Die Land Cruiser 200, wat in November 2007 bekend gestel is, was ‘n feitlik algeheel nuut ontwerpte voertuig, gegrond op Toyota se bewese formule van ‘n sterk staalbak op ‘n leertipe onderstel vir die allerbeste duursaamheid in strawwe bedryfstoestande – die soort toestande wat die Land Cruiser die aanspraakmaker op die titel “Koning van Afrika” gemaak het.
Die dak, kantpanele en die vloerpan van die bak word gemaak van roesbestande hoëtreksterktestaal met ‘n roesbestande bedekking. Gevolglik is die bak nie net ligter nie, dit is ook sterker.
Die milde gebruik van ‘n skuimtipe isolasiemateriaal in die bakpanele voorkom die indringing van geraas in die kajuit. Oppervlakopenings tussen die voorruit en die bak is verklein om windgeraas te beperk, en die kap voor die voorruit is so gevorm dat dit lugvloei afglad. Die posisie van die ruitveërs is ook geoptimaliseer om windweerstand en geraas te verminder. Klankabsorberingsmateriaal in die dak, op en onder die vloer en agter al die belangrike beslagpanele in die kajuit verminder geraas verder.
Veiligheid in die ontwerp ingebou
‘n Energie-absorberende struktuur is in die bakraam ingebou en die onderkant van die Land Cruiser is versterk. In die geval van ‘n ernstige botsing reageer die bak en die onderstel as ‘n eenheid om botsenergie liniêr te versprei vir doeltreffende slagabsorbering. Die kantbalke van die onderstel het voorafberekende knakpunte. Dit stel die onderstel in staat om te vervorm en botsenergie te versprei en help ook om vervorming tot ‘n bepaalde gebied te beperk.
Die Land Cruiser 200 spog met eienskappe om beserings aan voetgangers te beperk in die geval van ‘n botsing van voor. Die enjinkap is ontwerp om die slag van so ‘n botsing doeltreffend te absorbeer. Die voorkant van die enjinkap is spesiaal ontwerp om botsings teen korter voetgangers, veral kinders, te absorbeer, en die kaparea voor die voorruit is ook ontwerp om energie te absorbeer en beserings te beperk. Daar is ook botsslagabsorberingstrukture tussen die modderskerms en die voorste skort om voetgangerbeserings te verminder.

In die kajuit is daar botsslagabsorberingsmateriale in die plafon en die kantpilare. Vir die bestuurder en die voorste passasier is daar voorste, knie- en kantlugsakke (laasgenoemde ook vir die twee kantsitplekke in die middelste sitplekry), terwyl die insittendes in al drie rye beskerm word deur gordynlugsakke. Al sewe sitplekke het driepuntgordels.
Die aktiewe kopstutte van die voorsitplekke is toegerus met Toyota se WIL (Whiplash Injury Lessening)-tegnologie. In die geval van ‘n botsing van agter bespeur die aktiewe kopstutmeganisme beweging aan die onderkant van die insittende se rug en druk die kopstut na bo om impakte op die persoon se nek en sweepslagbeserings te verminder.
Gevorderde aktiewe veiligheidseienskappe
Die Land Cruiser 200 is toegerus met 17-duimallooiwiele, wat voorsiening maak vir groot remskywe en knypers. Gevolglik het voertuig uitstekende remverrigting met die minimum-remverswakking. Geventileerde skywe is standaard voor en agter. Die voorste remskywe het ‘n deursnee van 340 mm en die agterstes ‘n deursnee van 345 mm.
‘n Volle bestek van elektroniese bestuurdershulpmiddels word aangebied. Dit sluit “Veelterrein-ABS” in. Afgesien van die konvensionele sluitweerfunksie wat voorkom dat die remme in normale bestuurstoestande sluit, bespeur hierdie jongste stelsel veldrytoestande soos los sand en klippe en skakel outomaties oor na ‘n geoptimaliseerde stelling vir die betrokke terreintoestande.
Afgesien van die wielspoedsensors, wat die belangrikste insette lewer vir ‘n konvensionele ABS-stelsel, is die enjin se elektroniese beheereenheid ook geïnkorporeer in die nuwe stelsel om die noukeurigheid van die terugvoer oor die voertuigtoestand te verbeter, insluitende die versnellingskoers, enjinkraglewering en wielspoed. Die ABS-stelsel gebruik hierdie insette om te bepaal wat die beste glipkoers is wat toegepas moet word om die optimum-spoedverminderingskoers te verkry. Die stelsel spog ook met Elektroniese Remkragverspreiding (ERV) om te verseker dat die remkrag optimaal na al vier wiele versprei word vir die allerbeste remverrigting.
‘n Ander element van die remstelsel is Remhulp. Wanneer hierdie stelsel ‘n noodremsituasie bespeur (van die rempedaalaksie van die bestuurder), wek dit meer remkrag op om die bestuurder te help om die voertuig binne die kortste moontlike afstand tot stilstand te bring.
Die Voertuigstabiliteitsbeheerstelsel (VSB) bespeur enige sywaartse glipbeweging en help die bestuurder om die voertuig onder beheer te kry deur die enjinkraglewering te beheer en elke wiel afsonderlik te rem.
Die bestuurder kan die VSB-stelsel met ‘n uitskakelaar ontkoppel. Dit word gebruik wanneer die vastrapbeheerelement van die stelsel die bestuurder verhinder om genoegsame enjinkrag te gebruik om voertuig uit diep sand, modder of sneeu te kry. Die stelsel kan deur die druk van ‘n skakelaar in die ry gekoppel en ontkoppel word. As die voertuig vasgeval het en stilstaan, moet die skakelaar vir drie sekondes lank ingedruk word. Die stelsel word gereaktiveer wanneer die skakelaar weer gedruk of die enjin aangeskakel word nadat dit afgeskakel was.
Die vastrapbeheerstelsel van die Land Cruiser 200 is Toyota se Active TRAC-stelsel. Die stelsel is toegerus met ‘n middelewenaar-vryloopmodus wanneer L4 geskakel word – vir ‘n beter gevoel en veldryverrigting. Met Active TRAC word die enjinkraglewering en die hidrouliese remdruk beheer in ooreenstemming met die gekose oordragbestek. Dit gaan uit van die uitgangspunt dat H4 maklike rytoestande en L4 strawwe veldrytoestande aandui.
Afdraandehulpbeheer (AHB) help die bestuurder om ‘n bestendige snelheid teen steil afdraandes af te handhaaf en te voorkom dat die voertuig weghol. Dit word gedoen deur die remkrag te beheer wanneer enjinremming alleen nie genoeg is om die momentum van die voertuig te vertraag nie. AHB verseker ‘n bestendige afwaartse rit sonder dat die wiele sluit en stel die bestuurder in staat om volkome te konsentreer op hoe en waar om die voertuig te stuur. Geen ander insette is nodig nie.
Die omgekeerde van AHB is Heuwelwegtrekhulpbeheer (HHB). Hierdie stelsel voorkom dat die voertuig agteruitloop wanneer daar teen ‘n opdraande weggetrek word. Die stelsel bespeur enige trubeweging wanneer die bestuurder sy voet van die rempedaal afhaal om weg te trek en pas remkrag toe.
Die laaste element om die voertuig in veldrytoestande te stabiliseer, is stabiele voorwaartse beweging, wat dikwels moeilik is om in strawwe toestande te handhaaf. Om dit moontlik te maak, het Toyota ‘n CRAWL-, of Kruipbeheerstelsel, in die Land Cruiser 200 aangebring.
Hierdie nuut ontwikkelde stelsel vir die petrolweergawe stel die Land Cruiser 200 in staat om ‘n bestendige, lae snelheid oor die strafste terrein te handhaaf deur die enjinversnellerinsette (kraglewering) en remdruk na die individuele wiele te beheer. Dit vergemaklik die bestuurder se taak en bied ‘n geriefliker rit. Enige neiging van die wiele om te sluit of te tol, word beperk.
Omdat hy nie die versneller of die remme hoef te beheer nie, kan die bestuurder sy volle aandag skenk om die voertuig oor die beste roete te stuur. Toyota het die CRAWL-stelsel ontwikkel deur die pedaalaksies van ervare veldryers op te neem as die basis vir ‘n digitale model vir die stelsel. Die resultaat is ‘n uitstekende, geoutomatiseerde bestuursmodel wat selfs die mees ervare Toyota-veldrybestuurders wat by die ontwikkeling van die stelsel betrokke was, beïndruk het.
Die CRAWL-funksie maak voorsiening vir drie snelheidstellings (Lo – 1 km/h, Mid – 3 km/h, en Hi – 5 km/h) vir toestande wat wissel tussen rotsterrein, los klippe en rotse teen afdraandes af, en sneeu, modder en los gruis.
Die wielteikenspoed (wat wieltol beheer) en die voertuigteikenspoed word voortdurend bereken op grond van inligting wat verkry word van die individuele wielspoedsensors, versnellersensor, hoofremdruksensor, stopskakelaar en die spoedselektorskakelaar. ‘n Konstante snelheid word gehandhaaf deur die enjinkrag te verminder of te vermeerder en deur die selektiewe toepassing van remkrag op elke wiel om te verseker dat die wielspoed en die voertuigteikenspoed altyd gesinchroniseer is. Die CRAWL-funksie word ontkoppel by snelhede bokant 10 km/h.
Voorbotsingsveiligheidstelsel
Die Land Cruiser 200 is toegerus met ‘n Voorbotsingsveiligheidstelsel vir die voorste sitplekgordels. Hierdie stelsel is ingeskakel by die rem- en die Voertuigstabiliteitstelsel. Wanneer die VSB-stelsel bemerk dat die voertuig op die punt staan om te tol, daar ‘n ernstig stuuroorywerige situasie bestaan of dat die remme hewig aangeslaan word, stuur die sentrale verwerkingseenheid van die VSB-stelsel ‘n sein aan die Voorbotsingstelsel. Dié, op sy beurt, span die sitplekgordels oombliklik stywer en trek die bestuurder en die voorste passasiers stewig op hul sitplekke vas. Sodoende word liggaamsbeweging beperk en botsbeserings verminder.
Krulveerstelsel
Die Land Cruiser 200 is toegerus met krulvere voor en agter, wat bydra tot groter gerief, beter ry-eienskappe en ‘n beter stuurgevoel. Die slagafstand van die voorveerstelsel is 230 mm, wat op sy beurt verrigting en vastrap in veldrytoestande verbeter.
Agter word die bewese vierskakel-krulveerstelsel behou, wat uitstekende rygerief en hantering verseker. Die agterveerstelsel het ‘n slagafstand van 240 mm.
Die Land Cruiser 200 is ook toegerus met ‘n Kineties-dinamiese Veerstelsel (KDSS, ofte wel Kinetic Dynamic Suspension System), ‘n innoverende nuwe stelsel van Toyota. KDVS verbeter veiligheid en gerief deur voertuigrolbewegings te beperk. In veldrytoestande help die stelsel om optimum-wielartikulasie te verkry, wat beter vastrap oor strawwe terrein verseker.
Met KDVS word die werking van die voorste en die agterste stabiliseerder voortdurend geoptimaliseer deur ‘n interaksie tussen die twee via ‘n hidrouliese stelsel. Wanneer die voertuig ‘n rolbeweging ondervind, word die hidrouliese druk voor en agter gelykgemaak en die stabiliseerders werk normaal om die rolbeweging te onderdruk.
Wanneer die wiele aan een kant oplig, werk die hidrouliese silinders aan die voorste en die agterste veerstelsel in teenoorgestelde rigting. As gevolg hiervan is daar geen reaksie van die stabiliseerder om die veerstelselslag te beperk nie. Dit verleen ‘n meer gelykmatige rit en uitstekende stabiliteit in veldrytoestande.
Die kajuit bied gerieflike sitplek aan sewe insittendes in ‘n 2/3/2-uitleg. Die voorste sitplekke kan 240 mm vorentoe en agtertoe geskuif word, en die tweede ry sitplekke het ‘n verstellingbestek van 105 mm. Dit beteken dat die sitplekke verstel kan word om die beste beenruimte vir al die insittendes te verseker.
Net V8-enjins word vir die Land Cruiser 200-modelreeks gebruik. Die petrolenjin van 4,7 liter ontwikkel 202 kW by 5 400 r/min en 410 Nm se wringkrag by 3 400 r/min.
Die dieselmodel word aangedryf deur ‘n V8-enjin van 4,5 liter, wat 173 kW @ 3 200 r/min en 615 Nm se wringkrag tussen 1 800 en 2 200 r/min ontwikkel.
Die dieselenjin spog nie net met uitstekende verrigting nie, maar dit is ook besonder ekonomies. Trouens, danksy die deelpyp-brandstofinspuiting en wisselnossel-turboaanjaer gebruik dit soveel diesel as talle ander enjins wat tot 40 persent kleiner is.
Belangrikste eienskappe van die Land Cruiser 200:
Veelterrein-ABS-remstelsel.
Remhulp.
Elektroniese Remkragverspreiding.
Voertuigstabiliteitsbeheer.
Aktiewe Vastrapbeheer.
Afdraandehulpbeheer (net dieselweergawe).
Heuwelwegtrekhulpbeheer.
Kruipbeheer (net petrolweergawe).
Voorbotsing-sitplekgordelstelsel.
Tru-monitor en sonarbeheer agter.
Voorste, kant- en knielugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier.
Kantlugsakke vir die tweede ry sitplekke.
Volle kantgordynlugsakke vir die beskerming van die insittendes op al drie sitplekrye.
Kindersitplekstelsel.
Handverstelling vir hoofligte.
Hoofligwassers.
Misligte voor en agter.
17-duimallooiwiele met 295/65 R17-bande (volgrootte noodwiel).
Volle leerbeklede kajuit.
Kragstuur.
Snelheidsbeheer.
Slim toegangstelsel met elektriese deurslotte.
Elektrochromatiese tru- en kantspieëls.
Onafhanklike viersone-klimaatbeheerlugreëling.
Elektriese ruitverstelling met afstandbeheerfunksie.
EMV-satellietnavigasiestelsel met hoëresolusie-raakskerm.
Ses-CD-wisselaar, RDS-radio met nege luidsprekers en MP3- en Bluetooth-aansluitbaarheid.
Sondak met eendrukverstelling en toeknypbeskerming.
Reëngevoelige ruitveërs.
Elektriese kantel- en teleskopiese stuurkolomverstelling met geheuefunksie.
Elektriese verstelling vir die voorsitplekke.
Donker getinte agterruite.
Koelkassie in middelkonsole.
12V-kragprop.
Transponder-tipe immobiliseerstelsel.
Indringing- en diefweersensors.
93 liter-brandstoftenk.
ToyotaCare-diensplan van vyf jaar/90 000 km.
Geringe spesifikasieveranderinge is in Oktober aan die Land Cruiser 200 aangebring. Dit sluit in:
‘n Band om bagasie in posisie te hou.
‘n 12 volt-kragpunt agter in die voertuig.
AUX- en USB-toevoerpoorte.
‘n HDD GPS-navigasiestelsel vervang die DVD-stelsel.
Crawl Control vir die dieselmodel. (Dit was voorheen net beskikbaar in die petrolmodel.)
