Duplicity

Wie het al opgelet hoe groot Julia Roberts se mond is?

En wanneer sy glimlag flits groot, blinkwit tande by daardie opening uit. Dit kan fataal wees as sy op ‘n sonnige dag vir jou in die buitelug sou glimlag.
Ongelukkig het Julia se glimlag geen uitwerking op Clive Owen nie. Mens sluk swaar aan die idee dat Julia vir Clive verlei het in die dae toe albei spioene vir hul onderskeie lande was. Nou is hulle betrokke in die wêreld van korporatiewe spioenasie en hou van speletjies speel met mekaar en hul werkgewers. Die duo vergeet ongelukkig dat slim sy baas vang.

Duplicity is ‘n tipiese spioenasiefliek. Daar is mooi mense, ontwerpersklere en die agtergrond word gevul met internasionale stede. Anders as normaal is daar ‘n gebrek aan aksie en martini’s, omdat ‘n romantiese paartjie die film se fokus is. Ongelukkig is daar geen vonk tussen Roberts en Owen nie.

Regisseur Tony Gilroy het duidelik probeer om die film slim en gesofistikeerd te maak, maar hy het nie heeltemal geslaag nie. Hiervoor kan mens ook sy twee sterre blameer. Julia Roberts se terugkeer na die groot skerm is nie wonderlik nie, maar aanvaarbaar. Clive Owen moes nooit deel van die rolverdeling gewees het nie.

DuplicityDuplicity is goeie afleiding van die gewone daaglikse roetine vir diegene ouer as 30.

Regisseur: Tony Gilroy
Met: Julia Roberts, Clive Owen, Tom Wilkinson & Paul Giamatti

Lewer kommentaar

Leave a Reply