Vos / Pitchford verstewig houvas op kampioenskap

‘n Derde sege dié seisoen tydens die onlangse Toyota 1000-Woestynren in Botswana, het beteken dat die huidige Suid-Afrikaanse jaerskampioen, Duncn Vos saam met Ralph Pitchford hul houvas op die Produksievoertuigkampioenskaptitel in vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap verstewig het.

Nadat hul naweek wankelrig tydens die voorren, wat die wegspringvolgorde vir die hoofren bepaal, begin het, het die Donaldson-Nissan Navara-fabriekspan die verrigtinge oorheers. Vos en Pitchford het ongeveer 40 minute voor die tweedegeplaasde Anthony Taylor en Robin Houghton in die fabrieks-Castrol-Toyota Hilux klaargemaak.

‘n Sewende algehele posisie en ‘n sesde plek in die premier-Klas SP het die Noorweër, Ivar Tollefsen en sy Britse navigator, Quin Evans, in die tweede Donaldson-Nissan Navara se tweede plek in die kampioenskap bevestig. Die oorsese span is nou sewe punte voor die bestendige Chris Visser en Japie Badenhorst (RFS-Toyota Hilux) wat die eerste Toyota-span op die punteleer is.

‘n Soliede vyfde plek het Visser en Badenhorst tot voor die voormalige kampioen, Hannes Grobler en Juan Möhr in ‘n derde fabrieks-Donaldson-Nissan, wat die eerste dag uitgeval het toe hulle ‘n rots getref het, gelig. ‘n Tweede plek het Taylor en Houghton (Castrol-Toyota Hilux) tot in die vyfde plek in die kampioenskap geskuif, maar agter hulle is daar opeenhoping waar net vier punte die volgende sewe jaers skei.

Die prentjie in Klas SP lyk effens anders danksy die verskil in puntetoekenning tussen die algehele en klasposisies. Die top vier spanne bly dieselfde, maar Hein Lategan en Chris Birkin – die tweede Castrol-Toyota Hilux wat nie die ren kon voltooi nie – is steeds voor hul spanmaats, Taylor en Houghton.

Die top drie in Klas D bly onveranderd met Cliff en Louis Weichelt (N1 4×4-Toyota Hilux D4D), Heini Strumpher/Hendrik van der Linde (Micaren Excel-Toyota Hilux) en Dewald van Breda/Johann du Toit (Northam-Toyota Hilux D4D) wat nie die Botswana-ren kon voltooi nie. Die klasoorwinning het aan die Mpumalanga-span, Johan en Werner Horn in die Malelane Toyota-Land Cruiser behoort wat hulle tot die vierde posisie laat opskuif het.

Twee spanne deel die boonste sport in die Klas E-kampioenskap – die 4×4 Megaworld-Toyota Hilux-spanne, Deon Venter/Ian Palmer en die beginners, Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus. Venter/Palmer het die eerste twee byeenkomste gewen en Labuscagne/Erasmus die laaste twee.

Labuscagne/Erasmus het in ‘n kredietwaardige sesde plek algeheel in Botswana klaargemaak waar hulle die huidige kampioene, Jannie Visser en Joks le Roux in die RFS-Toyota Hilux geklop het. Die ervare Visser/Le Roux-kombinasie is nou 14 punte agter die twee Megaworld-spanne.

Agt van die 11 spanne uit die 28 spanne wat in die Produksievoertuigkategorie begin het, het dit met Toyota-voertuie voltooi en dit het Toyota tot voor Nissan in die gesogte Suid-Afrikaanse Vervaardigerskampioenskap gelig. Nadat hulle hul aartsmededingers met 86 punte teenoor 41 uitgestof het, het Toyota nou 260 punte teenoor Nissan se 232.

Die volgende byeenkoms op die Absa-Veldrenkampioenskapkalender, is die Sun City 400 wat op 24 en 25 Julie plaasvind.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply