In sy strewe om die omgewingsimpak van die nuwe Prius te beperk, het Toyota sy “Lewensiklusdenke”- en “Lewensikluswaardasie”-proses op elke stadium van die ontwikkeling van die derde geslag van hierdie hibriedvoertuig van toepassing gemaak.
Die nuwe Prius word gebou in Toyota se Tsutsumi-Ekofabriek, waar omvattende en volgehoue omgewingsvriendelike prosesse tot gevolg gehad het dat CO2-emissies tussen 1990 en 2006 met 52 persent verminder is (‘n afname van 65 persent per voertuig).
Van die jongste stappe sluit in die gebruik van hernubare energie deur die grootskeepse benutting van sonenergie deur sonpanele, wat 2 000 kW, of 50 persent van die aanleg se elektrisiteitsvereistes, verskaf. Grondopvullingsafval is heeltemal uitgeskakel en afval wat vir verbrandingsoonde bestem is, is met 82 persent verminder van 5 423 ton in 1999 tot net 760 ton in 2006. Dit is gelyk aan ‘n afname van 138 000 ton CO2 of die jaarlikse CO2-emissies van 15 000 Japanse huishoudings.
Omvattende waterherwinningstelsels het die water (ten volle gesuiwer) wat in die plaaslike rivierstelsel gestort word, met 50 persent verminder.
Met die oog op die vermindering van kooldioksied in die produksieproses het Toyota se ingenieurs die wêreld se eerste inspuitvormmateriaal van plante ontwikkel. Hierdie Ekologiese Plastiek word op groot skaal in die nuwe Prius gebruik.
‘n Innoverende herwinningsproses, met feitlik geen emissies nie, verseker dat 95 persent van die komponente van die motor se hoëspanningsbattery na gebruik herbenut kan word.
Lewensikluswaardasie vir verbetering in CO2-emissies oor die gebruikslewe van die voertuig
Toyota het die Lewensiklusdenke- en die Lewensikluswaardasie-proses in elke stadium van die ontwikkeling van die nuwe Prius toegepas om die reeds lae impak van die motor op die omgewing nog verder te verminder.
Lewensiklusdenke is ‘n proses wat kennis neem van al die hulpbronne wat gebruik word en die omgewings- en gesondheidskwessies wat verband hou met die hele lewensiklus van ‘n produk, van ontwerp tot produksie en daarvandaan deur die produk se gebruiksleeftyd tot die herbenutting.
Lewensikluswaardasie is die metodologie waarop Lewensiklusdenke berus. Eers word al die data gekwantifiseer en daarna word ‘n waardasie gemaak van die omgewingsimpak van ‘n produk deur sy hele gebruiksleeftyd om omgewingsvoordele te bepaal, sowel as moontlike gebiede waar verbeterings aangebring kan word.
Deur die ontwerpstadium is elke detail van die nuwe Prius aan die hand van die twee prosesse ontleed om die kleinste moontlike omgewingsimpak deur die gebruikslewe van die motor te verseker. Hierdie noukeurige benadering het gelei tot die ontwikkeling van ‘n innoverende reeks eienskappe wat, elk op sy eie manier, bydra tot ‘n hoë vlak van omgewingsdoeltreffendheid.
Die gebruik van koolstofneutrale ekologiese plastieke verminder CO2-emissies oor die gebruikslewe van die Prius, terwyl die omvattende gebruik van aluminium en ‘n 20 persent-vermindering in gewig van die Hybrid Synergy Drive-stelsel brandstofekonomie bevorder. Toyota se herbenutbare plastiek, Toyota Super Olefin Polymer, of TSOP, is spesiaal ontwikkel. Dit het aansienlik beter herwinningseienskappe as enige konvensionele versterkte saamgestelde polipropileen. Afgesien hiervan bevat elke nuwe Prius tot 5,7 kg herwonne plastiekmateriaal, insluitende klankdigtingsmateriaal.
Toyota se benadering van herbenutting sluit in die herwinning van materiale aan die einde van ‘n voertuig se gebruikslewe. In reaksie op ‘n EU-voorskrif dat 95 persent van ‘n voertuig teen 2015 herbenut of herwin moet kan word, is die nuwe Prius so ontwerp dat dit reeds aan hierdie standaard voldoen. So byvoorbeeld is 95 persent van die batterystel herwinbaar.
Die nuwe Prius word gebou in Toyota se Tsutsumi-aanleg, wat in 1996 reeds voldoen het aan die internasionale groen standaard, die ISO 14001- Omgewingsbestuurstelsel. Tussen 2003 en 2007 het verbeterings in die aanleg ‘n vermindering van 21 persent in afval, 48 persent in die gebruik van vlugtige organiese verbindings, 14 persent in waterverbruik en 36 persent in CO2-emissies tot gevolg gehad. Die batterystel van die Prius word vervaardig in ‘n gesamentlike onderneming met Panasonic in ‘n fabriek wat ook spog met ‘n ISO 14001-Omgewingsbestuurstelselsertifikasie.
Die Tsutsumi-aanleg is een van talle Toyota-produksiegeriewe met ‘n nul-aanslag ten opsigte van grondopvullingsafval. Die aanleg is omring deur inheemse bome en maak op groot skaal gebruik van sonenergie. Trouens, sonpanele lewer 2 000 kW elektriese krag, ofte wel 50 persent van die aanleg se elektrisiteitsvereistes. Die grootskeepse gebruik van “sonligkanale” verskaf natuurlike lig, selfs in geboue sonder vensters.
Van die maatreëls om CO2-emissies te beperk, sluit in die installering van ‘n gasenjin-tipe hulpopwekkingstelsel, ‘n kleiner stoomketel, energiebesparende verligting en kragbesparings wanneer die aanleg nie in werking is nie.
Omvattende waterhersikleerstelsels word gebruik. Dit het meegebring dat die gehalte van die water wat in die plaaslike rivierstelsel gestort word, vyf keer beter is as die water in die rivier self. Die volume afvalwater van die aanleg is met 50 persent verminder.
In ‘n ander innoverende ekologiese inisiatief het Toyota die aanleg met sowat 22 000 m2 fotokatalitiese verf geverf. Dit het dieselfde uitwerking op die omgewing as die aanplanting van 2 000 populierbome. Die aanleg is vir alle praktiese doeleindes in ‘n woud geleë. Vyfduisend werkers en plaaalike inwoners het onlangs nog 50 000 bome op die fabrieksterrein geplant.
Toyota se ingenieurs het die wêreld se eerste inspuitgevormde materiaal wat van plante verkry word, vir gebruik in die nuwe Prius ontwikkel. Toyota beoog om die gebruik van hierdie koolstofneutrale plastiek, wat as Ekologiese Plastiek bekend staan, verder uit te brei in toekomstige modelle.
Daar is twee soorte Ekologiese Plastiek: dié afkomstig van suiwer plantmateriaal en dié wat vervaardig word van ‘n kombinasie van plant- en oliemateriaal. Aangesien plante in albei soorte plastiek gebruik word, gee Ekologiese Plastiek ongeveer 20 persent minder CO2 af oor die gebruikslewe van ‘n voertuig. Dit is omdat die koolstofdioksied wat by herwinning vrygestel word, oorspronklik gedurende fotosintese vasgevang is terwyl die plant besig was om te groei.
Skuim- en inspuitgevormde onderdele word op talle plekke in die nuwe Prius aangetref, onder meer die skuurplate, sitplekkussings, die beslag van die bagasiebak, en dies meer.
‘n Innoverende herwinningsproses waarin 95 persent van die batterystel herwin kan word, is ontwikkel. In die proses word feitlik geen emissies vrygestel nie.
Die karkas van die battery word verwyder en kan herbenut word in die vervaardiging van staal. Alle drade en elektroniese komponente word na ‘n onderneming gestuur wat spesialiseer in hierdie tipe herwinningswerk. Die selle word herwin in ‘n induksiegebaseerde termiese vakuumstelsel. Induksieverhitting, ‘n evolusie van die meer tradisionele afvalhittebehandelingsproses, verbruik minder energie en daar is feitlik geen emissies nie. Boonop is dit besonder veilig.
Die kragselle word in ‘n verseëlde houer geplaas waaruit al die lug verwyder is om die druk te verlaag. Die houer word dan verhit tot 8000 C. Al die materiale word geskei deur ‘n verdampingsproses by verskillende temperature en dan op verskillende plekke gekondenseer deur verskeie afkoelingsprosesse.
Wanneer die temperatuur 4000 C bereik, word al die organiese materiale afgebreek tot ‘n mengsel van water en olie, wat dan na die waterbehandelingsmaatskappy gestuur word vir prosessering. Die kragselle word ook aan waterstof blootgestel, wat help om die metaaloksiede af te breek tot suiwer metale.
Wat oorbly na die vakuumtermiese herwinningsproses is ‘n hoogs gekonsentreerde nikkelallooi. Dit word dan gebruik in die vervaardiging van nuwe batterye. Al die ander metale wat herwin is, soos kobalt en seldsame aardmetale, word gebruik in die vervaardiging van vleklose staal of in ander gespesialiseerde staalproduksieprosesse.
