”-benadering gevolg om die allerbeste kajuitruimte en -gerief te verseker voordat hulle die buite-ontwerp gefinaliseer het. Dit het beteken dat hulle baie meer vryheid gehad het om die kajuit rondom die vereistes van die bestuurder en die passasiers te ontwerp eerder as dat hulle ingeperk is deur ‘n voorafbepaalde buite-ontwerp.

Van die eerste aansig tot die aanvanklike aanraak-en-voel-ondervinding gee die Auris X ‘n vars perspektief. Maar dit is nie net die aanraak en gevoel van die Auris X wat beïndruk nie. Die motor se uitstekende dinamiese eienskappe maak hom ‘n plesier om te bestuur. ‘n Mens kan die invloed van ED2 deur die hele Auris X-pakket waarneem, wat spesifiek aangepas is by die voorkeure van Europese sowel as Suid-Afrikaanse kopers.

Die ontwerpspan het ‘n fyn balans verkry tussen estetiese stilering, lugdinamiese eienskappe, dinamiese verrigting en ‘n rigiede bakstruktuur, en die eindresultaat is ‘n stil, stabiele, gerieflike en doeltreffende voertuig met uitstekende brandstofekonomie en lae geraasvlakke.

Stappe om die allerbeste lugdinamiese verrigting te verseker, sluit in die noupassende voorruit, die vorm van die hortjie aan die agterkant van die enjinkap en die ontwerp van die ruitveërs. Aandag is ook aan lugvloei onder die motor deur geskenk. Die Auris X is toegerus met ‘n reeks dekplate onder die motor om ‘n gladde lugvloei te verseker.

Die nuwe Auris X is ontwerp om te spreek tot die hart sowel as die verstand. Die nuwe Toyota bied die eienaar uitstekende veelsydigheid sowel as gerief, bestuursgenot, hoëgehalte-afwerking en milde toerustingvlakke. In die nuwe model is daar ook klem gelê op ‘n sportiewe karakter.

Die Auris X-vyfdeurluikrugreeks van ses modelle word aangebied met ‘n keuse tussen drie enjins – wat almal spog met Toyota se gevorderde Optimal Drive-tegnologie – en almal is gekoppel aan ‘n nuwe geslag van sesganghandratkaste vir optimum-doeltreffendheid.

Auris X
Auris X

Daar is drie spesifikasievlakke. Die Auris X- en Auris XI-spesifikasievlak geld vir die 1,3 en die 1,6 liter-weergawes. Die 1,6 liter met die medium-spesifikasievlak staan bekend as die Auris XS en die een met die hoë spesifikasie as die Auris XR. Die 2 liter-dieselweergawe, die Auris XD, het dieselfde spesifikasie as die Auris XS. Die nuwe model in die reeks is die Auris SportX, ‘n sportiewe weergawe met dieselfde inkleding as ander middelslag-modelle, maar ook toegerus met ‘n reeks unieke eksterne kosmetiese veranderings.

Al die Auris X-modelle kom standaard met lugreëling – ‘n stelsel met handstelling vir die Auris X, Auris XI, Auris XS, Auris XD en Auris SportX, en ‘n outomatiese dubbelsonestelsel vir die vlagskip, die Auris XR.

Al die Auris X-modelle, naas die Auris X en Auris XI, spog met Toyota se tegnologies gevorderde Optitron-instrumentstelsel. Al die modelle het ook ‘n veelfunksievertoon in die hoofinstrumenthuls. Inligting wat vertoon word, sluit in tyd (horlosie), buitetemperatuur, gemiddelde snelheid en gemiddelde brandstofverbruik.

Die Auris XR-vlagskip is toegerus met ‘n “Slim Toegang- en Aanskakel”-stelsel. Die stelsel bespeur die teenwoordigheid van die voertuig-“sleutel” binne ‘n afstand van een meter en dan kan die bestuurder die voordeure en kattebak oop- en toesluit en die enjin aanskakel sonder dat die “sleutel” in sy gleuf ingedruk hoef te word.

Wanneer die bestuurder (met die sleutel by hom) aan die deurhandvatsel raak, sluit ‘n sensor die deurslot outomaties oop. As die bestuurder eers in die motor is, kan hy die enjin aanskakel bloot deur die aansitknop te druk.

Al die modelle is ook toegerus met afstandbeheerde sentrale sluiting. ‘n Veiligheidsfunksie sluit die deure weer as die sleutel nie binne 30 sekondes nadat die deure oopgesluit is, in die ontstekingslot gesteek word nie.

Die intree Auris X spog met die volgende toerusting:

1,3 liter-enjin met Optimal Drive-tegnologie: 74 kW en 132 Nm
Sesganghandratkas
15 duim-staalwiele met 195/65 R15-bande
Volgrootte noodwiel met staalvelling
Kleurgepaste buffers, kantspieëls en deurhandvatsels
Elektriese kantspieëlverstelling met flikkerlig
Ruitveërs met onderbroke aksie
Agterste reënveër/wasser met onderbreekstelling
Agterruitontwasemer
Lugreëling met handstelling
Elektriese snelheidsgevoelige kragstuur
Kantel- en teleskopiese stuurwielverstelling
Leerstuurwiel met satellietkontroles vir klankstelsel, Bluetooth en MID
Leerratkierieknop
Elektriese ruitverstelling voor
Multi-sone inligtingvertoonskerm
Optitron-instrumentasie
Sitplekgordel-waarskulig en -gonser
RDS-radio/CD-kombinasie met ses luidsprekers en Bluetooth
UBS/AUX-prop
Hoogteverstelbare bestuurdersitplek
Agtersitplekke met verstelbare rugleunings (twee posisies)
Bekerhouers vir die bestuurder en die voorste passasier in die instrumentpaneel
Bêresakke aan die agterkant van die bestuurder en voorste passasier se sitplekke
ABS-remme met elektroniese remkragverdeling en remsteun
Lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier
Kantlugsakke vir die voorste sitplekke
Aan/afskakelaar vir voorste passasierslugsak
Driepuntsitplekgordels vir al die sitplekke. Voorste sitplekgordels met voorspanners en kragbeperkers
WIL (Whiplash Injury Lessening)-sitplekke voor om sweepslagbeserings te verminder
ISOFIX-ankerpunte vir kinderstoeltjies
Transpondersleutel-immobiliseerder
Diefalarm
Sentrale sluiting

Die Auris XI het dieselfde spesifikasie, maar is toegerus met ‘n 1,6 liter-enjin
1,6 liter-Valvematic-enjin: 97 kW en 160 Nm
Sesganghandratkas
16 duim-staalwiele met 205/55 R16bande

Die Auris XS het die volgende bykomende toerusting:
Groot agterste lugvlerk met hooggeplaaste ingeboude remlig
Rookglas vir die kantruite en die agterruit
16 duim-allooiwiele met 205/55 R16-bande
Elektriese ruitverstelling voor en agter
Gordynlugsakke aan die kant en ‘n knielugsak vir die bestuurder
Misligte voor
Armleunings agter met twee ingeboude bekerhouers
Silwerafwerking vir die middelhuls

Die Auris XD het dieselfde spesifikasievlak, maar is toegerus met ‘n D-4D-dieselenjin van 2 liter.
2 liter-D-4D-dieselenjin met Optimal Drive: 93 kW en 310 Nm

Die Auris XR-vlagskip het die volgende bykomende toerusting:
1,6 liter-Valvematic-enjin: 97 kW en 160 Nm
Reëngevoelige ruitveërs
Outomatiese lig aan/af-stelsel
Snelheidsbeheer
Outomatiese dubbelsone-lugreëling
Elektrochromatiese truspieël
Leerbekleedsel
Slim toegangstelsel

Die Auris SportX-weergawe bied die volgende ekstra toerusting:
Volledige lugskort-stel met voorste- en kantskorte en agterste lugsnoer
Pasgemaakte matte

Diensafstande is 15 000 km vir al die modelle en ‘n diensplan van vyf jaar/90 000 km is by die prys ingesluit.

Auris X 74 kW / 132 Nm R199 900
Auris XI 97 kW / 160 Nm R216 000
Auris XS 97 kW / 160 Nm R232 400
Auris SportX 97 kW / 160 Nm R243 800
Auris XR 97 kW / 160 Nm R253 900
Auris XD 93 kW / 310 Nm R268 800

Lewer kommentaar

Leave a Reply