Vyf honderd paar ogies is op die verhoog gerig. Die oortjies is gespits, die handjies klap opgewonde saam en die boudjies hop op en af op die stoele, want die opwinding is te groot … Dis weer tyd vir Vlooi en sy vriende!
Vanjaar neem die towersleutel Vlooi en sy maters op ‘n baie belangrike avontuur en dit is om die geheime skat te red. En die geheime skat is niks anders as die oorspronklike alfabet nie. As die nare heks Bet en haar broer, die towenaar Alfie, hulle hande daarop kry, sal al die letters uit boeke en vanaf rekenaars verdwyn. Niemand sal iets kan neerskryf nie en later sal niemand meer kan spel nie. Prinses Lettera moet moet die alfabet oppas, maar het beslis hulp nodig as Bet en Alfie haar in ‘n toring toesluit.
Krazy Katz in samewerking met Kunstekaap is weereens die vervaardigers van die produksie, met Pedro Kruger aan die stuur van die musiek en Liande Valentyn behartig die koreografie. Die geselskap bestaan uit onder andere June van Merch, Nelmari Kemp, Liande Valentyn, Deon van Zyl en Marlese Wallis.

Vanaf 10 tot 27 Augustus om 09:30 en 11:00 by die Kunstekaap. Kaartjies kos R35-00 en is beskikbaar by 082 446 7265 / 083 303 3430.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)