Bridgestone Suid-Afrika het gesê ouers hoef nie te wag totdat hul kinders oud genoeg is om self te bestuur om goeie bandesorg-gewoontes aan te leer nie.
“Een van die algemeenste kinderspeelgoed is ’n trapfiets, wat spoedig ’n noodsaaklike vervoermiddel vir baie kinders word,” het Mandy Lovell, Bridgestone se bestuurder van Openbare Betrekkinge, gesê. “Dit is ’n groot mylpaal vir kinders om sonder oefenwieletjies te kan ry, en baie van die grondslagbeginsels van padveiligheid word op ’n fiets geleer,” het sy bygevoeg.
Baie basiese bandesorg- en instandhoudingsgewoontes wat later in die lewe handige gewoontes kan word, kan aangeleer word terwyl ’n kind ’n fiets vir speel of vervoer gebruik. Me Lovell het ook gesê dinge soos die noodsaaklikheid van voldoende loopvlakdiepte en nagaan van bande van tyd tot tyd kan verseker dat die fiets se bande nie beskadig word of snye opdoen nie.
Die noodsaaklikheid van die korrekte banddruk is net so belangrik. “Kinders wat begin fietsry, raak gou bewus van hoe moeilik dit is om met ’n pap band of een wat nie hard genoeg gepomp is nie, te ry,” het Lovell gesê. “Dit is ’n waardevolle les vir hul later jare wanneer kinders oud genoeg is om te bestuur en ’n gulde geleentheid vir ouers om die gevaar van bandskade of bande wat weens te lae druk kan bars, te verduidelik.”
Ouers word aangeraai om hul kinders van jongs af te leer om na hul fietsbande om te sien, en ook hoe om ’n pap band reg te maak. Hulle moet ook geleer word om te besef wanneer dit nodig is om een te vervang. Kinderjare se onvermydelike pap wiele wat deur goed soos dorings of spykers veroorsaak word, is ook ’n goeie leergeleentheid en beklemtoon hoe belangrik dit is om versigtig te ry om skade aan die bande te vermy – ’n vaardigheid wat ewe belangrik agter die stuur van ’n motor as op ’n fiets is.

“Fietsry is vir baie kinders ’n alledaagse tydverdryf,” het Lovell gesê. “As kinders bygestaan word om die regte padveiligheid- en bandesorg-gewoontes te leer deur fiets te ry, lê dit ’n stewige grondslag vir die toekoms wanneer hulle gaan leer om ’n motor te bestuur.”
