Goeie ouens wen ook en Chris Visser en Japie Badenhorst het dit tydens die Adenco 400, die eerste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat Saterdag by Darling ten einde geloop het, bewys.
Visser en Badenhorst in die RFS/Visser Transport-Toyota Hilux het die kersie op ‘n besonderse naweekkoeke geplaas deur hul eerste Produksievoertuigsege in die nasionale kampioenskap in te palm. Dié paar, wat ook met die gesogte Klas SP-louere weggestap het, het die naweek oorheers deur ook die Donaldson-voorren wat die wegspringvolgorde bepaal, te wen voordat hulle die ren onder drukkende warm omstandighede ingepalm het.
“Dit was ‘n perfekte ren vir ons,” het ‘n verheugde Visser geseê terewyl hy sy klein dogtertjie by die einde vasdruk. “Die voertuig was perfek, Japie het hom uitstekend van sy taak gekwyt en al wat ons tydens die laaste rondte moes doen, is om foute te vermy.
“Die roete was rof en stowwerig, maar dit is ‘n uitstekende manier om die seisoen af te skop en hopelik kan ons die momentum voortsit.”
Visser en Badenhorst was net meer as ses minute voor Gary Bertholdt en André Vermeulen wat ‘n professionele vertoning in die Atlas Copco-Toyota Hilux gelewer het. Toyota-privaatspanne het skoonskip van podiumposisies gemaak toe die voormalige SA-kampioen, Hannes Grobler, met sy eerste ren in die RFS-Toyota Hilux nadat hy verskeie Nissan-produkte oor 33 jaar bestuur het, saam met Hennie ter Stege derde klaargemaak het.
Ten spyte van ‘n laat aanslag deur die voormalige Oos-Transvaalse rugbyster, Ramon Bezuidenhout en sy vrou, Maret (Red Star Raceway-Toyota Hilux) kon hulle nie voor die uiters ervare Grobler en Ter Stege eindig nie. Dit was egter ‘n uitstekende vertoning van die Bezuidenhouts wat hul Klas SP-debuut gemaak het.
Toyota het bykans al vyf die voorste posisies ingepalm, maar is deur die Regent Racing-Nissan Navara van Mike Whitehouse en Mathew Carlson gestop. In hul eerste Produksievoertuigren het die swaers net voor Christiaan du Plooy en Henk Jansen van Vuuren in ‘n tweede RFS-Toyota Hilux geëindig.
Vir die Castrol-Toyota-span onder hul nuwe spanbestuurder, Glyn Hall, het die seisoen nie te goed afgeskop nie. Beide fabrieksvoertuie in die hande van die Suid-Afrikaanse kampioen, Duncan Vos en Rob Howie asook Anthony Taylor en Robin Houghton, kon nie die eerste van die twee sirkelroetes voltooi waaruit die ren bestaan het nie.
Dit was veral Vos en Howie wat ‘n uiters ongelukkige ren beleef het. Na die Donaldson-voorren is hulle met 15 minute gestraf vir ‘n foutiewe waarskuwingslig en moes hulle, soos Taylor en Houghton, ook as gevolg van veringstelselprobleme die aftog blaas.
Die huidige kampioene, Dewald van Breda en Johann du Toit in die Northam Toyota D4D was die enigste Klas D-span wat die ren kon voltooi. Herstelwerk aan die koppelaar was hul enigste onderbreking.
Net een Klas E-span kon die ren klaarmaak en dit was die nuwelinge, Gerald le Roux en Willem Pretorius wat die Ruwacon-Ford Ranger heelhuids by die einde aangebring het. Pikkie Labuschagne en Rickus Erasmus (4×4 Megaworld-Toyota Hilux) en die plaaslike span, Etienne Bezuidenhout en Hanro Visser (Adenco-Ford Ranger) het vroeg reeds uitgeval.
bydrae: Charmaine Fortune
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
