Lydenburg – Die voormalige Suid-Afrikaanse kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer het veldrengeskiedenis gemaak toe hulle ‘n dramatiese oorwinning vir Ford in die Produksievoertuigkategorie van die Toyota-handelaars 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat Saterdag hier geëindig het, aangeteken het.
Dit was ook ‘n eerste sege sedert Carnival City in 2007 vir Woolridge en Skjöldhammer, wat nou tien jaar saam jaag. Dié paar is ook die enigste deelnemers wat die Dak van Afrika-ren met twee en vier wiele gewen het.
Tydens ‘n dramatiese einde het die huidige SA-jaerskampioen, Duncan Vos en Rob Howie net voor hul Castrol-Toyota Hilux-spanmaats, Anthony Taylor en Robin Houghton klaargemaak en sodoende die finale podiumposisie opgeraap. Taylor/Houghton is by ‘n rivierkruising enkele kilometers voor die einde gekniehalter en het in die vierde plek huis toe gehink. Hulle is gevolg deur George Barkhuizen en David van Wyck in die AIM-Toyota Hilux.
Nadat hulle die openingsronde in die Wes-Kaap gemis het, het Woolridge en Skjöldhammer ‘n uitstekende vertoning gelewer. Daar is baie werk buite die renseisoen aan die Ranger gedoen en dit was die moeite werd.
“Die voertuig was ongelooflik,” het Woolridge gesê. “Dié oorwinning het bewys dat die besluit aan die begin van die vorige seisoen om die dieselpad te volg, die regte een was.
“Dit was ‘n taai en verraderlike roete en ons het dit versigting aangepak. Ons hoef nie een keer uit die voertuig te klim nie en het dus die regte taktiek gevolg.”
Woolridge en Skjöldhammer het sewende weggespring, maar aan die einde van die eerste van die twee sirkelroetes waaruit die ren bestaan het, was hulle ‘n skrale 17 sekondes voor die Adenco 400-wenners, Chris Visser en Japie Badenhorst in die RFS/Visser Transport-Toyota Hilux. Die Donaldson-voorrenwenners, Ramon en Maret Bezuidenhout (Red Star Raceway-Toyota Hilux) was derde; Kobus van Tonder en Freddie Kriel vierde in die Uni Freight-Ford Ranger en Barkhuizen/Van Wyck vyfde.
Agter hulle was Grobler/Ter Stege voor Vos/Howie en Taylor/Houghton met al drie spanne wat probleme gedurende die oggend ondervind het. Grobler/Ter Stege het twee pap bande terselfdertyd opgedoen; Vos/Howie het stuurprobleme ondervind en Taylor/Houghton moes gereeld stop om die voorruit skoon te maak nadat die ruitveërs die gees gegee het.
Die situasie sou drasties tydens die tweede sirkelroete verander en die Bezuidenhouts asook Van Tonder/Kriel het weens meganiese probleme tou opgegooi terwyl pap bande en ‘n moddergat Visser/Badenhorst terug laat sak het. Met Barkhuizen/Van Wyck wat deur oorverhittingprobleme en ‘n pap band gekniehalter is, het Grobler/Ter Stege en die twee fabrieks-Castrol-Toyota Hilux-voertuie hul pad boontoe oopgeveg.
Barkhuizen/Van Wyck is later deur die Hoofroetebeampte, Rex Boreham, met 15 minute gestraf omrede hulle te vinning in ‘n gedeelte wat nié deel van die roete gevorm het nie, gery het. Dit het nie hul situasie verander nie aangesien nóg ‘n Vrystaatse span, Louw de Bruin en Riaan Greyling (Ruwacon-Ford Ranger), wat agter hulle geëindig het, met presies dieselfde tyd gestraf is.
Geen spanne het in Klas D, waar daar egter heelwat voertuie in die pyplyn is, deelgeneem nie, maar die Ford- en Woolridge-bekers het oorgeloop toe die 18-jarige Lance Woolridge (Neil se seun) sy debuut in die nasionale kampioenskap met ‘n oorwinning in Klas E gevier het. Dié paar het heel agter weggespring en na ‘n lang dag op kantoor was die jong Woolridge en die veteraan, Ward Huxtable, die laaste span om die ren in die fabrieks-Ford Racing Ranger te voltooi.
bydrae: Charmaine Fortune
