Geen maklike ren

Die roete mag dalk kompak wees, maar deelnemers aan die 4×4 Mega World 400 wat op 27 en 28 Augustus by Carnival City aan die Oos-Rand plaasvind, moet nie ‘n maklike ren verwag nie.

Die byeenkoms vorm die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat nou in die tweede helfte is met sommige interessante kampioenskapstryde wat ontwikkel. Die seisoen het ook ‘n paar verrassings opgelewer met spanne wat as die buiteperde gesien is, wat na vore gekom het.

“Die roete is kompak, maar dit bestaan uit verskillende soorte terreine en gaan ‘n taai toets vir die spanne en hul voertuie wees,” het hoofroetebeampte, Adri Roets gesê. “Daar is ‘n gedeelte in die berge wat veral ingewikkeld gaan wees en ons gaan verseker dat die spanne hard vir hul resultate moet werk.”

Die Donaldson-voorren wat op 27 Augustus plaasvind om die wegspringposisies te bepaal, sal uit 60 kilometer bestaan en sal vir spanne ‘n voorsmakie gee van wat die volgende dag verwag kan word. Die hoofren sal uit twee sirkelroetes van 175 kilometer bestaan.

Soos gewoonlik sal die roete toeskouervriendelik wees met verskeie uitkykpunte wat binne maklike bereik van die renhoofkantoor by Carnival City sal wees. Die verste toeskouerpunt is net 40 kilometer van die hoofkantoor.

Die 4×4 Mega World 400 by Carnival City is een van die uitgekose renne wat ook ‘n ronde van die Noordelike Streeksveldrenkampioenskap sal insluit. Dit vorm deel van ‘n projek van die SA Nasionale Veldrenvoertuigassosiasie om renne op grondvlak te ondersteun en streeksdeelnemers sal een van die sirkelroetes moet voltooi.

Die renhoofkantore, die begin/eindpunt asook die aangewese dienspunt sal by Carnival City wees en toegang vir die publiek tot dié gebiede is gratis. Daar is ook gratis publieke toegang tot die toeskouerpunte en entoesiaste word versoek om die omgewing te respekteer.

Die Donaldson-voorren sal op 27 Augustus om 11:30 begin terwyl die ren op 28 Augustus om 08:00 sal afskop.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar