Alta Joubert is ‘n dromer. Toe sy in Taiwan onderwys gegee het, het sy een nag gedroom dat sy haar eie Afrikaanse cd gaan maak. Skaars ‘n jaar terug op Suid-Afrikaanse bodem is haar droom verwesenlik toe sy haar debuut-cd, Malta Bella, in Mei in Stellenbosch bekend gestel het.
Nog ‘n inspirasie vir die skepping van Malta Bella was ‘n artikel van Valiant Swart wat Alta per e-pos in Taiwan ontvang het. In die artikel het Valiant gevra waarom is daar geen ‘chicks’ wat in Afrikaans rock nie? Alta het besluit sy gaan terugkom Suid-Afrika toe om te kom rock in Afrikaans. Maar sy rock nie net in Afrikaans nie. Malta Bella kan geklassifiseer word as ‘n Afrikaanse alternatiewe cd met elf liedjies wat ‘n verskeidenheid musiekstyle insluit – van blues, folk tot rock.
Alta skryf en toonset haar eie musiek. Die lirieke kom uit die hart en elkeen kan homself met die woorde, kwessies en vrae vereenselwig. Haar musiek is veelsydig en het ‘n sterk folk klank met instrumente soos kitaar, viool en bekfluit.
‘n Alombekende in musiekkringe, Jürgen von Wechmar van Sunset Recording Studios in Stellenbosch, is die regisseur van Malta Bella. Die finale meester is Tim Lengfeld van TL Mastering.
Alta het al die lirieke op Malta Bella self geskryf, behalwe twee snitte, “Tuiskoms” en “Beatle Fan”, wat deur die bekende jong skrywer, Jaco Botha, geskryf en getoonset is. Al die ander komposisies is deur haarself gedoen. Alta speel klavier, kitaar en bekfluitjie.
Haar gunsteling snit op die CD is “Voetspore”. “Luister na die woorde, dit sê alles”, sê Alta. Sy is mal oor musiek uit die sewentiger-jare en Bob Dylan (haar grootste held) en Janis Joplin inspireer haar.
Dit is vir haar glad nie moeilik om lirieke te skryf en te toonset nie. “Die woorde en musiek (nie noodwendig in ‘n spesifieke volgorde nie) kom sommer net vanself – én van Bo. Ek bid baie en dan kom die woorde net in my kop”. Alta is nie skaam om oor haar Christenskap te praat nie en vertel sy kan nie sonder haar Bybel nie. Die natuur is ook vir haar ‘n inpirasie. “Ek het die meeste van Malta Bella se nommers in Taiwan gefinaliseer. Dit was vir my moeilik om daar in die grote stad kreatief te wees, want daar is geen natuurskoon waarheen ek kon ontsnap vir inspirasie nie.”
Musiek is Alta se lewe. Haar pa het haar kleintyd leer kitaar speel en op skool het sy naweke op Nelspruit se straathoeke gesing vir sakgeld. Sy het op Maties drama studeer en gespesialiseer in kabaret. Alta was ook een van vyf sangeresse in die kabaret, Womanize, wat vir twee jaar in die Kaap-omgewing opgevoer is. Anton Luiting van Cats-faam het Womanize se regie waargeneem.
Ná Womanize het Alta vanaf Maart 2000 vir ‘n jaar in Taiwan skoolgegee. Pas terug met haar voete weer op Moeder Afrika se grond, het sy vir Petronel Baard agtergrondsang op KKNK 2001 gedoen en daarna begin met haar eie optredes in Stellenbosch.
Tydens vanjaar se KKNK het sy Huisgenoot se Ontpop-kompetisie gewen. Die beoordelaars en aanbieder Lochner de Kock was baie opgewonde oor die nuwe talentvolle ster, haar lirieke, spontane verhoogpersoonlikheid en die lekker toon en ritme van haar musiek. En nou het Alta haar eie Afrikaanse cd, ‘n droom wat waar geword het.
Alta is mal oor haar familie, haar kitaar, dans, stap in die berge, alleen wees, kerse, koffie, muffins en kaas. Fisherman’s Cottage by Hermanus is haar gunsteling plek. Dis juis daar waar Koos Kombuis haar een aand hoor sing en geskerts het oor die Alta Bella-koor. Vandaar die cd se titel, Malta Bella. Sy haat inkopies doen, fotostaatmasjiene, baklei, karre wat breek, stres en eendepote en paddaboutjies wat sy in Taiwan moes eet.
Albert du Plessis van Rhythm Records en Lindi Theunissen van Bowline is verantwoordelik vir die cd-verspreiding.
Lekker luister en wees gewaarsku: As jy weer jou oë uitvee, draai “Warrelwinde”, “Voetspore” en “Tuiskoms” heeldag al om die beurt in jou kop!
