Het Beloofde Varkensland in Amstelveen in Nederland is ’n toevlugsoord vir varke wat andersins in ’n slagplaas sou beland. Honderde varke geniet hier ’n rustige bestaan wat weeklikse masserings insluit.

Dafne Westerhof, ’n diereaktivis, het hierdie nie-winsgewende aftreeoord op die been gebring. Vir meer as 20 jaar reeds red sy varke deur hulle te koop by slaghuise of hulle oor te neem by telers wat te geheg geraak het aan hulle en hulle nie wil laat slag nie. Sy noem haar vark-familie Familie Bofkont (Gelukkige Familie).

Westerhof ontvang donasies van diereliefhebbers en het talle vrywilligers om haar te help met hierdie voltydse werk. Sy het ook ’n vark-ambulans waarmee sy na die varke in die omgewing se gesondheid omsien en sorg dat hulle mikroskyfies kry.

Het Beloofde Varkensland bied ook werkswinkels aan waar mens meer kan leer van varke, selfs hoe om hulle te masseer. Die varke op die plaas is gewoond aan die menslike besoekers en gaan lê graag vir ’n massering.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar