Die jaarlikse toneelstryd om die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater (SPAT) wat tydens die Absa KKNK op Oudtshoorn plaasvind, gee aan jong talent die geleentheid om hul slag te wys.
Twee gereelde finaliste, die dramadepartemente van die universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat, word uitgedaag deur Rhodes wat vir die eerste keer hul buiging sal maak.
Hul tekste wat vroeër in die eerste been van die kompetisie gekeur is, is sedertdien ingestudeer en word met ‘n borgskap van R25 000 elk deur die betrokke dramadepartemente by die KKNK opgevoer, waar die paneel die algehele wenner en ook die beste akteurs, regisseur en dramaturg aanwys.
Die stryd op die planke geskied van 6 tot 10 April in die Sanlam-Griesselsaal tussen:
Die Bannelinge deur Bauke Snyman, ingeskryf deur Universiteit Rhodes, onder spelleiding van Heike Gehring;
Die Wagkamer, deur Frans Josias Hamman (Universiteit Stellenbosch) met Wilhelm Conradie as spelleier; en
Spokie Snygans maak sy buiging, deur Jeanne Goosen (Universiteit van die Vrystaat), wat deur Gerben Kamper afgerig word.
Elke stuk word twee keer opgevoer en die wenner nog ‘n keer. Raadpleeg die programrooster vir datums en tye.
Vir die wendramadepartement wag ‘n stewige R100 000 (op voorwaarde dat die wenproduksie by twee ander kunstefeeste opgevoer word). Individuele pryse ter waarde van altesame R70 000 is ook op die spel.
Die kompetisie stel prysgeld van altesame R270 000 per jaar beskikbaar vir die ontwikkeling van nuwe Afrikaanse teaterproduksies. Dié vertoonvenster vir skeppende teater vir studente skep onder meer unieke geleenthede vir wisselwerking tussen die regisseurs, studente-akteurs en dramaturge tot almal en ook die teatergangers se voordeel.
Die finaliste is gekies op grond van oorspronklike Afrikaanse dramatekste wat aanvanklik deur die skrywers vir oorweging aan enige van die dramadepartemente by universiteite en universiteite vir tegnologie in Suid-Afrika voorgelê is en uiteindelik deur hulle vir beoordeling gekeur en ingeskryf is. Die manuskrip wat deur die Tshwane Universiteit van Tegnologie voorgelê is, is aanvanklik ook gekeur maar dié instelling het die produksie sedertdien onttrek.
As verdere stimilus word die bekroonde toneeltekste ook gepubliseer. Lewensreg en Die Begrafnis, die wentekste van 2007 en 2008, is verlede jaar bekendgestel en eksemplare is beskikbaar by Joho-Uitgewers (Bev Maritz, 021 521 2000).
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
