Prius vestig homself in Hibriedmark in Suid-afrika

“Toe ons die Prius in 2005 in Suid-Afrika bekend gestel, het ons dit gedoen op grond die Toyota-Motorkorporasie se globale uitbreiding van die Prius-handelsmerk,” sê Andrew Kirby, Toyota SA se Senior Visepresident: Verkope en Bemarking.

“In daardie stadium, vroeg in die lewe van die tweede geslag-model, het die Prius homself reeds gevestig op die Japanse mark en ‘n kultus-gevolg ontwikkel onder bekende en beroemde mense in die VSA, waar verkope met die bekendstelling van die nuwe model in die bestek van 12 maande verdubbel het tot net minder as 110 000 eenhede vir die jaar. Met die plaaslike bekendstelling van die Prius het ons ons gevoeg by Europa en ‘n aantal ander lande deur Toyota se hibriedtegnologie beskikbaar te stel as ‘n uitbreiding van ons plaaslike produkreeks.

“Ons het geweet dat die beskikbaarheid van die Prius beperk sou wees en dat dit ‘n nisvoertuig sou wees, gewild onder diegene wat hul ‘groen’ instelling teenoor die lewe en die omgewing wou beklemtoon. Ons verkoopsdoelwit was maar beskeie, net 15 eenhede per maand, wat ons feitlik van die wegspring af bereik het.

“Die plaaslike beskikbaarheid van die Prius word bepaal deur die wêreldvraag na die voertuig, en in die laaste klompie jare het twee faktore daartoe bygedra dat ‘n waglys vir die motor ontstaan het. Die eerste is ‘n geweldige toename in die bewustheid van die bydrae van voertuigemissies tot globale verwarming. Dit het gelei tot steeds strenger regulasies ten opsigte van emissies en belastings gegrond op voertuie se emissievlakke. Die tweede is dat die globale gemeenskap gedurende die laaste deel van 2007 en die eerste klompie maande van 2008 opnuut kennis moes neem van die onbestendigheid van die wêreld se olietoevoer en -prys.

“Teen einde Mei vanjaar het die Prius se globale verkope 1,29 miljoen beloop, waarvan byna 45 persent in 2007 en 2008 was – en dit teenoor verkope van net 323 in 1997 in Japan. Terwyl ons mark hierdie vraag weerspieël, kon ons die situasie as gevolg van die ons beperkte voorraad nie benut nie. Sedert die Prius se bekendstelling in Suid-Afrika is desnieteenstaande al meer as 680 eenhede van die hand gesit en dit gee ons ‘n soliede grondslag waarop ons die hibriedmark met die derde geslag kan uitbrei.

“Ons is ten volle daarvan bewus dat die hibriedmark in Suid-Afrika vir die voorsienbare toekoms ‘n laevolumesektor sal bly, maar daar is toenemende bewustheid van die tegnologie as ‘n lewensvatbare alternatief vir konvensionele voertuie en dit verteenwoordig ‘n groeisektor vir Toyota as die globale leier op die gebied van hibriedvoertuigverkope met ‘n afset van 1,85 miljoen eenhede teen die einde van Mei vanjaar.

“Die nuwe Prius, soos die vorige twee modelle, doen baanbrekerswerk met die bekendstelling van talle nuwe tegnologieë en boonop spog dit met beter verrigting. Ons vertroue in die toekoms van hibriedvoertuie in Suid-Afrika en ons vermoë om ons penetrasie van hierdie segment uit te brei, word daardeur weerspieël dat Suid-Afrikaanse kopers vir eerste keer ‘n keuse tussen twee spesifikasievlakke sal hê, naamlik Advanced en Exclusive.

“Goeie nuus vir voornemende Prius-eienaars is dat ons die Prius Advanced, met ‘n laer spesifikasievlak as die Exclusive, maar steeds omvattend toegerus, te koop sal aanbied teen R326 000, BTW ingesluit. Hierdie prys is laer as dié van die model wat hy vervang. Die Prius Exclusive kos R370 700, BTW ingesluit.

“In sy begrotingstoespraak in Februarie het die Minister van Finansies aangekondig dat die regering oorweeg om reeds van 2010 af ‘n emissiebelasting op voertuie te hef. Die voorgestelde CO2-emissiegrens is 140 g/km, waarna eienaars die belasting sal moet betaal. Die nuwe Prius spog met CO2-emissies van net 89 g/km, die laagste van alle passasiersmotors wat tans te koop aangebied word.

“Ons sien met groot belangstelling uit na die ontwikkeling van die hibriedvoertuigmark in Suid-Afrika. Ons het geen twyfel dat die handelsmerk aansienlik gaan groei namate dit sy nisbeeld afskud nie, veral nie as ‘n mens die groot verbetering in krag en verrigting in die jongste Prius in aanmerking neem nie.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply