Dié program is daarop gemik om Suzuki se posisie as ‘n voorste vervaardiger van kompakte motors, asook sy status as ‘n topnaam in die motorfietsmark, verder te versterk. Met die ontwerp van die nuwe Swift het Suzuki die klem geplaas op ‘n globale benadering tot die motor se ontwikkeling en vervaardiging, met spesifieke verwysing na die behoeftes en smaak van die Europese mark. Dit sluit onder meer die ontwerp, rygerief, gehalte en bestuursdinamika van die motor in.
Natuurlik het die kritieke onderwerp van veiligheid aansienlike aandag geniet, met ‘n uiteindelike benadering wat die bes moontlike balans tussen aktiewe en passiewe veiligheidstelsels behaal het.
Selfs die Swift se veringstelsel en ondersteluitleg is onder die kollig geplaas. Die motor spog met die breedste spoorwydte in sy klas – 1 470 mm voor en 1 480 mm agter – wat nie net uitstekende padgedrag tot gevolg het nie, maar ook vir uitnemende stabiliteit en ritbeheer sorg.
‘n Geheel nuwe platform is vir Suzuki se jongste kompakmotor ontwikkel. Die stuurkas, die onderste beheerarms van die MacPherson-stutvering voor en die agterste enjinmonterings is aan ‘n afsonderlike subraam gekoppel, wat ‘n besonder stram struktuur tot gevolg het. Dit baat bestuurbeheer, rit- en hanteringseienskappe, asook algehele stabiliteit.
Die Swift se agtervering maak van ‘n wringstaafas gebruik wat ‘n puik kombinasie van hanteringstabiliteit en rygerief bied.
Een spesifieke voordeel van dié uitleg is die lae ongeveerde massa, wat toelaat dat die wielvlughoek en wielsporing makliker verstel kan word, wat meer voorspelbare en akkurate hanteringseienskappe tot gevolg het.
Daarbenewens sorg die ruimtedoeltreffende ontwerp van die agteras vir ‘n bagasieruim met ‘n gerieflik lae laaivloer.
Die Swift word ook gekenmerk deur ‘n uitsonderlike sterk onderstelstruktuur wat toelaat dat die vering- en stuurstelsels tot hul volle potensiaal benut kan word. Dit lei weer tot laer padgeraas en ‘n rit wat meer voorspelbaar en meer verfynd is.
In die geval van ‘n botsing word die Swift-bestuurder en sy passasiers deur ‘n rits veiligheidskenmerke beskerm. Die GL-intreevlakmodel beskik oor twee voorste lugsakke, terwyl die GLS-weergawe met voorste lugsakke, kantlugsakke in die rugleunings van die voorsitplekke, en gordynlugsakke vir insittendes voor en agter spog.
Minder opsigtelik is die beskerming wat die verskuilde botsingstruktuur van aan insittendes besorg. Dit maak gebruik van hoësterkte-staal en spesifiek gevormde strukture om beide lae massa en behoorlike versterking te verseker.
Die insittendes word boonop verder van botsingskragte beskerm deur die pas van ‘n opvoubare stuurkolom, rem- en koppelaarpedale wat ontwerp is om beenbeserings te vermy, voorste sitplekgordels met voorspanners en lasbeperkers (tesame met die drie sitplekgordels met voorspanners agter), en selfs afwerkings wat energie absorbeer.
Spesifieke aandag is aan jonger passasiers geskenk, met die insluit van ISOFIX-ankerpunte en ankerrieme op die agtersitplek vir die veilige vasmaak van kinderstoeltjies. Kinderslotte agter is eweneens standaardtoerusting.
Dié volledige stel veiligheidskenmerke het gesorg dat die Swift ‘n uitstekende vier sterre vir passasiersveiligheid in die Euro NCAP-veiligheidstoetsreeks behaal het. Boonop het die Swift se skokabsorberende botsingstruktuur voor drie sterre vir voetgangerbeskerming ingepalm – ‘n indrukwekkende prestasie vir ‘n motor in hierdie klas.
Die Swift se veiligheidsarsenaal sluit ook ‘n gevorderde remstelsel as standaardtoerusting in. Die stelsel bestaan uit ABS-sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en noodrembystand. Dié pakkie waarborg optimale remverrigting en die kortste remafstand moontlik, ongeag die padtoestande.
Sekuriteit het eweneens besonder aandag geniet, en die Swift is met ‘n volledige reeks diefweerstelsels toegerus.
Alle Swift-modelle het ‘n fabrieksgeïnstalleerde alarm/immobiliseerder as standaard, asook ‘n afstandbeheerde sentrale sluitstelsel met ‘n paniekfunksie. Die stelsel aktiveer vlugtig die noodflikkerligte om te bevestig dat die motor wel gesluit is. Peuterwerende deurslotte rond die sekuriteitspakket af.
Suid-Afrikaanse Swifts word ook toegerus met ‘n Altech Netstar Sleuth-opspoorstelsel wat opsioneel teen ‘n maandelikse fooi geaktiveer kan word om vir nog groter gemoedsrus te sorg.
Hoewel die elektriese kantruite voor en agter uiteraard as geriefkenmerke tel, is hulle ook veiliger as die gewone handopwen-tipe ruite wat gewoonlik deur ander motors in dié marksegment ingespan word.
