Herinnering

Adèle Oldfield en Nathani Lüneburg was onlangs inwonende gaskunstenaars by die Monash-universiteit in Melbourne, Australië. Hul uitstalling is ’n blik op die werklikhede van ontheemding soos hulle dit ervaar het.

Reis en die vreemde word intens subjektief ervaar en word gekondisioneer deur nuusberigte sowel as drome: die werklikheid en die verwerking daarvan in ’n vreemde land bestaan dus uit konkrete gebeure en die onbewuste se hantering daarvan. As toeris of besoeker word jy deur die vreemdheid gekonfronteer met ’n soeke na die self, die eie identiteit en jou wortels.

Lüneburg werk met stopraam-animasie – as’t ware ’n besoek aan die kunstenaar se gedagteruimte. Identiteit as ’n reeks fragmente wat wankel tussen herinnering en werklikheid is een van die fokuspunte van haar werk.

Oldfield werk met gemengde media. Temas soos dood en gevaar, vrees en beskerming, en illusie teenoor werklikheid tree na vore. Haar werk spreek ook van ’n bewustheid van identiteit in ’n multikulturele wêreld.

Herinnering is ‘n uitstalling by Aardklop 2009 by Snowflake.

Lewer kommentaar

Leave a Reply