Gevorderde veiligheidseienskappe vir die nuwe Prius

Die nuwe Prius is ontwerp en genieur vir ‘n vyfsteraanslag (die maksimum) in die Euro NCAP-botstoetsprogram.

Die jongste model word gekenmerk deur verbeterde aktiewe, passiewe en voetgangerbeskermingseienskappe en ‘n uiters rigiede, slagabsorberende bak met meer strukture van hoëtreksterktestaal.

Sewe lugsakke en aktiewe kopstutte is standaard. ‘n Verbeterde Elektronies Beheerde Rem-regenerasiefunksie inkorporeer Remhulp, Wieltolbeheer en Voertuigstabiliteitsbeheer +.

Die jongste Prius is toegerus met ‘n nuut ontwikkelde Elektronies Beheerde Rem-regenerasiestelsel wat die beheer van hidrouliese sowel as regeneratiewe remming koördineer. Die stelsel is 18 persent ligter en 31 persent meer kompak as konvensionele stelsels.

Voor het die Prius groot geventileerde remskywe met ‘n deursnee van 381 mm en agter soliede skywe met ‘n deursnee van 381 mm vir optimum-remvermoë. Die gekoördineerde beheer van die hidrouliese en die regeneratiewe remstelsels verseker die maksimum-regenerasie van energie deur die elektriese motor wanneer spoed verminder of gerem word. Hierdie energie word in die batterystel opgeberg vir gebruik deur die hibriedstelsel.

Wanneer die voertuig by snelhede van meer as 55 km/h beweeg en die EBR-stelsel bespeur dat die bestuurder besig is om hard te rem om ‘n noodsituasie te vermy, laat flikker ‘n Noodremseinstelsel outomaties die stopligte om die bestuurders van voertuie van agter te waarsku en so die moontlikheid van botsings van agter te verminder.

Die Prius se EBR-stelsel spog met ‘n volle reeks aktiewe veiligheidstelsels, insluitende die jongste geslag sluitweerremme (ABS) met Remhulp, Wieltolbeheer en Voertuigstabiliteitsbeheer +.

Remhulp monitor die snelheid waarmee die rempedaal ingetrap word om die moontlikheid van ‘n noodremsituasie te bepaal. As die bestuurder die rempedaal vinnig intrap, maar nie besonder kragtig nie, sal die stelsel bepaal of noodremhulp vereis word en outomatiese die hidrouliese druk in die stelsel vergroot om remdoeltreffendheid te verbeter.

Die Voertuigstabiliteitsbeheerstelsel van die Prius inkorporeer Stuurwringkragsteun wat outomaties enige stuuroorywerige of stuurtrae situasies neutraliseer. Dit word gedoen deurdat die stelsel die benodigde remkrag op enige van die vier wiele toepas en terselfdertyd ook teenstuurwringkrag toepas om die bestuurder te help om die voertuig te stabiliseer.

Die Wieltolbeheerstelsel onderdruk wieltol op gladde oppervlakke. Die Stuurwringkragsteunstelsel verleen verdere hulp om gier tydens remming of versnelling teen te werk.

Die nuwe Prius kom standaard met sewe lugsakke. Dit sluit in voor- en kantbeskerming vir die bestuurder en die voorste passasier, ‘n knielugsak vir die bestuurder en gordynlugsakke aan die kant. Die voorste passasier se lugsak kan ontkoppel word. Wanneer dit gedoen word, word ‘n waarskuliggie op die instrumentpaneel aangeskakel.

Driepuntsitplekgordels met ‘n noodsluitterugtrekmeganisme vir al die insittendes is standaard. Al die gordels het voorspanners en kragbeperkers.
In die geval van ‘n botsing verminder die kragbeperker die gordelspanning effens om botskragte op die bors van die insittende te beperk. Die voorste sitplekke is toegerus met sweepslagwerende kopstutte, wat met kabels bedryf word, om sweepslagbeserings te verminder in botsings van agter.

Die ontwerpspan het groot moeite gedoen om te verseker dat voetgangers wat in botsings met die Prius betrokke is, so min as moontlik beseer word.

Die struktuur van die voorbuffer is so ontwerp dat beenbeserings tot die minimum beperk word. Dit bevat absorberingsmateriale om botsenergie te absorbeer. Soortgelyke materiale word ook onder die verkoeler gebruik om te help voorkom dat die voetganger se bene in die geval van ‘n botsing onder die motor inskuif.

Die voormodderskerms het ‘n slagabsorberende steun om kopbeserings te beperk, terwyl die enjinkapslot weg van die enjinkapoppervlak af geplaas is en die enjinkapstruktuur het aan die onderkant ‘n slagabsorberende holte. Dit bied in werklikheid ‘n frommelstruktuur om beserings te verminder. Die tussenkap het ook ‘n frommelstruktuur.


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply