Tegnologiese innoverings in die nuwe Prius

Dit het nou al gewoonte geword dat elke nuwe geslag van die toonaangewende Prius spog met ‘n aantal splinternuwe, gevorderde tegnologieë.

Onder hierdie nuwighede in die jongste Prius is ‘n ruitprojektor (head-up display), waarmee voertuiginligting op die onderkant van die voorruit geprojekteer word. Dit sluit in die voertuigsnelheid, die Ekobestuursmonitor en die navigasiestelsel.

‘n Nuwe “Touch Tracer”-vertoon op die stuurwiel stel die bestuurder in staat om die klankstelsel, die lugreëlaar en die Ekobestuursmonitor te beheer sonder om af te kyk of sy/haar hande van die stuurwiel te haal.

In ‘n eerste vir Toyota word LED-tegnologie gebruik vir die verdofkopligte.

Die Prius se Intelligente Parkeerhulpstelsel maak dit maklik om die motor te parkeer. Die stelsel bepaal nie net of die parkeerplek groot genoeg is nie, maar dit stuur die motor in die parkeerplek in, en dit sonder dat die bestuurder die stuurwiel hoef te draai. Die bestuurder moet net die versneller- en die rempedaal beheer.

Ruitprojektor
Die ruitprojektor projekteer sleutelinligting op die onderkant van die voorruit en hou die bestuurder op die hoogte van sleutelinligting, soos die snelheid, die Ekobestuursmonitor en, in daardie modelle wat daarmee toegerus is, inligting afkomstig van die satellietnavigasiestelsel, soos wanneer om te draai, afstand-tot-instruksie, en dies meer.

Die ruitprojektor word bedryf met ‘n skakelaar aan die kant van die middelkonsole en kan vir hoogte verstel word om by die bestuurder se sitposisie aan te pas. Die helderheid van die vertoon word outomaties aangepas by die heersende ligvlak.

Touch Tracer-vertoon
Aanraak-Touch Tracer-beheer stel die bestuurder in staat om verskeie boordstelsels te beheer sonder om af te kyk of dat hy of sy die hande van die stuurwiel hoef af te haal. Die skakelaar kan gebruik word om die klankstelsel, die lugreëlaar en die Ekobestuursmonitor te kies en te beheer.

Wanneer die bestuurder die skakelaar aanraak, word ‘n beheeruitleg in die middelste meterhuls verlig. Soos die bestuurder sy/haar vinger beweeg, skuif ‘n amberkleurige glimmer na die verlangde funksie, wat dan gekies word deur die skakelaar te druk.

LED-tegnologie
Die LED-kopligsamestelle inkorporeer ‘n dubbelprojektor en verspreiligte, wat kragverbruik met tot 30 persent verminder. Dit handhaaf ‘n 90 persent-doeltreffendheid oor die gebruikslewe van die motor (langer as konvensionele halogeenligte). LED-tegnologie word ook ingespan in die agterligsamestelle.

Lewer kommentaar

Leave a Reply