Dom selfoondief

‘n Selfoondief van Pretoria kan dalk wegstap met die titel van Suid-Afrika se domste dief nadat hy ‘n foto van homself op sy slagoffer se WhatsApp-profiel gelaai het.

Lohan van Heerden (20), ’n tweedejaarstudent in aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Pretoria, kon sy oë nie glo nie toe die einste dief, wat die vorige aand sy selfoon gesteel het, die volgende dag ‘n foto van homself opgelaai het nie.

Van Heerden is vroeër vandeesmaand beroof toe hy vanaf Hatfield na Pretoria Tuine gery het. Vier mans het by ‘n verkeerslig in sy motor gespring en hom van sy selfoon, baadjie, lyfgordel en geld beroof.

Die rowers het hom ook gedwing om na ‘n kitsbank te ry om R1 000 te onttrek voor hulle hom laat gaan het.

Van Heerden het gesê toe hy die foto sien het hy onmiddellik die man as die groep se voorman herken en ook as die een wat hom in die gesig geslaan het.

Die polisie ondersoek die saak.

Diegene met inligting kan die Sunnyside-polisiekantoor se speurtak bel by 012 422 3678 of die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaadlyn by 08600 10111.


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar