Citroën Suid-Afrika kondig met trots die bekendstelling van ’n motor aan wat sonder twyfel as die Franse vervaardiger se belangrikste vlagskipmodel ooit beskou kan word: die uitsonderlike Citroën C5-sedan.
Die geheel nuwe Citroën C5 is die vernaamste ambassadeur van Citroën se hernieude
teenwoordigheid in Suid-Afrika as ’n volle filiaal van Citroën in Frankryk, en verteenwoordig die
maatskappy se sterk korporatiewe identiteit, asook sy verbintenis tot die plaaslike mark.
“Die Citroën C5 is die eerste nuwe model wat onder die vaandel van die nuwe Citroën-organisasie
plaaslik vrygestel word” sê Citroën SA se besturende direkteur, Frederic Chapuis.
“Die maatskappy se oogmerk is om Citroën se plaaslike teenwoordigheid sterker te vestig, ons
klantediensvlakke te verbeter, en ’n opwindende reeks nuwe voertuie beskikbaar te stel.
Chapuis sê die Citroën C5 is ’n uiters belangrike nuwe model, wat na verwagting ’n sterk
teenwoordigheid vir die maak sal skep, maar veral Citroën se profiel in die weeldevoertuig-segment sal
verhoog, waar aspekte soos verrigting, status, gehalte en voorkoms onder die belangrikste kenmerke tel.
“Die nuwe Citroën C5 voldoen aan die hoogste verwagtinge. Die motor koppel ’n treffende
persoonlikheid aan uitsonderlike gerief, weelde en swier. Boonop is werkverrigting en bestuursplesier uit die
boonste rakke,” het Chapuis bygevoeg.
Die nuwe Citroën C5 se ruimskootse, noukeurig gevormde afmetings en asafstand van 2,82 m vestig
die nuweling aan die bopunt van die segment vir groot passasiermotors, met gepaardgaande hoë vlakke
van ruimte en gerief.

Tog sorg die motor se sterk karakter en skoon, hedendaagse lyne vir ’n gesofistikeerde voorkoms wat
deftige eksklusiwiteit uitstraal. Afhangende van die hoek waaruit die Citroën C5 beskou word, skep die
nuweling die indruk van ’n rasegte koepee, of ’n swierige sedan.
Die Franse sedan se onomwonde elegansie word ook na die formaat van die binneruim deurgevoer. Die
instrumentepaneel plaas die klem op die bestuurder, en benut vol, soliede ontwerpelemente om ’n gevoel
van gehalte en status te skep.
Die volgehoue klem op die gerief van sy insittendes beteken dat die Citroën C5 ook op akoestiese vlak
die weeldetema voortsit. Spesiale maatreëls teen geruis sorg dat geraasvlakke rondom die voertuigbak en
deurrame daadwerklik aangespreek word.
’n Spesiale geruiswerende voorruit, gelamineerde kantruite, ’n dikker dakvoering wat geraas absorbeer,
spesiale klankdempende veringkomponente en ’n geruiswerende voering vir die enjinkap is maar ’n paar
van die maatreëls om klankdemping te verbeter.
Die nuwe Citroën C5 spog met ’n tweedegeslag-weergawe van die Franse vervaardiger se unieke,
vastenaaf-stuurwielontwerp. Die stuurwiel, waarvan die middelste gedeelte nie beweeg nie, het sy eerste
verskyning in die Citroën C4 gemaak. Die kenmerk versinnebeeld die fabrikaat se uitsonderlikheid en
vernuf, en bied boonop ongeëwenaarde ergonomika en funksionaliteit.
Al die belangrikste bestuurskontroles (togsnelheidsbeheer en snelheidsbeperker) en -funksies (klankstelsel,
telefoon, ritrekenaar) is op die stuurwiel se vaste naaf geplaas, waar hulle altyd binne maklike bereik van
die bestuurder is, en dus ook tot bestuursveiligheid en – gerief bydra.
Die vaste stuurwielnaaf sorg ook dat die bestuurderlugsak in die geval van ’n botsing op presies die regte
hoek ontplooi word, wat die veiligheid van die bestuurder in ongeluksituasies aansienlik bevoordeel.
Die vernuftige instrumentehuisie is ’n verdere voorbeeld van die Citroën C5 se gevorderde tegnologie.
Die drie hoofinstrumente benut elk ’n ringvormige wyser wat rondom die instrumentegesig beweeg.
Die ontwerp is nie net makliker om te lees nie, maar beteken ook dat die middelste gedeelte van die
instrumentegesigte as uitleespanele vir ’n verskeidenheid voertuiggerigte inligting kan dien.
Die snelheidsmeter is in die middel, met ’n uitleespaneel vir inligting wat deur die ritrekenaar verskaf word.
Links is daar ’n brandstofmeter, maar inligting oor die togsnelheidsbeheer en snelheidsbeperker word ook
verskaf. Die toereteller is regs, en bied syferdata oor die voertuigstatus en –snelheid.
’n Bykomende, middelgeplaaste inligtingspaneel verskaf data wat deur alle insittendes gelees kan word.
Die inligting wat opgeroep kan word sluit tyd en datum, die buitetemperatuur, en ’n grafiese voorstelling
van die motor se parkeerhulpstelsel in.
Die vlak van die Citroën C5 se standaardtoerusting is verstommend hoog. Onder die opmerklikste
geriefitems tel USB- en Bluetooth-koppelings vir musiekspelers en selfone, ’n gesofistikeerde CD-
klankstelsel met ’n dubbelinstemmer, asook die vermoë om MP3-musiekleêrs te speel.
Togsnelheidsbeheer en leerbekleedsel vir die sitplekke is ook ingesluit.
Daarbenewens is die voorste sitplekke verhit en kan elektries verstel word, terwyl die bestuurdersitplek ook
met ’n masseerfunksie en posisie-geheue toegerus is. Kopligte wat van self in swak lig aanskakel, ruitveërs
met ’n reënsensor, parkeersensors voor en agter, en selfs ’n stelsel wat die grootte van ’n parkeerruimte
kan meet, is ook by die standaardpakket ingesluit.
Een van die nuwe Citroën C5 se opmerklikste kenmerke is ongetwyfeld die gevorderde Hydractive III+-
aktiewe veringstel. Die Citroën C5 3.0 HDi V6 Outomaties-vlagskipmodel is met dié stelsel as standaard
toegerus.
Hydractive III+ bied ongeëwenaarde gerief en hantering, en maak gebruik van Citroën se jongste
ontwikkelinge wat tegnologie, gerief en veiligheid betref. Die stelsel laat toe dat veerspanning en
dempvermoë aktief verstel word, na gelang van padtoestande en bestuursinsette.
Die sagste verstelling plaas die klem op ritgerief, terwyl ’n tweede, fermer verstelling groter bestuursgenot
en beter bakleunbeheer tot gevolg het. Daar is ook ’n sportverstelling wat nog groter klem op dinamika en
noukeurige hantering plaas.
Hydractive III+ word deur sensors op elke as beheer, en behou ’n konstante grondvryhoogte ter wille van
optimale stabiliteit, ongeag die getal passasiers, of die vrag aan boord.
Hoewel die Citroën C5 2.0 HDi Outomaties met ’n meer gewone staalveringstelsel toegerus is, baat dié
model steeds by Citroën se vernuf wat veringontwerp betref. Die dubbele mikvering voor en meerskakel-
agtervering bied ’n volmaakte balans tussen gerief en hantering.
Die Citroën C5-reeks bied ’n keuse van twee gevorderde turbodiesel-kragbronne wat aan die Euro V-
uitlaatgasstandaarde voldoen. Dié eenhede maak gebruik van regstreekse hoëdruk-brandstofinspuiting om
indrukwekkende verrigting en uitstekende ekonomie te behaal.
Die 2.0 HDi-enjin is reeds bekend vir sy lewendige karakter en lae verbruik, en die jongste weergawe wat in
die Citroën C5 2.0 HDi Outomaties ingespan word, voldoen aan alle verwagtinge. Die maksimum-
kraglewering kom op 120 kW by 3 750 r/min te staan, terwyl die wringkragpiek van 340 Nm by 2 000
r/min bereik word. Dieselverbruik in die gekombineerde siklus beloop ’n sakpas 6,8 liter/100 km, met ’n
gepaardgaande, omgewingsvriendelike CO2-uitlaatgasvlak van 179 g/km.
Die 3.0 HDi V6-enjin is slaggereed om die voorlopers in die sakemotor-segment die stryd aan te sê. Die
eenheid spog met maksimumkrag van 177 kW by 3 800 r/min, en ’n stuwende 450 Nm wringkrag by
net 1 600 r/min.
Ondanks die lewendige verrigtingspotensiaal van die enjin, kom gemiddelde brandstofverbruik steeds op
net 7,4 liter/100 km te staan, met ’n gepaardgaande CO2-uitlaatgassyfer van 195 g/km.
Albei kragbronne is aan ’n outomatiese sesgangratkas met ’n besonder gladde skakelaksie gekoppel.
Die jongste Citroën C5-modelle beskik oor ’n uitgebreide lys aktiewe en passiewe veiligheidskenmerke.
Dié volledige veiligheidsarsenaal sorg dat die nuwelinge onder die veiligste passasiermotors ter wêreld tel.
Bo en behalwe die vanselfsprekende ABS-sluitweerremme met Elektroniese Remkrag-Verspreiding (ERV) en
Noodrembystand (NRB), word albei Citroën C5-weergawes ook met Elektroniese Stabiliteitsbeheer (ESB)
en vastrapbeheer toegerus.
Daarbenewens bied die Citroën C5 ’n volledige uitrusting lugsakke: voor, aan weerskante, gordynsakke
en selfs ’n kniesak aan die bestuurderkant. Drie ISOFIX-ankerpunte vir kleutersitplekke is ook ingesluit,
tesame met ’n kinderslot-aanwyser.
Staties-aanpasbare kopligte en noodflikkers wat van self aktiveer is eweneens deel van die Citroën C5-
pakket. In die geval van die Citroën C5 3.0 HDi V6 Outomaties word bykomende kenmerke soos ’n
elektries beheerde noodrem, hellingwegtrek-beheer en ’n geïntegreerde banddrukmonitor ook voorsien.
Pryse:
Citroën C5 2.0 HDi Outomaties R369 000
Citroën C5 3.0 HDi V6 Outomaties R465 000
Die kleinhandelspryse sluit ’n standaardwaarborg van drie jaar/100 000 km in, asook ’n diensplan van vyf
jaar/100 000 km, en ’n padbystandpakket van drie jaar.
