Ford en Toyota – veral laasgenoemde – is desperaat om Nissan se algehele oorheersing in die afdeling vir produksievoertuie van die Suid-Afrikaanse Absa-veldrenkampioenskap in die Toyota 1000-Woestynren van 19 tot 21 Junie in Botswana kort te knip.
Ford en Toyota, van wie die Japannese vervaardiger ’n gesonde getallevoordeel in die topklas, Klas SP, geniet, sal hoop dat hulle genoeg stukrag sal kan opbou om Nissan in hul spore te stuit. Hulle sal ook die duime styf vashou dat die wet op gemiddeldes in hul guns swaai.
Nissan het drie fabrieksinskrywings in die stryd, van wie die verdedigende jaerskampioen, Duncan Vos, daarop uit is om ’n driekuns aan te teken nadat hy hierdie byeenkoms telkens met instaan-navigators ook in 2007 en 2008 beklink het. Vanjaar het Vos egter die voordeel van sy gereelde navigator, Ralph Pitchford, wat van hom ’n selfs groter bedreiging maak.
Hannes Grobler, wat nou saam met Juan Mohr langs hom in die navigatorsitplek jaag, het die vorige ren, die Nissan Sugarbelt 400, gewen en is altyd ’n groot bedreiging in die Woestynren, wat hy al vyf keer gewen het. Ivar Tollefsen en Quin Evans, wat in die derde fabrieksingeskrewe Nissan Navara jaag, word ’n al groter bedreiging nadat hulle vroeër vanjaar vierde in die Dakar-uithouveldtydren geëindig het, en kom ook vir die Woestynrenoorwinning in aanmerking.
Toyota, wat graag hierdie byeenkoms sal wil wen, is goed bewapen met hul twee fabrieksingeskrewe Castrol Hilux-inskrywings, wat deur ’n string private Toyota-jaers ondersteun word. Anthony Taylor en die ervare navigator Robin Houghton, wat vier Woenstynrenoorwinnings op sy kerfstok het, is vol vertroue terwyl hul spanmaats, Hein Lategan en Chris Birkin, lyk asof hulle besig is om goed by die span in te skakel.
Lategan, wat aan net sy vierde veldren deelneem, staan voor ’n groot karaktertoets. Hy het die ongenaakbaarhede van veldrenne tot dusver goed die hoof gebied, terwyl Toyota genoeg vermoë in sy twee fabriekspanne het om uiteindelik ’n Woestynrenoorwinning in te oes.
Die amptelike Ford-fabriekspan het ook rede om die byeenkoms met relatiewe goeie hoop te benader. Buiten tandekry-probleempies het die twee Ford Ranger TDCi-tweelintgturbodiesels met hope potensiaal vorendag gekom en die veeleisende toestande in Botswana kan hulle goed te pas kom. Die voormalige wenners Neil Woolridge en Kenny Skjoldhammer vorm ’n uiters ervare komponent van die span, wat in ’n ren soos hierdie ’n waardevolle bate is.
Thomas Rundle, wat in die tweede fabrieksingeskrewe Ford Ranger TDCi jaag, word met die navigator Stavros Yiannakis herenig. Rundle sal ná ’n teleurstellende Nissan Sugarbelt 400-uitstappie gretig wees om weer op dreef te kom, maar staan ook voor ’n strawwe uitdaging in sy eerste seisoen in die vooraanstaande Klas SP.
Wat die private veldrenbrigade betref, word Nissan deur Terence Marsh en Pieter Groenewald in die Regent Racing Navara gesteun. Dié veldrenpaar het dit vanjaar moeilik gehad, maar die Toyota 1000-Woenstynren is hul kos.
Toyota word deur ’n magdom gedugte private jaers ondersteun, van wie ’n hele paar op die podium of ten minste onder die voorste vyf kan eindig. Dit sluit in Hugo en Jaap de Bruyn (Micaren Excel Toyota Hilux), wat gewoonlik ook goed in die veeleisende toestande in Botswana uitblink, die bestendige Chris Visser en Japie Badenhorst (RFS Toyota Hilux) en die gewese buisraammotorjaers Gary Bertholdt en Danie Stassen in die Atlas Copco Toyota Hilux.
George en Sharon Barkhuizen (AIM Toyota Hilux) het ook al baie ondervinding, terwyl die jong Christiaan du Plooy en Henk Jansen van Vuuren (RFS Toyota Hilux) met elke byeenkoms verbeter, en Jaco Swanepoel en Keith Solomon (IDM Cement Toyota Hilux) ook al hul sit in Klas SP gekry het.
Aan die Ford-kant lyk Kobus van Tonder en Riaan Guelpa (Uni Freight Ford Ranger) na die witbroodjies en kom hulle net soos hul Toyota-eweknieë Visser/Badenhorst gereeld met ’n bestendige vertoning vorendag. Pieter Ruthven en Dewaal Boshoff, wat ook aanvanklik in die afdeling vir buisraammotors touwys geraak het, is nog besig om hulle in die Ruwacon Ford Ranger te bekwaam, terwyl Graham Leith en Mike Lawrenson (Transcor Ford Ranger) na ’n goeie uitslag op soek is.
Wat Klas D betref, is Cliff en Louis Weichelt (N1 4×4 Toyota Hilux D4D) die groot gunstelinge om hul vierde agtereenvolgende klasoorwinning van die seisoen te beklink. Die Weichelts is nog ’n span wat vir die Toyota 1000-Woestynren-toestande uitgeknip is, en is aan die voorpunt van ’n sterk Toyota-aanslag.
Dewald van Breda en Johann du Toit (Northam Toyota D4D) het die vermoë om die Weichelt-appelkarretjie te bedreig, terwyl Heinie Strumpher en Hendrik van der Linde oorloop van vertroue ná ’n goeie vertoning in die onlangse Nissan Sugarbelt 400. Johan en Werner Horn sal in die Malelane Toyota Land Cruiser in aksie wees.
Die enigste Nissan in Klas D is die Raysonics Hardbody van Coetzee Labuscagne en Johan Gerber wat tot dusver vanjaar maar ’n triestige tydjie agter die rug het. Die Toyota 1000-Woestynren sal ’n goeie byeenkoms vir dié span wees wat nog nie een van vanjaar se vorige drie renne voltooi het nie.
Toyota-spanne het vanjaar ook die septer in Klas E geswaai met oorwinnings vir die 4×4 Megaworld Hilux-spanne Deon Venter/Ian Palmer en Pikkie Labuschange/Rickus Erasmus, wat in die vorige byeenkoms hul eerste klasoorwinning losgejaag het. Die gunstelinge is egter steeds die verdedigende klas E-kampioene, Jannie Visser en Joks le Roux (RFS Toyota Hilux), wat woestynren-spasialiste is.
Hierdie naweek se byeenkoms kan ook die einde van Diederik en Danie Hattingh (Transcor Toyota Hilux) se teleurstellende vertonings tot dusver vanjaar wees, en hulle het die vermoë om met ’n goeie vertoning vorendag te kom. Wat hul teenstanders betref, maak die baanren-ster Leeroy Poulter met Rob Howie langs hom in die navigatorsitplek hul Woenstynrenbuiging in die fabrieksingeskrewe Ferodo Nissan Hardbody.
Ford se uitdaging is in die hande van Bappy Rubuluza en Khuliele Vakaliza in hul fabrieksingeskrewe Ford Ranger en Louw de Bruin en Riaan Greyling in ’n gewese fabrieksingeksrewe Ford Ranger. Dié twee sal baie waarskynlik in ’n vurige tweegeveg in die uiters mededingende Klas E vasgevang word.
Die voorkant van die renveld behels gehalte sowel as getalle, terwyl die Toyota 1000-Woestynren soos altyd ’n angel in die stert het, wat vanjaar weereens vir opwindende drama aan die einde kan sorg.
bydrae: Charmaine Fortune
