Google-netwerk vir Afrika

Google beplan om draadlose netwerke van Sub-Sahara-Afrika tot Suidoos-Asië te finansier, te bou en te help bestuur in die hoop om ongeveer een miljard mense in ontluikende lande internettoegang te gee.

Die internet-soekreus gebruik ‘n verskeidenheid tegnologiese hulpmiddels en is in gesprekke met reguleerders van Suid-Afrika tot Kenia oor sy planne.

Die hoë koste van infrastruktuur, streng regulasies en moeilike geografiese terrein het internettoegang in verskeie Afrikalande belemmer.

Google sal glo steun probeer werf by reguleerders om golwe te gebruik wat tot dusver uitgehou is vir televisie-uitsendings, en wat teen laer frekwensies deur geboue en oor langer afstande kan beweeg, het die berig gelui.

Verder werk Google daaraan om lae-koste-selfone te verskaf en om ballonne te gebruik om seine van hoër hoogtes oor honderde vierkante kilometer uit te stuur.

Die maatskappy het reeds met verskeie kleinskaalse oefenlopies begin, insluitend in Kaapstad.

Google wou nie kommentaar oor die planne lewer nie. Beter toegang tot breëband-inligting strek tot voordeel van Google, omdat meer mense dan van sy soek- en ander dienste gebruik maak.

Lewer kommentaar

Leave a Reply