Die wegholvoorlopers in die afdeling vir buisraammotors, Evan Hutchison en Achim Bergmann, is van alle kante in die visier van verskeie mededingers in die Toyota 1000-Woenstynren, die vierde ronde van die Suid-Afrikaanse Absa-veldrenkampioenskap, wat die naweek van 19 tot 21 Junie beslis word.
Hutchison/Bergmann en die Revo1 staan vir die Botswana-byeenkoms voor hul strafste toets nog. Hoewel aandrywing deur al vier wiele ’n groot voordeel sal wees in die sanderige toestande op ’n roete wat afgesonderde dele van die Kalahari insluit, kom die voormalige kampioene teen ’n hele string gehalte-spanne te staan wat daarop uit is om hulle af te slag.
Die verdedigende kampioene, Kallie en Quintin Sullwald (Sullwald Racing BAT) het nog nie dié seisoen juis veel sukses gesmaak nie. Hulle het hierdie byeenkoms in 2007 gewen en is daarop uit om vanjaar se ren te gebruik om hul veldtog te hervat.
Die Sullwalds het ’n goeie kans – net soos verlede jaar se wenners, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau (Total Porter) en die pa- en seun-veldrenpaar Nick en Ryan Harper in die Atlas Copco BAT, wat die ren ook al gewen het. Die uiteenlopende benadering van die twee spanne – Variawa/Rousseau jaag hard terwyl die Harpers dinge koel benader – dek ook die tafel vir ’n paar moontlikhede.
Colin Matthews is ook ’n stormram en jaag dié keer met die hulp van Allan Smith in die Century Racing BAT. Niemand kan oor Matthews twyfel wanneer dit by spoed kom nie, maar dit alleen is nie genoeg om ’n marathon-byeenkoms soos hierdie te wen nie.
’n Versigtige “trippe trappe trone”-benadering sal waarskynlik makliker vrugte in die Toyota 1000-Woestynren afwerp, en Clint Gibson/Gary Campbell (Gibson Racing BAT), die veterane Nardus Alberts en Geoff Minnitt (Wrapsa BAT) en Herman en Wichard Sullwald in die Sullwald Racing Zarco, het almal die soort kredietwaardigheid om hul teenstanders oor die drie strawwwe dae te oorleef. As ’n mens ’n kans moet waag om ’n gunsteling-span uit hierdie groepie te kies, sou Gibson en Campbell ’n goeie keuse wees.
Die Limpopo-jaers Naeem Moosajee en Mohammad Moultson (Tyre Rack Jimco) het twee teleurstellende uitstappies ná mekaar gehad, maar kan nie buite rekening gelaat word nie. Die toestande kan in hul kraal wees en hulle sluit hulle gewis by die lys spanne aan wat dink hulle het ’n goeie kans om die ren te wen.
In teenstelling met die klinkende sukses van die Revo1 moet die Century Racing CR1 4×4 in die hande van Mark Corbett en Rudi Balzer nog ’n byeenkoms voltooi. Die CR1 met sy kortbuksie-voorkoms het meer as net ’n tikkie potensiaal getoon toe hulle die voorren in die Nissan Sugarbelt 400 gewen het, maar betroubaarheid bly ’n groot kopsorg vir dié belowende span.
Wat Klas B betref, is dit ’n bykans onbegonne taak om ’n moontlike wenner te kies. Dié renklas is nog van die begin van die seisoen af deur onbestendigheid gekenmerk, en ’n mens kan nie op vorige uitslae staatmaak nie.
Die twee voorjaers sal waarskynlik die kampioenskapsvoorlopers Bes Bezuidenhout en sy seun, Deon, in hul Adenco BAT, en Derrick du Toit en Ian Pienaar in die Orange Tree BAT wees. Dié twee Kaapse spanne word deur net ’n paar punte van mekaar geskei, en dit kan ’n interessante stryd oplewer waarin die Bezuidenhouts, wat die openingsbyeenkoms van die seisoen gewen het, die effense gunstelinge is.
John Telford en Stuart van Graan (Zarco) kan vir stewige teenstand sorg, net soos die Makenete-broers Keith en Andrew, wat ook in ’n Zarco jaag. Die Makenete’s het hul staal tot dusver vanjaar gewys, en dié eienskap kan in Botswana behoorlik op die proef gestel word.
Die Klas P-stryd hou ook groot moontlikhede in. ’n Stuk of vier, vyf spanne is almal tot ’n klasoorwinning in staat en die geluksgodin kan die deurslag gee…
Die kampioenskapsvoorlopers Johan en Etienne Bezuidenhout (Adenco BAT) het ’n goeie suksesgeskiedenis en het twee oorwinnings in vanjaar se seisoen op hul kerfstok, wat hulle ’n gewisse voorsprong gee wat selfvertroue betref.
Hul grootste gevaar kom van die KwaZulu-Natalse jaer Don Thompson wat in die afwesigheid van Don Blakey nog na ’n navigator op soek is. Thompson is blitsig, en betroubaarheid sal gewis ’n rol speel.
Die nuwelingjaers Johan van Staden en James Rossouw, wat in hul KEC BAT jaag, het ’n indrukwekkende wegspring in hul nasionale veldrenloopbaan gehad. Dié Noordelike Streke-veldrenkampioene kort net ’n bietjie ervaring, maar kan vir ’n verrassing of wat sorg.
David en Gary White (Ruwacon BAT),moet ook in aanmerking geneem word. Hulle het nie juis ’n goeie wegspring aan die begin van die seisoen gehad nie, maar het die vermoë om hul klas in die gevaarlike geselskap van jaers soos die voormalige kampioene Richard Schilling/Chris Davies (Aceco) en John Weir-Smith/Richard Carolin in die Men’s Health Zarco te wen.
Die Toyota 1000-Woestynren het met die jare ’n paar dramatiese eindlopies opgelewer. Hierdie ren word dikwels in die laaste 100km of so gewen of verloor, en sal heel moontlik weer in ’n stryd ontwikkel waar die aanhouer wen …
bydrae: Charmaine Fortune
