Lydenburg – Die Pretoria-span, Johan van Staden en James Rossouw het hul name in die veldrenrekordboeke ingeskryf toe hulle die Spesiale Voertuigkategorie van die Toyota-handelaars 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat Saterdag ten einde geloop het, gewen het.
Van Staden en Rossouw in die KEC-BAT het die eerste Klas P-span geword om ‘n byeenkoms in die Absa-reeks algeheel te wen. In ‘n uitstekende vertoning het Van Staden/Rossouw ‘n string gunstelingspanne in Klas A uitgestof.
Die Harpers en ‘n string ander Spesiale Voertuig-spanne is later ‘n straf van 15 minute deur die hoofroetebeampte, Rex Boreham, opgelê omrede hulle in ‘n gedeelte wat nié deel van die renroete gevorm het nie, gejaag het. Dit het nie die Harpers in terme van hul finale posisie beïnvloed nie en die Atlas Copco-span het goed teruggekom nadat hulle tydens die seisoen se openingsbyeenkoms gerol het.
Die fondasie vir Van Staden/Rossouw se oorwinning is tydens Vrydag se voorren gelê toe hulle tweede tydens die Donaldson-voorren, wat die wegspringposisies bepaal het, geëindig het. Tydens ‘n dramatiese voorren het ‘n handvol Klas A-spanne ook onder Boreham deurgeloop omrede hulle van die roete afgewyk het.
Die skuldiges is ‘n 40 minute-boete opgelê en met ander Klas A-spanne wat meganiese en ander probleme opgedoen het, het Van Staden en Rossouw hulself tweede op die pad bevind, net agter die huidige Suid-Afrikaanse kampioene, Evan Hutchison en Achim Bergmann in die Motorite-BAT. Dit was die ideale platform vir Van Staden en Rossouw wat nou eers in hul tweede volledige seisoen van nasionale deelname is.
“Ons was nie een keer buite die top vyf nie en toe voertuie voor ons teruggesak of probleme ondervind het, het ons onsself skielik voor bevind,” het ‘n verheugde Van Staden gesê. “Ons het altyd gevoel dat ons ‘n ren onder spesiale omstandighede kan wen.
“Dié naweek het al daardie omstandighede bymekaargekom en om te sê dat ons in ons noppies is, is sagkens gestel.”
Van Staden en Rossouw was vyfde by die aangewese dienspunt na die eerste van die twee sirkelroetes waaruit die roete bestaan het. Tydens die tweede sirkelroete het die voorlopers, Hutchison en Bergmann, met meganiese probleme die handdoek ingegooi met die Adenco 400-wenners, Shameer Variawa/Siegfried Rousseau (Total Motorsport-Porter) wat buite aksie gelaat is toe hulle ‘n rots getref het en ‘n voorwiel afgeskeur is.
Die Sullwalds en die Harpers se spoed is deur pap bande en ander kleinighede gebreek en dit het in die hande van Van Staden en Rossouw gespeel. ‘n Gekraakte uitlaatpyp tydens die ren was die enigste probleem vir Van Staden en Rossouw, maar toe was die skrif reeds teen die muur.
Die Klas A-gemeenskap is verder geskud toe twee ander Klas B-spanne dit tot binne die top vyf gemaak het. Uitstekende vertonings deur die veteraan-spanne, Archie Rutherford en Craig Doubtfire (Regent Racing-Jimco) en Bodo Bertholdt, wat reeds vir amper 40 jaar deelneem, en Philip Herselman (Atlas Copco-BAT) het onderskeidelik vierde en vyfde klaargemaak.
Die sesde en sewende plekke het aan Jimmy Zahos/Stefan Coetzee (Cobalt Racing-Porter) en Brandon Harcus/Ralph Pitchford (JMR Fleet Management-BAT), wat ook slagoffers van die spoedboete was, behoort. Vir Harcus en Pitchford, wat die huidige SA Produksievoertuig-navigatorskampioen is, was dit ‘n goeie herstel nadat hulle tydens die Donaldson-voorren gerol het.
Die Klas B-oorwinning vir Hamish en Alistair Stubbs in die Stafix-Viper, was emosioneel. Hamish, wat nou in Australië woonagtig is, is vir ‘n vakansie in Suid-Afrika en die broers het die geleentheid aangegryp om saam te gaan jaag.
“Ons het dit baie geniet,” het Hamish gesê. “Die oorwinning was ‘n wonderlike reünie-geskenk.”
Die broers het beheer van Klas B geneem toe die huidige SA-kampioen, Derick du Toit en Rod Jeffrey (Orange Tree-BAT), ook nie die ren kon voltooi nie. Kragstuur- en enjinprobleme het die Kaapse span uiteindelik gedwing om die handdoek in te gooi.
Die Makenete-broers, Keith en Andrew in ‘n Zarco en Simon Beckett/Steve Harris (Century Racing-BAT) was ander hoë-profielspanne wat Klas B-slagoffers was.
bydrae: Charmaine Fortune
