Die nuwe Hybrid Synergy Drive-stelsel van die jongste Prius is ontwerp vir geringe instandhouding en uitmuntende duursaamheid. Die waarborgrekord van die huidige geslag van die Prius in internasionale markte onderstreep die volle hibriedstelsel se reputasie vir ongeëwenaarde betroubaarheid. Trouens, die Prius spog met die laagste waarborgkoste per eenheid van al Toyota se modelle.
Die derde geslag-Prius gebruik 9 persent minder petrol as die reeds uitstekende verbruiksyfer van sy voorganger. Die nuwe Atkinsonsiklus-petrolenjin van 1,8 liter, wat die vorige 1,5 liter-enjin vervang, toer laer by hoër snelhede, wat petrolverbruik oor lang afstande met tot 12 persent verbeter. Die Prius is die enigste gesinsmotor met die petrolverbruik van ‘n klein stadsmotor en ‘n reikafstand van 1 150 km op ‘n vol tenk. Dit is 150 km meer as die huidige model, hoewel die tenkgrootte dieselfde gebly het.
Die jongste Prius se Hybrid Synergy Drive-stelsel is spesifiek ontwerp vir geringe instandhouding en uitstekende duursaamheid. Die motor moet elke 15 000 km gediens word.
Die nuwe Prius is die wêreld se eerste produksievoertuig wat geen dryfbande het om hulptoerusting aan te dryf nie. Die volle hibriedkragoorbringstelsel het geen konvensionele aansitter of alternator nie. ‘n Onderhoudsvrye tydreëlketting word gebruik pleks van ‘n konvensionele nokasdryfband, wat beteken dat daar geen band is wat gereeld, en teen hoë koste, vervang hoef te word nie. Ander dienskostebesparings word verkry deur die gebruik van ‘n element-tipe oliefilter eerder as ‘n volle patroon-tipe, en klein vonkproppe.
Danksy die hoë doeltreffendheid van die elektronies beheerde regeneratiewe remstelsel van die nuwe Prius het die remkussings ‘n lewensverwagting van ongeveer 100 000 km.
Tot op die hede het die twee vorige geslagte van die Prius – meer as 1,2 miljoen van hulle – al meer as 60 miljard kilometers in alle soorte bedryfstoestande oor die hele wêreld afgelê. Dit het Toyota in staat gestel om die Prius se hoëgehalte-batterystel vir 5 jaar of 100 000 km te waarborg. In werklikheid sal die batterystel waarskynlik vir die lewensduur van die motor hou.
Die vleklose staalinhoud van die uitlaatstelsel gee dit ‘n verwagte lewensduur van 5 jaar, terwyl die LED-kopliggloeilampe ‘n lewensverwagting van 20 jaar het. Die bande, wat tot 250 kPa gepomp word, kan tot 50 000 km hou, afhangende van bestuurstyl.
Die Prius se bak is ontwerp om vir die lewensduur van die motor weerstand teen korrosie te bied. Die gebruik van gegalvaniseerde materiaal vir die meeste van die bakpanele verhoog weerstand teen korrosie. ‘n Spesiale verflaag aan die onderkant van die motor verleen beskerming teen afsplintering en, in die proses, teen korrosie.
Baie van die komponente is ontwikkel om botsherstelkoste te verminder, en die bakstruktuur self is ontwerp vir maklike en kostedoeltreffende herstelwerk in die geval van ‘n botsing.
Die botskas, geïntegreer in die bufferversterking, absorbeer botsenergie en help om skade aan die bak te verminder. Die bufferversterkings voor en agter, asook die kantbalke, verkoelersteun en die agterste botskas, word almal aangebout om herstelkoste te bespaar. Die verkoelersteun het ‘n terugtrekmeganisme wat help om skade aan die verkoelingstelsel te beperk in die geval van ‘n minder ernstige botsing.
Bykomende waarde word gebied deur ‘n diensplan van vyf jaar/100 000 km wat by die prys van die Prius ingesluit is.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
