Minder as vier jaar na die internasionale bekendstelling van die Suzuki Swift, het die produksiesyfer van dié gevorderde klein luikrugmotor reeds die een miljoen-merk oorskry.
Die kopdraai-luikrug, wat hedendaagse stilering aan voorste gehaltevlakke en atletiese verrigting koppel, is wêreldwyd gewild onder motorkopers sedert produksie in Japan in September 2004 begin het.
Die Swift word deesdae ook in Hongarye, Indië en Sjina, asook in Indonesië en Maleisië gebou, en word in sowat 115 lande wêreldwyd verkoop. Een van daardie lande is Suid-Afrika, waar die Swift vroeg in Junie met groot luister bekend gestel is.
Die saamgestelde Swift-produksietal het die een miljoen-kerf bereik presies drie jaar en agt maande nadat die heel eerste Swift op ‘n monteerband in Japan voltooi is – ‘n nuwe rekord vir ‘n kompakte motor van Suzuki. Die produksiestatistieke wat deur Suzuki-Motorkorporasie vrygestel is, toon dat produksie van die Swift in Japan meer as 360 000 eenhede beloop het, gevolg deur Hongarye op 306 000 eenhede, en Indië se 241 000 motors. In Sjina en ander lande was die gesamentlike produksietal amper 93 000 eenhede.
Terwyl die Swift van meet af aan as ‘n wêreldmotor geskep is, weerspieël die ontwerp die behoeftes en smaak van Europese kopers. Suzuki het juis om dié rede ‘n Europese ontwerpbasis gestig, waar die motor ook voor sy bekendstelling deeglik onder Europese omstandighede getoets is.
Die Swift was ook die eerste produk wat onder Suzuki se beleid van radikale verandering geskep is, wat juis daarop gemik is om die maatskappy se posisie as ‘n voorste vervaardiger van kompakte motors te versterk. Onder die ander Suzuki-motors wat sedertdien by dié program baatgevind het, is die lewenstylgerigte SX4-luikrug, wat ook nou in SA beskikbaar is.
Die Swift-reeks wat plaaslik beskikbaar is, bestaan uit drie weergawes wat almal met ‘n geesdriftige viersilinder-enjin van 1,5 liter toegerus is. Die Swift pakket sluit ook ‘n hoë vlak van standaardtoerusting in, asook die puik monteergehalte waarvoor Suzuki reeds alom bekend staan.
Die Swift 1.5 GL-luikrug is die intreevlakmodel, maar spog steeds met ‘n weelderige binneruim met kenmerke soos afstandbeheerde sentrale sluiting, elektries-beheerde ruite, lugreëling, twee lugsakke en elektriese kragstuur. ‘n Vyfgang-handratkas is standaard. Die deftiger 1.5 GLS-weergawes bied ‘n keuse van dieselfde handratkas of ‘n outomatiese viergangratkas, terwyl die binneruim met bykomende kenmerke toegerus is. Daaronder tel vier lugsakke, ‘n geïntegreerde klankstelsel met CD-skyfspeler en RDS-instemmer, en ‘n leerraam-stuurwiel.
Alle Swift-modelle kry ‘n diensplan van vier jaar/60 000 km, ‘n waarborg van drie jaar/100 000 km, en ‘n padbystanddiens van drie jaar, wat deur die AA gerugsteun word. Dit motors is landwyd by Suzuki Auto se groeiende handelaarnetwerk beskikbaar. Pryse begin by net R116 900 vir die Swift 1.5 GL.
