Drie oorwinnings en ‘n tweede plek het aan die voormalige kampioene, Evan Hutchison en Achim Bergmann, ‘n stewige houvas op die Spesiale Voertuigkategoriekampioenskap van die Absa-Veldrenkampioenskap gegee.
Die Toyota 1000-Woestynren-sege het Variawa/Rousseau tot die derde plek in die kanpioenskap geneem, net een punt voor Michael Whitehouse en sy swaer, Mathew Carlson in die Regent Racing-BAT. Whitehouse en Carlson het hul pad na ‘n soliede vierde plek oopgeveg om ‘n 100%-klaarmaakrekord dié seisoen te behou.
Die top vyf word deur die Limpopo-span, Naeem Moosajee en Mohammad Moultson in die Tyre Rack-Jimco afgerond. Hulle was die laaste van die agt spanne (28 het begin) wat in die Spesiale Voertuigkategorie kon klaarmaak tydens ‘n Toyota 1000-Woestynren wat taaier as gewoonlik was en het ook hul 100%-klaarmaakrekord behou.
‘n Verskil in die puntetoekenning tussen die algehele en klasresultate veroorsaak dat die prentjie in die Klas A-kampioenskap effens anders daarna uitsien. Hier het Whitehouse en Carlson tot die derde plek opgeskuif en is hulle voor Moosajee/Moultosn en Variawa/Rousseau.
Vir Hutchison en Bergmann is dit ‘n gerieflike posisie. Daar is egter vier strawwe renne oor en kampioenskappe is in die verlede al verloor teen sterker posisies in die tweede helfte van die seisoen.
Die Toyota 1000-Woestynren het ook vir ‘n verandering in die Klas B-puntestand gesorg. Die Kaapse span, Derick du Toit en Ian Pienaar (Orange Tree-BAT) het hule eerste nasionale sege aangeteken en was die enigste Klas B-span wat die ren kon voltooi.
Die oorwinning het Du Toit en Pienaar tot voor nóg ‘n Kaapse span, Bes en Deon Bezuidenhout in die Adenco-BAT ingeskuif. Die Makenete-broers, Keith en Andrew in ‘n Zarco was ook tussen dié spanne wat nie die geruite vlag kon haal nie, maar hulle is steeds derde in die kampioenskap.
Die broers, David en Gary White in die Ruwacon-BAT, was die enigste Klas P-span wat in Botswana kon klaarmaak. Hulle het tot die tweede plek in die kampioenskap opgeskuif en het dieselfde hoeveelheid punte as Johan van Staden en James Roussouw in die KEC-BAT.
Die Bezuidenhout-broers, Johan en Etienne, in die Adenco-BAT, was ook tussen diegene wat nie die volledige afstand van die Woestynren kon voltooi nie. Ten spyte daarvan het hulle steeds ‘n gerieflike voorsprong van 17 punte bo-aan die Klas P-rangleer.
Die volgende ren op die kalender is die Sun City 400 wat op 24 en 25 Julie in die Pilanesberg plaasvind.
