NG sussies is die bliksem in, want in die kerk is hulle stem deesdae doodstil. Die met die broeke wil hulle nie ´n spreukbeurt gee nie. So sê prof. Christina Landman, hoogleraar in kerkgeskiedenis aan Unisa.
Moet nie vir Landman agter die poedingtafel by die basaar verwag nie. Sy is ´n kwaai kat wat alle vroue wil leer om hul bek te rek. Vrouens mag maar kwaad raak, sê sy. Dis tyd dat hulle hul vervies vir die kerkvaders, dogmas en patriargale kerkstelsels wat intelligente vroue wil stil hou en die tee-partytjie poppies wil verhef tot ikone.
“Vroue se stem is stil, want hard praat is mos onvroulik. In baie kerkkringe word sowaar deesdae dinge gesê soos dat vroue wat buitenshuis werk, die rede is waarom die kerk so agteruitgegaan het. Maar hoe gouer mans besef die dae van gratis catering is verby hoe beter.”
Landman stop nie hier nie, maar hits vroue aan om proaktief te wees en stem dik te maak in hul onderskeie gemeenskappe. Met ander woorde, raak roekeloos.
