Enige kleur, solank dit cerise is

Subaru Tecnica International het sy deure op 2 April 1988 geopen – amper op die dag 20 jaar voor die Suid-Afrikaanse bekendstelling van die derde-generasie Subaru Impreza STI.

STI is ‘n volfiliaal van Fuji Heavy Industries en is gestig met die doel om ‘n motorsportinfrastruktuur vir Subaru, wat ook aan FHI behoort, op die been te bring. STI is van 1990 af – tesame met die Britse maatskappy Prodrive – toonaangewend in die voorbereiding van voertuie vir die Subaru-wêreldtydrenspan wat aan die wêreldtydrenkampioenskap (WRC) deelneem.

Die vennootskap het in 1990 by die WRC aangesluit en die Legacy RS ingeskryf. Die res is geskiedenis: Subaru het halfpad deur die 1993-seisoen na die Impreza oorgeskakel en Carlos Sainz was in 1994 die naaswenner in die jaerskampioenskap, terwyl Subaru tweede in die vervaardigerskampioenskap geëindig het. In 1995 het Colin McRae die titel in die laaste byeenkoms van die seisoen gewen met Prodrive-voorbereide STi’s wat tweede en derde in dié byeenkoms, die RAC-tydren in Brittanje, geëindig het. Daardie merkwaardige vertoning het ook tot Subaru se eerste vervaardigerskampioenskap gelei – iets wat in 1996 en 1997 weer gebeur het (met ‘n twee-deur Impreza STi in laasgenoemde seisoen), hoewel ‘n tweede jaerskampioenskap McRae bly ontwyk het.

Die vennootskap het in 2001 en 2003 weer vrugte afgewerp toe Richard Burns en Petter Solberg die jaerskampioenskappe beklink het.

STI het eers in die padmotorkonteks na vore gekom toe ‘n hoëverrigtingsweergawe van die nuwe Legacy aan die begin van 1989 bekend gestel is en dié motor ‘n aantal FIA-spoed- en afstandrekords opgestel het. Legacy STi’s is van 1991 af op bestelling vervaardig, en van die monteerlyn af na Subaru se internasionale aanleg in Tokio geneem om daar finaal met die hand afgewerk te word.

Hierdie metode vir die montering en afwerking is ook vir die eerste Impreza STi, wat in Januarie 1994 bekend gestel is en as vier- of vyfdeur-weergawe beskikbaar was, gebruik. Dié motor het nie goudkleurige wiele gehad nie, maar wel die kenmerkende enorme agterste drukvlerk en ‘n stuk of 186 kW uit sy turbo-aangejaagde 2,0-liter-enjin. Dié model se groot, voorste misligte is ook soos elke STi – tot en met die 2008-model – deur swart panele met die STi-logo vervang.

Elke enjin is vervolmaak ten einde kraglewering aansienlik teenoor dié van ‘n gewone WRX Impreza te verhoog, en gevormde suiers, krukasse van staal, groter kleppe en verbeterde turbo-aanjaers en tussenverkoelers was maar net van die enjineienskappe wat die padmotors teen amper dieselfde snelhede as dié van die blou-en-goud-tydrenweergawes oor moeder aarde laat skiet het. Net soos vandag is baie min aan die WRX-model in die standaardweergawe gelos, en selfs die dryfstelsel met sy simmetirse aandrywing deur al vier wiele, het ‘n paar opkikkerings ondergaan.

Intensiewe navorsing en ontwikkelingswerk is STI se brood en botter en hoewel die Impreza STI die duidelikste teken van sy sukses geword het, lewer die maatskappy ook onderdele en komponente vir ander Subaru-voertuie. STI-weergawes van die Forester en Legacy word in verskeie markte verkoop.

Subaru Technica International is nie net verantwoordelik vir die beplanning en ontwikkeling van algehele Subaru STI-weergawes nie, maar hanteer ook die ontwikkeling en vervaardiging van motorsport- en opwarm-onderdele, bybehore, die bedryf van Subaru-handelaars se tegniese opleidingsprogramme en die ontwikkeling en instelling van motorsportenjins en veerstelsels. Die Impreza STi met die 1995-modeljaar-spesifikasie was ongewoon deurdat dit gegrond was op die ligte RA (ren-aangepaste) weergawe van die WRX-vierdeur wat net in die Japanse mark verkoop is, maar waarvan die kraglewering en wringkrag aansienlik verhoog is. Visuele leidrade het goudkleurige 16-duim-wiele ingesluit, sowel as die verwyderde misligte en selfs ‘n dak-gemonteerde luginlaat wat soos dié van tydrenmotors gelyk het. ‘n Elektro-magnetiese middelewenaar wat deur die bestuurder verstel en beheer kon word, ‘n vastrapewenaar vir die agteras en tussenverkoeler-waterspuitmeganisme het dit nogal ‘n baie spesiale motor gemaak.

STI het vir die 1996-modeljaar ‘n afsonderlike produksiemodel eerder as ‘n aangepaste WRXmodel geword en is sodoende in die fabriek op die monteerlyn gebou. Sy verrigting het op ‘n onveranderde 205 kW gebly, en mense kon weereens die STi as vyfdeur-Sport Wagon aanskaf. ‘n Spesiale weergawe met die bekende 555-sigaretkenteken is gebou om sy sukses in die WRC te vier.

STI het in die laat jare 90 ‘n tydperk betree wat stellig sy mees radikale fase was, met sommige modelle waarvan die enjins teen tot 8 400 r/min kon draai, motorsport-koppelaars gehad het en ook as tweedeur-Tipe R-weergawes beskikbaar was. Toe het die 22B gevolg – vir alle praktiese doeleindes ‘n padreplika van die 1998-WRC-deelnemer wat Subaru se eerste 40 jaar van produksie gevier het. Dié motor het met sy hoogs ontwikkelde 2 212 ccenjin, verstelbare aerodinamika en motorsport-geöriënteerde remme, vering en koppelaar een van die mees gesogte STi’s tot nog toe geword. Net 400 is amptelik gebou, hoewel sommige mense sê die uiteindelike syfer het op 424 te staan gekom.

Die tweede-egenerasie nuwerwetse Impreza is in Augustus 2000 bekend gestel, en het aan die einde van daardie jaar as die WRX in Suid-Afrika geland. Teen daardie tyd het Japan reeds ‘n STi-weergawe gehad, wat onder andere ‘n aansienlik sterker romp met stywer vering gehad het, met Brembo-remme en ‘n groot luginlaat op die enjinkap wat lug na ‘n tussenverkoeler gevoer het en 50% groter as dié van sy voorganger was.

Ander belangrike ontwikkelings was die bekendstelling van ‘n splinternuwe 6-ganghandratkas en die gebruik van ‘n vastrapewenaar vir die vooras. Die reeks het ook ‘n RAweergawe gehad wat Driver Controlled Centre Differential (DCCD), ‘n dakventilator en ratser stuurmeganisme wat nie meer kraghulp gehad het nie, gekry het terwyl die motor ook sy lugversorging afgestaan het.

Suid-Afrikaanse verrigtingsentoesiaste moes tot laat in 2002 wag om hul hande op dietweede-generasie STi te kon lê, terwyl ‘n verbeterde en opgekikkerde weergawe reeds vroegin 2003 in handelaars se vertoonlokale gepronk het. Al twee modelle se verrigting was 195 kW en 343 Nm. Aan die begin van 2004 is ‘n beperkte aantal (15, om presies te wees) van die onsedelik vinnige Prodrive STi bekend gestel – en elkeen is blitsig opgeraap.

Die volgende hoofstuk in die STI-verhaal hier aan die suidelike punt van Afrika het aan die einde van 2004 afgespeel. ‘n Aantal vars veranderinge is aangebring, waarvan die belangrikste die gebruik van die DCCD was wat ‘n mate van interaksie na die bestuurservaring gebring het vir diegene wat ‘n aktiewer rol wou speel in ‘n motor wat reeds ietwat van ‘n lewende legende was vir die hoeveelheid bestuurderbetrokkenheid wat dit gebied het.

Aan die einde van 2005 is ‘n selfs nog kragtiger STi bekend gestel, en met verrigtingsyfers van 206 kW en 392 Nm (14 persent meer wringkrag as voorheen) was dit die kragtigste ‘produksie’-STi-model tot nog toe. ‘n Belangriker verandering was egter die groter enjin van 2,5 liter, wat toonaangewend vir die beter rybaarheid was – veral aan die Rand wat so hoog bo seespieël is. Die DCCD is ook verbeter en het ‘n effens ander statiese wringkragverdeling gehad en kon meer inligting van die sensors af gebruik om te besluit hoe om die 41:59- verdeling tussen die voor- en agterwiele te benut.

Subaru se stileringspesialiste het terselfdertyd hul nuwe ontwerpfilosofie bekend gestel wat in die geval van die STI ook verbeterde lugdinamika met ‘n dakvlerkie om afwaartse druk aan die agterkant te verhoog, beteken het. Aan die voorkant het die beter lugvloei tot ‘n beter, dog minder opmerklike luginlaat vir die tussenverkoeler gelei.

Dit was tot die bekenstelling van die derde-generasie in Mei 2008 die vinnigste STi wat nog in Suid-Afrika te koop was. Dit was ook die laaste model wat die ‘STi’-kenteken gebruik het aangesien dit sedert die bekendstelling van die jongste model as STI gebruik word – al drie letters is hoofletters eerder as die kombinasie van hoof- en kleinletters wat voorheen die gebruik was. Die kenmerkende cerise-blou bly egter onveranderd …

Lewer kommentaar

Leave a Reply