Honda se blitsigste luikrugmotor, die uiters begeerlike en uitsonderlik vermaaklike Civic Type R, het sopas ʼn nuwe stalmaat bygekry – ʼn motor wat rooiwarm letterlik in witwarm omskep!
Die nuweling is gegrond op die bestaande Type R – wat steeds net in Milano-rooi en Nighthawk-swart beskikbaar is – en staan bekend as die Type R Championship Edition, danksy sy kenmerkende, unieke Championship-wit baadjie.
Dié motor vier nie net Honda se lang en roemryke geskiedenis in internasionale motorsport nie, maar is ook ʼn wenner in eie reg wat met ʼn rits spesiale kenmerke spog.
Een van die belangrikste toevoegings is die teenglip-ewenaar wat nou as standaard-toerusting gebied word. Dit onderstreep nie net die aansienlike verrigtingspotensiaal van die Type R nie, maar sorg ook dat die bestuurder nou draaie met nog meer vertroue kan benader.
Onder die ander, nuwe standaardkenmerke van die Championship Edition-model tel beide ʼn iPod-koppeling en ʼn stereo-aansluiting vir ʼn MP3-musiekspeler. Saam sorg hulle dat eienaars van dié spesiale Type R gerieflik hul eie musiekversamelings kan geniet.
Verskeie eksklusiewe geriefkenmerke is by die Championship Edition-pakket ingesluit. Daaronder tel ʼn truspieël wat outomaties verdonker, ʼn banddrukverlies-waarskustelsel, parkeerafstandsensors agter, en impaksensitiewe deurslotte.
“Die Type R Championship Edition-weergawe vervang nie die bestaande Type R nie. Dit is eerder daarop gemik om die gewildheid van dié toergierige verrigtingsmotor nog verder te laat uitkring deur ʼn betekenisvolle pakket ekstras by te voeg, wat onder meer parkeerafstandsensors en die teenglip-ewenaar insluit,” sê Graham Eagle, Honda Suid-Afrika se algemene bestuurder van verkope en bemarking.
Vir kranige motorgeesdriftiges is die teenglip-ewenaar van die Championship Edition-model die belangrikste verbetering op die bestaande Type R. Dit word gewoonlik net in ren- en tydrenmotors aangetref, en sorg vir beter klouvermoë deur wieltol te beperk wanneer daar hard en vinnig deur draaie gery word.
Dit het ʼn skerper, meer doelgerigte draai-aksie tot gevolg, gekoppel aan ʼn amper ongelooflike vermoë om spoed deur draaie te handhaaf sonder dat die bande hul greep verloor, wat op sy beurt tot stuurtraagheid lei.
Die res van die meganiese pakket is identies aan dié van die standaard Type R-weergawe. ʼn Toergierige i-VTEC-kragbron van 2,0 liter lewer 148 kW en 193 Nm aan die voorwiele deur middel van ʼn sesgang-handratkas.
Nes die standaard Type R, blits die Championship Edition dus in net 6,6 sekondes van 0 tot 100 km/h, terwyl die motor ʼn topsnelheid van 235 km/h kan behaal. Brandstofverbruik in die gekombineerde siklus kom op 9,3 liter/100 km te staan, terwyl die Honda se CO2-uitlaatgasvlak 219 g/km beloop.
Veral musiekaanhangers sal bly wees oor die beskikbaarheid van beide ʼn iPod-gerigte USB-koppeling, en ʼn stereo-klankaansluiting, in die Type R Championship Edition.
Sulke kenmerke word gewoonlik net teen bykomende koste in dié marksegment aangebied, en sorg hier vir die maklike en gerieflike koppeling van persoonlike musiekversamelings aan die Type R se ingeboude klankstelsel.
Bykomende gerief en veiligheid word gebied deur die pas van ʼn truspieël wat outomaties domp. Dit verhoed dat verkeer van agter snags die bestuurder verblind deur van self te verdonker. Parkeersensors wat agteruitry vergemaklik is ook ʼn nuwe toevoeging.
Veiligheid is die kern van twee bykomende stelsels wat eksklusief op die Type R Championship Edition gebied word.
ʼn Banddrukverlies-waarskustelsel lig die bestuurder in wanneer die banddruk in een of meer bande te laag raak. Daarbenewens is die deurslotte nou met impaksensors toegerus. Die sensors sal die slotte laat oopsluit in die geval van ʼn botsing, om so te sorg dat insittendes die voertuig veilig kan verlaat.
“Die Honda Civic Type R Championship Edition is ʼn verrigtingsikoon met ʼn besonder getroue groep ondersteuners. Die veranderinge wat as deel van die nuwe Championship Edition-weergawe aangebring is, dra nie net tot die Type R se verrigtingsnaam by nie, maar voeg ook belangrike nuwe gerief- en veiligheidskenmerke by die pakket,” sê Eagle.
“Veral belangrik is egter die nuus dat die Championship Edition-weergawe net effens meer as die standaardmodel kos, wat sorg dat waarde steeds ʼn sleutelbestanddeel bly,” het hy afgesluit.
Die Honda Civic Type R Championship Edition, met ʼn voorgestelde kleinhandelprys van R299 900, is by alle goedgekeurde Honda-handelaars landwyd beskikbaar. Die standaard Type R-weergawe se huidige voorgestelde kleinhandelprys beloop R290 900.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
