Hackers saai chaos

In die grootste aanval van sy soort het ´n klomp kwaijonge van die gewildste webbestemmings in die wêreld tot stilstand gedwing.

Gewoonlik is dit die klein outjies wat deurloop, maar hierdie keer was dit die ou grotes soos Yahoo, Amazon, eBay, CNN, eTrade, Buy.com, ZDNN en Datek wat ´n DoS aanval ondergaan het.

Voor almal begin tekere gaan oor hoe onveilig die Net is luister, luister na die feite. Eerstens het die kwaaddoeners net gesorg dat miljoene gebruikers nie toegang kry tot die betrokke werwe nie. DoS staan vir denial of service. Dit het nie juis enige belang ingehou vir die normale netswerwer nie, behalwe dat ´n mens nie vir ´n tydjie by een van die betrokke werwe kon uitkom nie. Die werwe was almal gemiddeld twee ure van lyn af. Die werwe het natuurlik potensiële kliënte verloor. Dit is egter net hulle eie skuld. In hulle haas na glorie op die Net laat baie ontwikkelaars maar slap lê as dit kom by sekuriteit. Mure teen hierdie tipe aanval is gewoonlik gesien as ´n nagedagte in plaas van ´n integrale deel van die ontwikkeling van ´n werf.

Sekere sagteware, soos TFN, Stacheldracht en Trinoo, wat heel moontlik in die aanval gebruik is, is al sedert die middel van verlede jaar vrylik beskikbaar. Hul voorgangers word al sedert 1997 in aanvalle teen kleiner werwe gebruik. Die gapings waarvan elkeen in die industrie wat sy of haar sout werd is lankal reeds weet.

CNN het intussen laat weet dat die aanval teen hulle moontlik afkomstig was van die Universiteit van Kalifornië in Santa Barbara en dat die FBI blykbaar op die aanvallers se spoor is. Stanford Universiteit het ook ´n interne ondersoek begin nadat die moontlikheid genoem is dat ´n aanval daarvandaan geloods is. Die hackers Coolio en Mafia Man is tans onder verdenking. Uit ´n ander bron word verneem dat die meesterbrein agter die aanvalle moontlik in Duitsland woonagtig is. Wie dit ookal is moet net een ding besef: jy kan aan ´n Amerikaner se vrou of sy motor vat, maar bedreig jy sy geld of sekuriteit dan haal jy vir jouself moeilikheid op die hals.

Lewer kommentaar

Leave a Reply