Die Sun City 400, die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, sal vir ‘n unieke rekord tydens vanjaar se ren, wat op 24 en 25 Julie plaasvind, mik.
Die Sun City 400 is ook toeskouervriendelik en dit is binne maklike bereik vir entoesiaste van Gauteng en die Noord-Wes-streek.
“Ons is besig met die finale afronding vir vanjaar se ren en is oorgehaal om ‘n driekuns as die beste byeenkoms in te palm,” het die roetemeester, Adri Roets, gesê.
“Die roete sal weer eens uit ‘n verskeidenheid tipes terreine bestaan en sal interessant wees en goeie reënneerslae sal dit stof tot ‘n minimum beperk sal vir interessante rivierkruisings sorg.
“Ons het ongelooflike samewerking van die Royal Bafokeng-Koningkryk ontvang en hulle begin dié byeenkoms as hul eie sien.”
Die Royal Bafokeng-Koningkryk is geleë in die mineraalryke Merensky-rif en beskik oor ryk chroomreserves. Dié gebied beskik ook oor die wêreld se tweede grootste platinumneerslae.
Roets het gesê dat die roete weer gedeeltes in die bosveld sal insluit asook klipperige gedeeltes en rivierkruisings. Hy het bygevoeg dat die verskillende soorte terreine ‘n strawwe toets vir die spanne sal wees.
“Spanne sal hard moet werk en hulle sal hul resultate verdien,” het Roets gesê. “Die voorren sal uit 70 kilometer bestaan en die ren sal uit twee sirkelroetes van ongeveer 190 kilometer bestaan.
“Die renhoofkwartier asook die begin- en eindpunt en die sentrale dienspunt sal by Sun City wees.”
Roets het bygevoeg dat toeskouerpunte binne ‘n 50 kilometer-radius van die renhoofkwartier sal wees. Die uitkykpunte sal maklik toeganklik wees en vir uitstekende aksie sorg.
Sun City is internasionaal bekend as een van Afrika se premier-vakansieoorde en bied ‘n groot verskeidenheid vermaak en ontspanningsaktiwiteite.
bydrae: Charmaine Fortune
